Troos in die Verdrukking

16 May, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Troos in die Verdrukking

1 Petrus 1:1-3

VIDEO | OUDIO

Petrus sit diep ingedagte met 'n pen in sy hand: “Van Petrus,” skryf hy op die rol wat voor hom uitgesprei is, “'n apostel van Jesus Christus.”

Hy sug swaar. Hierdie brief moes hy al lankal geskryf het. Hy het al van die pragtige briewe wat Paulus geskryf het onder oë gehad. Natuurlik besef hy baie goed dat hy nóóit so mooi met woorde sal kan speel soos Paulus nie, al kon hy nie altyd mooi verstaan wat daardie hoogsgeleerde man geskryf het nie!

Maar Paulus is dood. Wat 'n tragedie, dat daardie briljante sendeling in die wrede Nero se kloue moes beland! En nou moet hy maar probeer om die gemeentes te troos op sy eenvoudige manier. Dit is seker maar net 'n kwessie van tyd voordat hy sélf ook in Nero se hande gaan beland.

Ja, dit gaan bitter swaar met gelowiges in groot dele van die lande om die Midellandse See - veral in Asië. Hulle is letterlik vreemdelinge in hulle eie land. Sommige van hulle is van Joodse afkoms, ander weer van heidense afkoms. En dan is daar ook nog immigrante in ’n vreemde land. Maar hulle beleef almal die nuwe lewe as Christen-gelowiges op ‘n baie negatiewe manier.

Dit is die jaar 65n.C. ‘n Duisend kilometer wes van Asië, in die bose stad Babilon, waar Petrus agter sy lessenaar sit. Hy wil ‘n brief skryf om hierdie mense in die verdrukking te bemoedig.

Babilon? Babilon is mos nie wes van Asië nie? Nee, dit is nie rêrag Babilon nie, maar eintlik Rome. Maar Rome het so boos geword dat dit onder die gelowiges spottenderwys bekend staan as die bose Babilon!

“Hierdie gelowiges is eintlik vreemdelinge in die wêreld,” dink Petrus terwyl hy die aanhef van sy brief noukeurig beplan. Hulle woon verspreid oor ‘n baie groot gebied, maar hulle het almal een ding in gemeen: hulle is uitverkorenes van God - gelowiges! Vreemdelinge is hierdie mense inderdaad, want in die eerste plek is die meeste van hulle uitlanders wat in die gebied waar hulle woon, geen politieke status het nie. Verblyfreg is die enigste ding waarop hulle aanspraak kan maak - niks meer nie. Hulle is bloot soos bywoners. Die ergste deel is egter hulle geestelike vreemdelingskap. Selfs die burgers van daardie lande het nou al in hierdie geestelike woestyn verval.

“Aan die vreemdelinge van die Diaspora in Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië, hulle wat uitverkies is volgens die voorkennis van God, die Vader,” skryf Petrus moeisaam.

Hy kry 'n salige uitdrukking op die gesig as hy skryf dat die lesers van hierdie brief uitgekies is deur die Gees, afgesonder, besprinkel met Jesus se bloed. “Mag genade en vrede in oorvloed aan julle geskenk word!” sluit hy sy aanhef af.

Petrus sug weer swaar as hy dink aan die omstandighede waarin hierdie lesers leef. Die aanbidding van allerhande gode is die algemene praktyk. Almal neem daaraan deel en as jy nie deel is van die hoofstroom nie, dan tel jy net eenvoudig nie. Ja, die Joodse geloof is inderdaad ‘n erkende Godsdiens en die mense respekteer hulle daarvoor. Die geloof in Jesus word egter gesien as 'n “splintergroep” van die Joodse Godsdiens, wat iets heeltemal anders propageer. Die Jode verwerp hulle totaal en al, want hulle is “sektaries” en die ander heidene wil hulle nie aanvaar nie want hulle is “koekoes”! Aanvanklik was hulle nou nie juis vervolg nie - dit het eers later begin kom.

Nou word daar egter baie hard teenoor hierdie arme Christen-gelowiges gediskrimineer. Die Jode is teen hulle, die Romeinse owerhede is teen hulle, en selfs hulle eie huisgenote draai teen hulle, want hulle kan net eenvoudig nie hierdie “simpele” Godsdiens verstaan nie!

“Ek moet die mense nuwe moed probeer inpraat in my brief,” dink Petrus, “moontlik moet ek begin deur te sê dat God ons 'n nuwe lewe geskenk het deur Jesus se opstanding uit die dood.”

Petrus se eerste brief is egter nie alleen gerig tot gelowiges in die jaar 65nC nie - hierdie brief is tydloos en selfs vandag nog kan elke gelowige troos kry uit hierdie inspirerende brief. Daar word vandag dikwels gediskrimineer teen gelowiges en daar is selfs baie miljoene Christene wat swaar gebuk gaan onder wrede vervolging. Selfs in die “Christelike” land, Suid Afrika, word daar teen gelowiges gediskrimineer op baie vlakke. Godsdiensonderrig is uit ons skole verban. Christelike radiostasies moet veg om oorlewing. Die persoon wat sy geloof uitleef word uitgestoot uit die sosiale samelewing. ‘n Rugbyspeler wat dit uitbasuin dat Jesus leef, word uitgejou. In ander lande gaan dit veel erger en jy word selfs in die tronk gestop of doodgemaak as jy oor Jesus durf praat!

Petrus se brief is gerig aan elkeen wat gebuk gaan onder diskriminasie en vervolging as gevolg van hulle geloof. Vir jou sê Petrus: “Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees!” (1 Pet. 1:2)

Gebed:

Here, vanoggend moet ek dankie sê dat ek nog in vrede kan leef sonder om vervolg te word vir my geloof. As daar teen my gediskrimineer word, sê ek ook daarvoor dankie, dat so ‘n eer my te beurt mag val dat ek vir Jesus mag ly!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026