Handelinge 13:13-52
Paulus en Barnabas het hulle suksesvolle sending-uitreik in Siprus afgehandel en vertrek per skip na Klein-Asië. Hulle bestemming is die stad Antiogië. Hierdie is nie dieselfde Antiogië waar die gemeente was wat hulle gestuur het nie, maar 'n stad in die Romeinse provinsie Galasië, naby die grens van Pisidië. Vir Paulus is ‘n sinagoge ‘n uitstekende beginpunt om die Evangelie te verkondig, want hier is natuurlik bestaande strukture en mense wat spesiaal kom om na ‘n boodskap te kom luister. Hy wag dus tot die Sabbat, en vra vir ‘n preekbeurt voor die Jode.
Gou kom ons agter dat Paulus ‘n spreker is wat mense boei. Hy begin praat oor die geskiedenis van die volk Israel, en dadelik het hy hulle aandag. Hierdie man kén sy geskiedenis! Hy vertel hulle van God se reddingshandelinge deur die loop van Israel se geskiedenis, en van ál die mooi oomblikke wat die volk beleef het, en almal is in vervoering. Dan kom hy by hulle groot held, Dawid. In plaas daarvan dat hy egter uitbrei oor al Dawid se heldedade, verras hy hulle deur te sê dat Jesus direk uit die nageslag van Dawid kom, en dat Hý die Een is waarvan al die profete gepraat het, die langverwagte Messias.
Paulus se gehoor is sprakeloos, en hulle hang aan hierdie begaafde spreker se lippe. Paulus stippel vir hulle die duidelike Goddelike plan uit wat deur die ganse geskiedenis van Israel verweef is, en wat uiteindelik ‘n hoogtepunt met die koms van Jesus bereik.
Hy praat met ‘n groot aantal Jode sowel as nie-Jode wat die Joodse Godsdiens aanvaar het. Paulus deel hulle mee dat hierdie verlossingsboodskap van God juis vir húlle bedoel is. Deur die ganse loop van Israel se geskiedenis het mense met groot verlange uitgesien na die wonderlike dag dat die Verlosser sou kom. Jesus het gesterf, maar Hy het ook opgestaan, en nou is Hy hier! Jesus se lyding en sterwe het beslis nie buite God se raadsplan plaasgevind nie! Dit was baie duidelik beplan! Selfs die profete het daaroor geskryf nog lank voor dit gebeur het. Maar God het verder gegaan en Jesus uit die dood opgewek. My maak dit baie duidelik dat hierdie nie sommer net ‘n storie is nie. Jesus het by verskeie geleenthede ná Sy opstanding aan Sy volgelinge verskyn, almal mense wat nou die lewende bewys is dat hierdie verkondiging waar is.
En dan speel Paulus sy troefkaart: die praktiese toepassing van dit alles. Sy hoorders word nou betrek by al hierdie gebeure, want daar is slegs één manier waarop jy in die regte verhouding met God kan kom, en dit is deur geloof in daardie Jesus waarvan hy vertel het. Nie eens die wet van Moses kan jou in God se oë vryspreek nie, slegs Jesus. Hy is die enigste Een wat vergifnis en vryspraak aan mense kan bied. Hy verklaar almal wat in Hom glo onskuldig, want Hy het hulle sondes voor God uitgewis.
Wanneer die sinagoge verdaag, gons dit deur die ganse Antiogië. “Volgende Sabbat gaan daardie Paulus weer praat - jy mag dit net eenvoudig nie misloop nie! Daardie man is fenominaal!”
‘n Week later preek Paulus weer. Hierdie keer is die hele stad daar. Dit wemel van mense, alle kleure en geure, en almal is opgewonde. Wat gaan Paulus dié slag sê? Maar nie almal deel hulle opgewondenheid nie. Die Jode is suur! Ware Godsdiens is mos slegs vir Jode bedoel, en nou is hierdie spul heidene óók vandag hier! Vir die “heidene” is die boodskap wat Paulus bring soos nektar. Dit is die wonderlikste nuus wat hulle nog óóit gehoor het, en Paulus word spontaan toegejuig. Maar die Jode, wat nóú ver in die minderheid is, slinger die hele tyd allerhande beledigings na die spreker. Hulle is duidelik nie baie gelukkig oor die verloop van omstandighede nie.
Wanneer almal uiteindelik hulle loop gekry het, brom die Jode onder mekaar: “Hierdie man moet gestop word!” Elkeen in die stad wat invloed uitoefen, word bygetrek, en hulle word teen Paulus en sy geselskap opgesweep. Uiteindelik raak die situasie absoluut onhoudbaar vir Paulus-hulle. Einde ten laaste kos dit dat hulle maar hulle goedjies moet vat en loop. Maar alles was nie verniet nie, en hulle laat ‘n groot aantalp opgewonde gelowiges agter, die kern van ‘n splinternuwe gemeente in Antiogië.
Paulus en Barnabas het dalk gevoel asof hulle niks bereik het in hierdie stad nie, maar die saad is gesaai, en dit sou nog welig groei. Ek en jy is God se saaiers. Hy vra nie van ons om lewe te blaas in diegene vir wie ons die boodskap bring nie. Al wat Hy van ons vra, is dat ons maar net die boodskap moet saai. Die Heilige Gees sal die lewe gee. Ek het nou al ‘n baie groot sak saad uitgestrooi deur hierdie dagstukkies. Boonop is daar al meer as 'n duisend van my Zoeloe Bybelstorie-boeke versprei. Ek het nie die vaagste idee hoeveel saadjies opgekom het nie. Dit is egter nie my saak nie, solank ek doen wat God van my vra. My vraag is egter vandag aan jou: het jy al begin saai? Ja, natuurlik is ons nie almal Paulusse nie, maar God verwag ook nie van jou om een te wees nie! Hy vra alleen van jou om binne jou eie vermoë van die blye boodskap van Jesus se verlossing te vertel.
Gebed:
Here, ek dank U dat U my die geleentheid gee om die boodskap van U genade met soveel mense te mag deel. Hou my asseblief getrou daarin.