Markus 11:12-26
Met die gedagtes van die skoonheid en majesteit van die tempelgeboue nog vars in sy gedagtes, stap Johannes en sy maats vroeg die Maandagoggend uit Betanië terug na Jerusalem. Sy Meester is op ‘n missie, dit kan Johannes baie duidelik sien. Hy glimlag as hy sien hoe die palmbome langs die pad gestroop is van hulle takke. Daardie optog gister het ‘n warm gevoel in sy hart gemaak. Watter avonture wag daar nie vandag op hulle nie? Meester het gesê dat hulle weer tempel toe gaan.
Langs die pad staan ‘n vyeboom - snaaks, gister het hy hom nie eers raakgesien nie. Tog só jammer dat dit nie nou vyetyd is nie. Hulle ontbyt was vanoggend maar baie eina-eina, en hy wat Johannes is sou nou kon doen met ‘n paar sappige vye! Blykbaar het sy Meester ook dieselfde idee, want Johannes sien hoedat Jesus reguit na die vyeboom loop en vroetel tussen die blare. “Dis nie vyetyd nie,” wil hy nog vir die Meester sê, maar dan sien hy dat Jesus dit klaar uitgevind het. “Van jou sal niemand ooit in der ewigheid weer vye eet nie,” hoor hy die Meester vir die boom sê. “Dis onregverdig,” dink Johannes. “Hoe kan die Meester dan nou vye verwag buite seisoen?”
Die res van die pad loop Johannes verdwaal in sy eie gedagtes. As hy weer sien, is hulle by die poorte van die tempel. Sy hart gee sommer so ‘n wilde bokspring. Op die tempelterrein is alles vanoggend in chaos. Net waar hy kyk sien hy stalletjies van handelaars: sommige verkoop skape, ander duiwe en ander ruil weer geld om. Johannes stap na een van die geldwisselaars, hy haal ‘n paar muntstukke uit sy sak. Op die een is die gesig van die keiser afgebeeld, en op die ander is daar afbeeldings van Griekse gode. Johannes ril as hy na die munte kyk: “Hierdie goed mag ek nie in die tempel se skatkis gooi nie,” dink hy. Ja, die wet sê duidelik dat jy nie ‘n afbeelding van enige mens of afgod mag maak nie, en hier is dit nou mos duidelik op die munte.
“Wat kos dit om my geld te ruil vir Tirus-munte?” Tirus-munte het nie daardie beelde op nie. As hy hoor wat die wisselkoers is, kry hy amper ‘n hartaanval. “Dis rowery!” snou hy die man toe. “Julle steel arm mense se geld!” Die wisselaar trek sy skouers op. Hy wéét mos dat Johannes daardie geld móét hê, en hy gaan dit nêrens anders kry nie!
Dan hoor Johannes ‘n groot rumoer elders op die tempelterrein. Mense skree en vloek verontwaardig. Johannes se hart gaan amper wéér ‘n slag staan as hy sien dat dit niemand anders as sy Meester is nie, besig om die geldwisselaars en smouse se tafels om te smyt! “Julle maak ‘n rowersnes van God se huis!” hoor hy sy Meester skree. Hy het Jesus nog nooit so kwaad gesien nie.
Johannes se hart krimp ineen as hy ‘n groepie Priesterhoofde en Skrifgeleerdes eenkant sien staan. “Daar broei baie onheilige dinge uit!” sê hy vir homself. “Daardie manne beplan beslis nie ‘n verjaardagpartytjie nie.....”
Daardie aand in Betanië lê Johannes en rondrol, hy kan nét nie slaap nie. Die dag se gebeure maal deur sy kop. “Daardie handelaars buit mense uit! Hulle wéét dat mense dikwels baie ver trek met ‘n skapie om te offer oor Paastyd, en dan is die skaap nie meer in so ‘n goeie kondisie wanneer hy in Jerusalem aankom nie. Dan ruil hulle dit om vir ‘n vet skaap, maar hulle vra ‘n buitensporige prys vir die dier. En die duiwe wat hulle verkoop aan die arm mense - jy kan amper ‘n skaap koop vir die prys wat hulle vra vir ‘n simpele duif!” Johannes is sommer van vooraf omgekrap. Ja, sy Meester het beslis die regte ding gedoen!
Die volgende oggend is dit weer vroeg uit die vere om na Jerusalem te gaan. Meester het gesê dat Hy vir die mense wil gaan preek op die tempelterrein. Dit gaan opwindend wees! Johannes wonder watter wonderlike stories Jesus vir die mense gaan vertel. Hy geniet Jesus se stories, al verstaan hy hulle nie altyd nie. As hulle by gister se vyeboom verby stap, moet Johannes tweekeer kyk. Hy glo nie wat hy sien nie: “Meester! Meester, kom kyk!” Gister nog was die boom lowergroen; vandag is hy kurkdroog uitgedroog tot in sy wortels in, sonder ‘n teken van lewe. “Rabbi, dis mos dieselfde boom wat U gister vervloek het?” Johannes het ‘n reuse vraagteken op sy gesig.
Jesus sien dat die manne gladnie verstaan nie, en dan begin Hy verduidelik: “Julle moet geloof in God hê.” Hy verduidelik dat jy deur geloof berge kan versit, en dat God die gelowige se gebed verhoor. Hy verduidelik verder van vergifnis, en dat God die gelowige se sondes vergewe. Maar terselfdertyd beteken dit ook dat jy diegene wat iets aan jou gedoen het moet vergewe, want hoe kan jy verwag om God se vergifnis te kry as jy sélf nie bereid is om iemand anders te vergewe nie?
“Maar Meester, wat het dit met die vyeboom te doen?” wil Johannes weet.
(Word vervolg)
Gebed:
Here, my geloof is dikwels so klein. Gee my asseblief ook daardie geloof wat berge kan versit.