Tempelbelasting

2 August, 2017
Luister Na Hierdie Dagstukkie Tempelbelasting

Matteus 17:22-27

Belasting is ‘n ding wat jy gewoonlik met ‘n baie swaar hart betaal. As daar dan nou vir jou gesê word dat jy nie nodig het om belasting te betaal nie, op grond van jou herkoms - sou dit nie fantastiese nuus wees nie?

Petrus word gekonfronteer deur die tempelamptenare, toe dit lyk asof Jesus nie tempelbelasting betaal nie. “Maar natuurlik betaal Hy!” het Petrus hulle geantwoord, en dit terwyl hy geweet het dat hulle nie eers die geld het om daardie belasting te betaal nie. Toe verduidelik Jesus vir Petrus dat ‘n koning se seuns mos nie belasting aan hulle pa betaal nie? Hulle is mos vrygeskeld van belasting! “Maar om die vrede te bewaar,” verduidelik Jesus verder, “sal ons maar betaal, want ons wil mos nie die mense aanstoot gee nie.” Petrus wonder nog waar die geld vandaan gaan kom, dan beduie Jesus vir hom om ‘n vis te gaan vang, iets wat hy baie goed weet hoe om te doen! In die bek van die vis sal daar ‘n muntstuk wees. Wat amper na ‘n sprokie klink, word ‘n werklikheid wanneer Petrus die vis uit die water trek, en die muntstuk in sy bek kry, presies net soos wat Jesus voorspel het. Die muntstuk was genoeg om vir hom en Jesus te betaal.

Wat beteken hierdie verhaaltjie vir jou en my vandag? Beteken dit dat ons as Christengelowiges, omdat ons Koningskinders is, nie belasting hoef te betaal nie? As jy so gedink het, soos ‘n groot geestelike in Amerika gedoen het ‘n paar jaar gelede, dan het jy die punt totaal gemis. Wat dit wel beteken is dat Koningskinders (dis nou ek en jy) vrygemaak is in God se Koninkryk. Onthou, ons was eers wetsgebonde, en moes probeer werk vir ons saligheid, totdat Jesus ons die dag bevry het. Wat beteken wetsgebondenheid? Dit beteken dat jy die tien gebooie getrou móét onderhou. Dit beteken ook dat jy die ander wette wat in die Bybel opgeteken is móét nakom, en onder andere dat jy jou tiende vir God se werk móét gee. Dit sou in vandag se terme neerkom op tempelbelasting.

As jy egter vrygemaak is, verval hierdie wette, want Jesus het die Wet kom vervul toe Hy aan die kruis gesterf het. Beteken dit dan nou dat ek gladnie meer enige van die Bybelse wette hoef na te kom nie? Die eenvoudige antwoord daarop is: Nee! Nee, jy hoef nie die wette na te kom om jou saligheid te verdien nie, want as jy in Jesus, die Seun van God glo, gee Hy jou die ewige lewe. Lees maar weer wat in Johannes 3:16; Joh 3:36; Joh 6:47 ens. staan. Dit beteken selfs dat jy nie eers verplig is om jou tiende te gee nie! In Romeine 7:6 lees ons: “Maar nou is ons vrygemaak van die wet, want ons het gesterf en staan nie meer onder die wet waardeur ons gebind was nie.”

Nou weet ek al dat ‘n paar mense my sal wil kruisig oor hierdie stelling. “Hoe kan jy die Wet dan sommer net so by die deur wil uitsmyt!!?” Maar lees eers verder voordat jy my braai.

As ‘n pa vir sy seun sê: “Jy is vry om te doen net wat jy wil, omdat jy my seun is,” sou dit dan beteken dat daardie kind kan mal gaan en maak en breek nes hy wil? Inderdaad het sy pa mos vir hom toestemming gegee om dit te doen! As hy sy pa liefhet, sal hy beslis nie homself te buite gaan nie. Natúúrlik sal hy baie dankbaar wees oor hierdie nuutgevonde vryheid! Juis daarom sal hy op sy manier vir Pa probeer dankie sê. Dalk sal hy vir Pa koffie aandra, of die grasperk gaan sny. Nou is dit egter nie meer “werk” nie, maar ‘n plesier, want hy weet dat Pa gelukkig gaan wees as hy dit doen. Skielik kom hy agter dat die dinge wat voorheen “wette” was, begin sin maak. Hy hou nou by die reëls, al is dit nie noodsaaklik vir sy oorlewing nie. As Pa dan daardie opoffering gedoen het om hom vry te maak van al die wette, dan kan hy mos ook opofferings maak om op só ‘n manier vir Pa dankie te sê. Skielik is Pa nie meer ‘n “baas” nie, maar ‘n liefdevolle Pa en vriend.

In die tweede gedeelte van Romeine 7:6 skryf Paulus: “Nou kan ons dien in die nuwe bedeling van die Gees, nie in die ou bedeling van wetsvoorskrifte nie.” God se Koninkryk werk dus op presies dieselfde wyse as hierdie gesin: Omdat jy God se kind is, hoef jy nie Sy wette na te kom nie, maar natuurlik gáán jy hulle onderhou uit liefde en dankbaarheid. Dit is egter nie omdat jy gedwing word om dit te doen nie, maar omdat jy graag wil. Die wet word dus nou ‘n riglyn vir hoe jy jou dankbaarheid teenoor God kan uitleef.

Wat dan nou van die “Tiende”? Beteken dit ook dat ek dit nie meer hoef te gee nie? Inderdaad! Die Tiende (dalk kan ‘n mens dit Tempelbelasting noem) word nou ‘n Dankoffer, want jy gee dit vrywillig uit dankbaarheid, sodat die Koninkryk van God uitgebrei kan word. Jy gee dit omdat daar ‘n nuwe liefde in jou hart groei, nie alleen teenoor God nie, maar ook teenoor ander mense. En jy wil jou medemens help waar jy kan. Waarom? Om die Here se liefde teenoor hulle uit te leef uit dankbaarheid. Maar dit gaan verder, want wanneer jy liefde uitleef teenoor mense, sien hulle die lig van Jesus in jou skyn. Op hierdie manier verkondig jy so, feitlik sonder woorde die Evangelie. Sodoende word jy ‘n instrument in die uitbreiding van God se Koninkryk. In kort kan ons sê dat wanneer die wet as ‘n plig nagekom word, is dit nutteloos. Dit moet diep uit die hart kom! Eers dán maak dit werklik sin!

Gebed:

Here, ek het U innig lief, daarom probeer ek om te doen wat U van my vra. Daarom gee ek ‘n dankoffer om dankie te sê vir wat U vir my doen.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026