Tempelreiniging

2 April, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Tempelreiniging

Lukas 19:245-48

VIDEO | OUDIO

Jerusalem is tot oorlopens toe vol. Van heinde en verre stroom pelgrims van regoor die wêreld na die stad om hier by die tempel te kom offer en dan sommer hier te wees om Paasfees te vier. Na Jesus se triomfantlike intog in die stad, gaan soek hulle vir hulle 'n slaapplek iewers buite die stad. Al die familie en kennisse se huise is alreeds vol, dus soek hulle 'n gemaklike plekkie om uit te span in die Tuin van Getsemane. Dis 'n rustige plek en daar is baie beskutting. Hier sal hulle vir die volgende week elke nag kom slaap totdat Paasfees verby is.

Wanneer Petrus sy kop teen 'n olyfboom stut en opkyk na die sterre, maal die gebeure van die afgelope dag weer deur sy kop. Die mense wat “Hosanna, Hosanna!” sing en palmtakke swaai, soos wanneer 'n koning die stad binnery op sy trotse perd. En die skare wat hulle klere in die pad gooi sodat Jesus daaroor kan ry – 'n eerbetoon soos daar sékerlik laas vir Koning Dawid was!

Petrus kry 'n knop op die krop van sy maag wanneer hy weer Jesus se woorde hoor: “Jerusalem, Jerusalem, hulle sal jou met die grond gelykmaak. Van jou tempel sal daar nie één klip op die ander oorbly nie......”

“Hoe is dit óóit moontlik?” wonder Petrus, “daardie manjifieke gebou – wie sal so 'n majesteuse bouwonder wil afbreek? En boonop is dit tog totaal onmoontlik om sulke mure te kan afbreek?”

“Jy het die betekenis van die tyd toe God gekom het om jou te red, nie besef nie!” het die Meester gesê terwyl Hy onbeskaamd gehuil het. Petrus begin sommer weer grens as hy net aan Jesus se hartseer dink.

Vroegoggend, pas na hanekraai roep Jesus die manne nader: “Opstaan manne, die tyd is min! Ons gaan tempel toe!”

Wanneer die dertien manne die tempelplein binnestap, wil Petrus hom vergaap aan die asemrowende bouwerk van Herodus die Grote. Hy wil liewers nie eers daaraan dink dat daardie goddelose man verantwoordelik was vir die prag en praal nie. Maar Jesus se aandag is elders: op die tempelplein is dit 'n gewoel van 'n ander water. Troppies skape blêr verwese in klein kampies en oral waar jy kyk is stalletjies. 'n Man trek aan Petrus se mou en hy wil hom sommer vererg vir die ongeskikte vent. “Ek ruil jou Romeinse muntstukke vir wettige tempelgeld,” probeer die man met Petrus 'n transaksie aangaan, “my ruilfooi is rêrag billik..........”

“Man, ek het g'n geld nie!” snou Petrus hom toe en loop agter Jesus aan.

Petrus merk op dat sy Meester gladnie gelukkig is nie. “'n Rowersnes!” sê die Meester vir hom “Hierdie mense maak van God se tempel 'n rowersnes!”

Petrus skrik as hy na die Meester se gesig kyk. Hy sien 'n woede wat hy nog nóóit by Jesus gesien het nie. “Meester......?”

Tot sy groot skok moet Petrus toekyk hoedat die Meester reguit na een van die handelaars se tafel stap. Hy gryp die tafel en keer dit om sodat jy net munte sien spat.

“Wat dink jy doen jy?” skree die man verbaas op Jesus.

“Uit!” skree Jesus vir hom. “Uit! Daar staan geskrywe: My huis sal 'n huis van gebed wees, maar julle, julle het dit 'n rowersnes gemaak!”

Petrus wil net begin lekker kry want hierdie spul skelms buit die arme mense uit! Maar dan krimp hy ineen, want hy sien hoedat die Meester ook na die volgende tafel stap, dit gryp en omkeer en die man uit die tempelplein uitjaag. Binne 'n kort rukkie heers daar totale chaos op die tempelterrein. Een-vir-een word die handelaars bygekom. Naderhand sien Petrus die Meester buk. Hy tel 'n paar toutjies op en begin om 'n sweep te vleg. Daarmee kom Hy die handelaars by en verwilder hulle.

“Nou soek die Meester vir gróót moeilikheid!” dink Petrus in sy stilligheid. Hy sien al klaar hoe die priesters en Fariseërs woedend in Jesus se rigting kyk en dan met mekaar praat en in Sy rigting beduie. “Hier kom gróót moeilikheid!”

Daardie aand is die manne elkeen besig met sy eie gedagtes rondom hulle kampvuurtjie. Die Meester is iewers in die donker besig om te bid. Niemand sê 'n woord as dit nie absoluut noodsaaklik is nie. Petrus sug swaar, hy voel aan dat hier iets baie lelik aan die broei is.

Petrus merk ook op dat een van die manne, Judas, hom eenkant hou. Iets knaag aan hom en Petrus kan sien dat dit nie net vandag se gebeure is nie. Die man loop met iets baie swaar op sy gemoed. Daar is iets omtrent Judas wat hom nog altyd gepla het, maar hy kan net nie sy vinger daarop lê nie. Petrus ril en skud die gedagtes van hom af. Hy draai op sy sy en raak aan die slaap teen die skurwe stam van 'n stokou olyfboom.

Die vraag is of 'n mens maar mag kwaad word? Die antwoord is 'n gekwalifiseerde “Ja!” Ja, jy mag kwaad word vir iemand wanneer God in gedrang kom. Nee, as dit jou persoonlik raak, dan is die regte ding om te doen, dat jy jou nie sal vererg nie, al is dit ook hóé moeilik. Eenvoudige padwoede het al menige lewens geëis, so bitter onnodig!

Gebed:

Here, plaas asseblief 'n wag voor my mond as ek my wil vererg. Maar gee dat ek nooit sal stilbly wanneer U Heilige Naam in die gedrang kom nie!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026