Joël 2:28-32
Die nag langs die knetterende vuurtjie in die bos is hemels mooi en die naggeluide soos ‘n engelekoor. Iewers by ‘n watertjie dreun-sing ‘n paddakoor hulle minnelied vir die mooi meisie-paddas. ‘n Eensame skopsuiltjie koer-koer saggies sy hartsverlange uit en ‘n naguiltjie bid innig: “O Heer, verlos ons tog!”
Ek sak behaaglik agteroor in my stoel en sê: “Dankie Here......” want alles is hemels. Die koel naglug spoel oor my gemoed, en ek verwonder my aan die miljoene-der-miljoene sterre wat die hemelgewelf bedek. Ek soek ‘n paar bekende bakens in die hemelruim, maar dis moeilik want in hierdie suiwer lug is daar baie meer sterre as wat jy normaalweg kan sien.
“Aaaa, daar is hy!” beduie ek vir Mosbolletjie, “die Suiderkruis!” Geleidelik begin die sterre vir my in plek val. Links van die Suiderkruis is twee helder sterre, Alfa Centauri en Beta Centauri. Die eerste een is die naaste ster aan ons, buiten nou vir die son, wat natuurlik ook ‘n ster is. Die ster is omtrent 4,4 ligjare van ons af. Ek kyk dus vier jaar terug in die geskiedenis as ek na hom kyk. Sy buurman, Beta Centauri, is 390 ligjare van ons af. Dit beteken dat wat ek nou daar sien het alreeds 390 jaar gelede gebeur, dié tyd toe Jan van Riebeeck sy historiese voet op die Kaapse grond geplant het. (Terloops, Beta Centauri, een van die super reuse is eintlik'n trippel-ster - drie sterre wat om mekaar draai.)
My verstand wil dit nie mooi verwerk nie, want ek kyk tegelyk 4 jaar én 390 jaar in die verlede in!
‘n Leeu brul diep en baie hard vanuit die rivier se rigting en ruk my terug na die hede.
Joël, die profeet raak ook in vervoering met die tyd, maar die groot verskil is dat hy nie in die verlede inkyk nie maar in die toekoms. Eers is dit net ‘n paar honderd jaar wat hy die toekoms in sien en dan spring sy visie na ’n paar duisend jaar verder, die einde van die tye.
Wonderlike dinge wat Joël daar sien gebeur! Wanneer hy begin skryf, dan vlieg sy gedagtes ‘n volle 500 jaar die toekoms in, na ‘n wonderlike dag, nie baie lank na Jesus se hemelvaart nie. “Ek sal my Gees uitstort op alle mense”, profeteer Joël oor die gebeure van Pinksterdag.
Deur die eeue het baie mense gesmag na die wonderlike teenwoordigheid van God. Slegs enkele mense was ooit in daardie onbeskryflik-bevoorregte posisie om God as’t ware persoonlik te ontmoet. Abraham was een so ‘n bevoorregte mens asook Moses, wat met God kon gesels soos met ‘n Vriend.
Later was die verbondsark die simbool van God se teenwoordigheid. Toe die tempel gebou is, het die mense hier kom aanbid en God se aangesig kom opsoek, want die ark was hier en so ook God se teenwoordigheid.
Die Heilige Gees was natuurlik van altyd af daar en God het dan ook deur Sy Gees sekere uitgesoekte mense bekragtig. Daar was konings, profete en rigters in wie die Heilige Gees kom werk het en hulle het kragtig opgetree. Hierdie mense het wondere gedoen deur die krag van die Heilige Gees!
Nou kom Joël met ‘n baie omstrede uitspraak - dat daar ‘n dag sal kom dat die Heilige Gees nie alleen in sulke baie bevoorregte mense sal wees nie, maar dat Hy op almal sal kom. Dit maak nie saak of hulle man of vrou of kind is nie en dit maak nie saak hoe oud of jonk hulle is nie en of hulle ryk of arm is nie. En die mees omstrede van alles is, dat dit nie gaan saakmaak of hulle Jode is of nie!
En dan gebeur dit presies nét so op Pinksterdag 500 jaar later. Wanneer dit gebeur, onthou Petrus presies wat Joël daardie tyd geskryf het, en hy verduidelik vir die verdwaasde mense wat die dinge aanskou dat Joël alles haarfyn voorspel het. (Hand. 2:16)
Vandag, 2000 jaar later is die Heilige Gees steeds in elke gelowige en Hy gee ons al die krag en wysheid wat ons nodig het as ons Hom maar net toelaat om dit te doen.
Maar Joël sien tegelykertyd ook in die verre toekoms in, wanneer die “vreeslike dag van die Here” aanbreek. Dit dui natuurlik op die finale oordeelsdag by die wederkoms van Christus. ‘n “Vreeslike” dag sal dit inderdaad wees vir elkeen wat nie God se beloftes aanvaar het nie. Maar vir elkeen wat glo sal dit presies die teenoorgestelde wees - ’n dag van uitkoms vir elkeen wat glo. “Dan sal elkeen wat die Naam van die Here aanroep, ontkom,” skryf Joël in vers 32. In die Nuwe Testamentiese konteks beteken dit dat elkeen wat in Jesus glo as Verlosser hierdie wonderlike redding van God sal smaak. Vir diegene wat egter nie glo nie, sal dit ‘n dag wees van droefheid, angs en verskrikking, omdat Hulle God verwerp het!
Die Here leer Sy volk, dat wanneer Hy ingryp, dan verander Hy alles vir diegene wat in Hom glo. Hy verander die oordeel na verlossing en Hy maak die verdruktes die oorwinnaars! Ja, dit is die God wat ons dien - ons kan al ons vertroue op Hom stel. Kom ons dien en vertrou Hom met ons hele wese!
Gebed:
Here, baie dankie vir die wonderlike beloftes uit U Heilige Woord. Dankie vir U Heilige Gees en dankie vir daardie laaste dag waarna ons met groot vreugde kan uitsien!