1 Petrus 1:1,2
(Die 2020 vertaling word deurgaans gebruik)
Vir die gelowiges was dit bitter moeilik. Almal het teen hulle gediskrimineer en hulle verstoot. Baie gelowiges was só verpletter deur die samelewing waarin hulle gewoon het, dat hulle moed verloor het. Inderdaad was hulle letterlik vreemdelinge in hulle eie land. Sommige plekke was boonop geteister deur bloedige oorloë en mense het hulle lewens as Christen-gelowiges op ‘n baie negatiewe manier beleef. Sommige wou uiteindelik die reg in eie hande neem en dan het dit gebeur dat hulle onbesonne dinge aangevang het!
Dis die jaar 65nC. ‘n Duisend kilometer wes van Asië, in die bose stad Babilon is Petrus besig om ‘n brief te skryf om mense in die verdrukking te bemoedig. Ja, jy’t reg geraai, “Babilon” is eintlik Rome!
Petrus skryf hierdie brief aan die “vreemdelinge van die Diaspora,” ‘n term waarmee Jode verwys het na hulle volksgenote wat oor baie lande buite Palestina “verstrooi” was. Sy lesers was dus uitverkorenes van God oftewel gelowiges. Hulle was “vreemdelinge” want meeste was uitlanders sonder enige politieke status. Hulle was soos bywoners met slegs beperkte verblyfreg en niks meer nie. Die ergste was egter dat hulle ook geestelik vreemdelinge was in ‘n land waar afgode aanbid was.
Ons moet onthou dat die aanbidding van allerhande gode die algemene praktyk was. Almal het daaraan deelgeneem, en as jy nie deel was van die hoofstroom nie, het jy nie getel nie!
Die Joodse geloof was wel erken, maar toe hierdie nuwe “splintergroep” van die Joodse geloof, wat iets heeltemal anders propageer, sy kop begin uitsteek, het almal hulle wenkbroue gelig. Die Jode het hulle totaal verwerp, want hulle was “sektaries” en die ander heidene wou hulle nie aanvaar nie want hulle was “koekoes”! Aanvanklik was hulle nie juis vervolg nie, maar later het mense soos Nero begin om die Christene wreed te vervolg. Daar was egter reg van die begin af baie hard teenoor hulle gediskrimineer deur die Jode, Romeinse owerhede en selfs hulle eie huisgenote!
In Handelinge lees ons duidelik die haatlike venyn wat die Jode teenoor die Christene gehad het. Herhaaldelik was gelowiges uit dorpe gejaag en soms selfs onder klippe gesteek. Selfs Paulus was eenmaal so erg gestenig dat almal gedink het dat hy dood was. Die Jode het ook gereeld die Romeinse owerhede teen die Christene opgesweep, gewoonlik met vals beskuldigings.
Dit was egter in die gewone huishouding waar die grootste verontregting plaasgevind het. Die man was nie alleen die hoof van die huis nie, maar ook die outokratiese baas! Hy het volle seggenskap oor sy vrou, kinders, bediendes en sy slawe gehad. As dit sou gebeur dat een van hierdie ondergeskiktes tot bekering kom, dan het die persoon baie swaar geleef!
Petrus se brief is egter nie slegs bedoel vir gelowiges in die jaar 65nC. nie. Dit is tydloos en vandag kan elke Christen-gelowige steeds troos kry uit hierdie inspirerende brief. Daar word vandag steeds dikwels gediskrimineer teen gelowiges, en daar is selfs miljoene Christene wat swaar gebuk gaan onder wrede vervolging. Selfs in die “Christelike” land, Suid Afrika, waar die sensusopname beweer het dat 70% van die inwoners Christene is, word daar teen gelowiges gediskrimineer op baie vlakke. Kyk byvoorbeeld hoe Christelike Godsdiensonderrig uit ons openbare skole verban is. Slegs enkele skoolhoofde is domastrant genoeg om dit steeds daar toe te pas, maar hulle beweeg op dun ys. Christelike radiostasies moet veg om oorlewing. Die persoon wat sy geloof uitleef word uitgestoot uit die sosiale samelewing. ‘n Rugbyspeler wat dit uitbasuin dat Jesus leef, word uitgejou. In ander lande gaan dit veel erger, en jy word selfs in die tronk gestop as jy oor Jesus durf praat of jou Bybel te voorskyn haal. In sommige Arabiese lande word jou kop afgekap as jy Islam verruil vir die Christelike geloof.
Petrus se brief is gerig aan elkeen wat gebuk gaan onder diskriminasie en vervolging as gevolg van hulle geloof. Vir jou sê Petrus: “Mag genade en vrede in oorvloed aan julle geskenk word!” (1 Pet. 1:2)
Gebed:
Here, vanoggend moet ek dankie sê dat ek nog in vrede kan leef sonder om vervolg te word vir my geloof. As daar die dag teen my gediskrimineer word, sê ek ook daarvoor dankie, dat so ‘n eer my te beurt mag val dat ek vir Jesus mag ly.