Markus 6:53-7:13
Ek wil net herinner dat ons die teks van die nuwe 2020 vertaling gebruik vir ons reeks.
Na die storm land Jesus se geselskap in Gennesaret. Hulle trek deur die hele landstreek en besoek al die gehuggies, dorpe en plase. Dit is net terloops interessant dat Jesus se bediening hoofsaaklik op die platteland plaasvind, terwyl Paulus weer hoofsaaklik in stede gewerk het.
Die nuus versprei baie vinnig en van heinde en verre het mense hulle siekes na die dorpies se markpleine gebring, selfs op slaapmatte, sodat hulle maar net aan “die soom van Jesus se bokleed” kon raak, en elkeen van hulle was genees. Die mense was oop om Jesus te ontvang, en Hy het talle wonderwerke daar gedoen!
Maar daar was ‘n slang in die gras! In skrille teenstelling met hierdie positiewe prentjie, het ‘n klompie baie suur Fariseërs en Skrifgeleerdes saamgekoek. Die hoogsgeleerde Joodse Godsdienstige leiers het hulle mes ingehad vir Jesus, en op elke terrein in die lewe het hulle foutgevind met Hom en het hulle Hom probeer vastrek. Hulle het Jesus en die manne baie fyn dopgehou om te sien of hulle nie dalk iewers ‘n wet sou oortree nie, sodat hulle ‘n stok kon kry om hulle mee te slaan.
En daar kry hulle toe presies so ‘n baie nuttige stok. Die manne het met ongewaste hande geëet! Hoe afgryslik!
Ons is geskok as ons dit lees, want dis mos ‘n onbenulligheid!Vir die Joodse kultus was dit egter ‘n baie belangrike saak. Daar was ‘n magdom voorskrifte wat hulle moes help om te onderskei tussen rein en onrein. Meeste van hierdie goed het nie uit die voorskrifte van Moses gekom nie, maar was gebruike wat deur die jare bygekom het, die sogenaamde “tradisie van die voorouers” waarvan ons lees in Markus 7:3. Vir die Fariseërs was hierdie gebruike net so goed as die Bybel sélf.
Dit is natuurlik goed om gereeld jou hande te was om higiëniese redes. Hierdie voorskrifte was egter om ‘n totaal ander rede. Dit was nie omdat jou hande vuil was nie, maar dit was ‘n ritueel vir geestelike reinheid. Die redenasie was dat jy dalk net per ongeluk aan iets of iemand onrein geraak het op die markplein. Dus moes jy jou hande behoorlik was elke keer as jy van die markplein af gekom het. Selfs as ‘n Samaritaan se skaduwee daar op jou geval het, was jy onrein, al het hy nie eers aan jou geraak nie!
Die motief agter hierdie hele reinheids-ritueel, was om jou aanvaarbaar te maak vir God. En daarom het die Fariseërs so gehamer daarop, en probeer om almal te forseer om dit stiptelik na te kom.
Dit wil amper voorkom asof Jesus doelbewus daarop uit was om hierdie reinheidsvoorskrifte te verontagsaam. Jesus het aan ‘n melaatse geraak - klaar ‘n doodsonde! Hy het toegelaat dat ‘n onrein vrou met bloedvloeiing aan Hom raak – absoluut angswekkend! Maar dit raak nog véél erger toe Hy aan ‘n lyk gevat het, dié van Jaïrus se dogtertjie! Toe kom die walglike daad toe Hy saam met tollenaars en onreines gaan eet het. Maar die kersie op die koek was dat Hy Sy boodskap in ‘n heidense streek gaan verkondig het! Dis om van flou te val!
En nou kom konfronteer die kerkleiers Jesus oor Sy hantering van hierdie gebruike. Eintlik wou hulle probeer bewys dat Hy ‘n slegte leermeester was. Hulle wou Hom in die openbaar probeer verneder het om op hierdie wyse Sy werk te probeer ondermyn. Hulle het verskeie kere reeds met Hom probeer stry oor leerstellings, maar hulle het elke keer tweedebeste gekom. Dalk sou ‘n vernedering werk?
Hulle het egter baie duidelik nie met Jesus rekening gehou nie, want Hy het hulle op ‘n skitterende wyse geantwoord. Nie alleen het hy hulle vraag geantwoord nie, maar hy het ook reguit vir hulle gesê dat húlle fout by hulle skynheiligheid gelê het! Toe het hy ‘n aanhaling uit Jesaja 29:13 geneem uit die Skrif wat hulle so goed geken het: “Hierdie volk eer My met die lippe, maar hulle harte is ver van My af.”
Jesus wou vir hulle sê dat daar ‘n baie groot verskil is tussen opregte Godsdiens wat uit die hart kom, en ‘n oppervlakkige Godsdiens wat bloot lippetaal is. Jy moenie dinge wat deur mense uitgedink is probeer voorhou asof dit God se opdrag is nie. Die ergste is dat hulle God se éintlike gebod verwaarloos het ten koste van tradisies. “Julle versaak die gebod van God en klou vas aan die tradisie van mense.” (v. 8). Hulle het die kuns vervolmaak om voorskrifte te maak wat God se voorskrifte omseil, soos die geval is met die sogenaamde “korban” voorskrif. Hierdie was ‘n slinkse voorskrif waarmee jy jou ouers kon beroof van hulle regmatige deel deur te beweer dat jy dit eintlik vir die tempel bestem het. Na hulle dood kon jy mos weer van plan verander en dit vir jou sélf hou!
Dit het tyd geword om ons Godsdienstige tradisies te herbesin. Selfs die kerk moet weer kyk na haar tradisies. Is baie van die “oorgelewerde gebruike” nie dalk bloot mensgemaakte gebruike nie? Is dit nie dalk dinge wat ons doen bloot uit gewoonte nie?
Gebed:
Here, leer my asseblief om die dinge wat ek in U Koninkryk doen om die regte redes te doen, en nie net uit gewoonte of tradisie nie!