Transaksie by die Stadspoort

15 November, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Transaksie by die Stadspoort

Rut 4:1-12

Na die nag op die dorsvloer, vertrek Boas baie haastig, kort op Rut se hakke na Betlehem. Hy wil géén tyd verspeel nie! Hy het alreeds die ontstellende nuus verneem dat die ander losser van plan is om sy reg uit te oefen om as losser op te tree vir Naomi, en dit moet hy ten alle koste verhoed. In Betlehem aangekom, gaan gesels Boas met ‘n paar van sy vriende, almal gerespekteerde manne. “Ontmoet my by die stadspoort!” kommandeer hy hulle op.

Wat sou Boas beplan?” wonder die manne, “Dit moet ‘n baie ernstige saak wees as hy ons so dringend wil bymekaar roep!”

Betlehem se stadspoort is ‘n miernes van bedrywigheid. Dit is die plek waar al die groot handelstransaksies plaasvind. Daar is genoeg ruimte vir vergaderings, en dit is ook hier waar die meeste groot besluite geneem word. Daar drom altyd ‘n klomp mense by die stadspoort saam, want dit is immers die enigste plek waar mense deur kan beweeg na hulle landerye buite die stad. En juis om daardie rede besluit Boas om sy plan ten uitvoer te bring hier in die stadspoort. Hier sal hy Rut se voornemende losser ontmoet en met hom ‘n ooreenkoms aangaan. Hy sal sorg dat daar genoeg getuies is om die saak wettig te maak, en dat die kêrel nie later kan omdraai en die ooreenkoms nietig verklaar nie.

Tot op hierdie stadium was dit die vrouens wat al die inisiatief geneem het in die saak. Maar nou kan hulle ontspan. Hulle het immers bereik wat hulle wou, en nou is dit verder ‘n saak vir Boas en die manne.

Boas gaan sit in die stadspoort. Hy weet dat die ander losser nou enige oomblik hier moet verby na sy landerye, en dan sal hy hom konfronteer. Die ander manne kom ook nou een-vir-een daar aangestap. “Wat gaan aan Boas? Dit moet ‘n baie belangrike saak wees!” Maar Boas rep nie ‘n dooie woord oor sy voornemens nie.

En dan kom die ander kêrel aangestap. Boas se hart klop in sy keel: “Here, gee my asseblief die wysheid om die saak reg te hanteer!” bid hy ernstig.

Shalom!” groet Boas vriendelik en beduie vir hom dat hy ernstig met hom wil gesels. “Kom sit hier.”

Nou sit die ander manne regop. “Wat is hier aan die gang?” gons dit soos ‘n swerm bye tussen hulle.

Jy is seker bewus daarvan dat Naomi die stuk grond wat aan haar oorlede man, Elimeleg behoort het, te koop aanbied. Natuurlik het jy die eerste aanspraak daarop, omdat jy haar naaste familie is. Ek het die manne bymekaar geroep sodat jy sommer nou hier die transaksie kan afhandel en die grond koop.”

Die man glimlag breed, so ‘n gelukkie kom nie aldag na ‘n man se kant toe nie.

Jy weet natuurlik dat daar verantwoordelikheid saamkom met die transaksie? Jy sal as losser moet optree. Is jy bereid om dit te doen?”

Ja, natuurlik!” antwoord hy “Natuurlik is ek bereid om haar losser te wees.”

Maar die volgende woorde van Boas gee hom tweede gedagtes: “O, daar is natuurlik ‘n lekker bonus wat hiermee saamgaan: wanneer jy die grond by Naomi koop, kry jy daardie Moabitiese meisie, Rut as vrou daarmee saam. Die grond moet mos in die familie bly, soos jy sékerlik bewus is.”

Hiervoor is die man beslis nie te vinde nie. Dit beteken dat sy eiendom in gevaar kan kom, en dit oor ‘n Moabitiese meisie. Nee, hierdie risiko kan hy beslis nie loop nie. En boonop sit hy dalk opgeskeep met ‘n vrou wat hy nie eers wil hê nie! Hy is spierwit in die gesig as hy dit uitstotter: “Ek dink nie ek kan as losser optree nie. Ek sal liewer nie hierdie transaksie aangaan nie.” En daarmee trek hy sy skoen uit en gee dit vir Boas. “Dé! Vat my skoen. Dit is die kwitansie van ons transaksie! Ek is uit! Die grond is joune, as jy dit wil koop! Ek sien nie kans vir ‘n Moabiet nie!”

Boas glimlag tevrede: “Dankie, dankie Here!” jubel dit in sy hart. Dit gons behóórlik tussen die manne as Boas aankondig: “Julle is almal getuies van hierdie transaksie. Ek koop die grond van Naomi en ek aanvaar ook die verantwoordelikheid om as losser op te tree. Saam daarmee neem ek vir Rut, die weduwee van Maglon as my vrou. Die grond van die oorledene sal in sy familie bly en sy nagedagtenis sal nooit vergeet word nie.”

Die einde van die verhaal is dit baie beslis nie, hierdie is nog maar net die begin. Wanneer die manne hom gelukwens en uit sy sokkies uit seën, het Boas nie eers die vaagste idee van wat dit alles werklik beteken nie. In sy stoutste verwagtinge sou Boas nie kon droom dat uit hierdie huwelik die grootste koning in die geskiedenis van Israel, Dawid, gebore sou word nie. Maar nog véél meer, dat daar so pas nóg ‘n skakel geskep is in die voorgeslag van die Messias, Jesus Christus.

Gebed:

Here, ek staan elke dag maar net verstom wanneer ek sien hoe U voorsien en beplan. Ja Here, dan besef ek dat ek self ook deel van U wonderlike raadsplan is. Help my om uit te voer wat U vir my beplan.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026