Die verhaal van Ragab sou om meer as een rede in Rut se gemoed bly draal vir die res van haar lewe. Na ‘n nag wat die twee vroue langs die bouval van Jerigo deurgebring het, wag daar nou ‘n splinternuwe uitdaging op hulle. Die laaste skof van hulle reis na Betlehem het aangebreek, en nou kyk Rut met groot kommer na die silhoeët van berge wat hier voor haar uittroon in die oggendskemering. Vaal, dor klippe is al wat sy sien. “Moet ons rêrag hier op?” vra sy haar skoonma.
Naomi knik haar kop: “Hoe gouer ons in die pad val, hoe beter, voordat die son te geniepsig brand!”
Wanneer die son oorkant die Jordaan sy hittige kop oor die berge uitsteek, is die twee al goed op dreef teen die steiltes uit. Rut voel hoe haar longe al begin brand van die steil klim. As die son sy piek bereik, sak die twee neer in die skadu van ‘n groot rots. Die son het hulle al genadeloos gelooi, en nêrens het Rut eers ‘n ou sweempie van ‘n groenigheid gesien nie. Onherbergsame wêreld! Dankbaar sluk sy van die louwarm water uit die leersak op die esel se rug. “Ons is darem al halfpad na bo,” troos Naomi. Sy het die afgelope dae soveel meer respek gekry vir hierdie skoondogter van haar!
Teen laatmiddag bereik hulle die kruin van die berge. Voor hulle verrys die indrukwekkende stad, Jerusalem. Rut vergaap haar aan die majestueuse mure van die pragtige stad wat gloei in die laatmiddagson. Teen die hange van die steilte wat afloop na die stad, is ‘n klein dorpie en ‘n lowergroen tuin van olyfbome. Naomi besef baie gou dat hulle nie Betlehem voor donker gaan bereik nie, en dan besluit hulle om vir hulle ‘n plekkie onder die olyfbome te gaan soek om die nag deur te bring.
Rut is half teleurgesteld dat dit nou nóg ‘n dag gaan neem voor sy haar nuwe tuiste sien. Maar dit is met groot genot dat sy haar neervlei onder ‘n eeu-eoue olyfboom. Sy is nog méér teleurgesteld om van Naomi te verneem dat hierdie mooie stad nie aan die volk behoort nie. “Ons kon nog nooit die stad verower nie,” verduidelik sy. “Hierdie mure is te hoog en te sterk vir énige weermag. Dit sal ‘n baie slim en sterk koning kos om dit te verower.”
“Maar is Israel se koning nie slim genoeg nie?”
“Nee Rut!” lag Naomi. “Ons volk het nie ‘n koning nie!”
“Nou verstaan ek gladnie, Naomi?”
“Ons het nie ‘n koning nodig nie, want ons God regeer ons. Ja, ons het wel rigters wat die volk leiding gee, maar anders as ál die ander volke, het ons nie ‘n koning nie.”
Met eerste lig, is Rut op en gereed om te gaan. Sy kan nou nie meer wág om in Betlehem te kom nie. Nog voordat die son té hoog sit, sien hulle die gehuggie, Betlehem tussen die randjies genestel. Nou raak Rut baie haastig, maar terselfdertyd knaag ‘n bol senuwees op haar maag. Gaan die mense van Betlehem haar ooit aanvaar?
“Is dit nie Naomi wat daar aangestap kom nie?”
“Dis onmiskenbaar sy! Naomi is terug! Naomi is terug!”
“Maar wie is die vreemde meisie daar saam met haar? En waar is Elimelek dan?”
Die blydskap is baie groot om hulle vriendin en familielid weer na soveel jare in die vreemde by hulle te hê. Dit lag en huil, dit soen, omhels en babbel deurmekaar. En vir eers word Rut totaal geïgnoreer. Dan vra iemand die vraag: “En wie is dit hierdie saam met jou? Stel jy ons nie voor nie?”
“Dis Rut, my skoondogter. Sy is ‘n Moabitiese meisie.”
‘n Ongemaklike stilte sak toe oor die groepie vroue. Niemand weet mooi hoe om hierdie situasie te hanteer nie. Sy is dan ‘n Moabiet! Die vyand!
Wat vir Naomi (haar naam beteken “aangename”) ‘n heerlike herontmoeting moes wees, is nou glad nie so aangenaam nie. Haar skoondogter kry maar ‘n kil ontvangs. Sy weet boonop al te goed dat dit nie die einde van haar ellende is nie. Sy besef baie deeglik dat daar vir haar en Rut nog ‘n baie moeilike pad voorlê. “Moenie my meer Naomi noem nie. Noem my liewer Mara – Bitterheid,” sê sy vir haar vriendinne. Vir Naomi is God se beskikking nog steeds onverstaanbaar. Maar een ding weet sy, dat God nie maar daar ver is nie, maar dat Hy persoonlik besig is in haar lewe. Inderdaad is God nog gladnie klaar met Naomi nie, en beslis ook nie met Rut nie! Boonop voer sy sélf ook ‘n paar planne in die mou! Vir ‘n begin sien sy onmiddellik raak dat die garsoes so pas aangebreek het. En sy het begin dink........
Net so is God beslis ook nie klaar met jou en my nie, en ons durf ook nie gaan stilsit en spreekwoordelik God’s water oor God’s akker laat loop nie. Vra na God se wil vir jou. Wees dan kreatief, en doen iets daadwerklik!
Gebed:
Here, dankie vir hierdie hartroerende verhaal van Rut, en vir die wonderlike lewenslesse wat ek hieruit kan leer.