Matt. 17:22-27
Die twaalf manne is alleen saam met die Meester in Galilea, en Sy gesprek met hulle is ernstig. Simon voel sommer aan dat sy Meester vanoggend weer 'n swaar ding op die hart het – Hy het nie verniet die hele nag weer in gebed deurgebring nie.
Dan sê Jesus die ding wat hom yskoud laat word: “Die Seun van die mens gaan oorgelewer word in die hande van mense, en hulle gaan Hom doodmaak.”
Simon vlieg op: “Meester, ek, Simon sal dit nooit óóit toelaat nie!”
Jesus kyk hom hartseer aan. “Petrus.....” sê Jesus saggies, en Simon wens dat die aarde hom wil insluk. Hy raak rooi in die gesig, want skielik onthou hy hoedat Jesus hom nét die anderdag aangespreek het as “Satan” toe hy dieselfde ding kwytgeraak het. Hy wil sy tong afbyt!
Maar skielik tref iets anders hom: hoe het Jesus hom so pas aangespreek? “Petrus!” 'n Paar dae gelede, toe hy daardie belydenis gedoen het dat Jesus die Gesalfde is, die Seun van God, het Jesus vir hom gesê dat hy van nou af bekend sou staan as “Petrus”, die rots. “Op hierdie rots sal Ek My kerk bou!” het die Meester gesê.
En nou, na hierdie verskriklike blaps van hom noem die Meester hom nog steeds “Petrus.” Hy kan dit nie verstaan dat die Meester hom so keer op keer vergewe nie, en dan nog mooi dinge vir hom sê nie. “Wat het ek gedoen om dit te verdien?” wonder hy.
En dan, asof niks gebeur het nie, gaan die Meester voort: “Op die derde dag sal die Seun van die Mens weer opstaan uit die dood.”
Dit is nou al die tweede maal dat Jesus hierdie dinge vir hulle sê en dit maak hulle bitter bedroef. Boonop verstaan hulle dit gladnie.
In stilte vertrek hulle na Kapernaum. Met hulle aankoms by die sinagoge tref hulle die amptenare besig om tempelbelasting in te samel. Petrus voel ongemaklik oor die situasie, want hierdie is maar 'n redelike omstrede kwessie. En dit lyk asof Jesus Hom gladnie steur aan die amptenare nie – Hy kyk bloot anderpad. “Meester, wat moet ons doen?” wil Petrus Hom vra, maar dan bedwing hy homself as een van die manne reguit na hom aangestap kom.
Die man beduie in Jesus se rigting: “Wat van Hom?” vra die man, “betaal julle Rabbi dan nie tempelbelasting nie?”
Petrus sluk swaar – nou sal hy vinnig moet dink: “Ja natuurlik!” sê hy met 'n geforseerde glimlag.
Tevrede draai die man om en loop in 'n ander rigting. Maar Petrus is nie gelukkig nie. “Meester......” begin hy toe hulle die Sinagoge binnestap.
Maar Jesus is hom een voor: “Simon, hoe dink jy: Wie is dit wat belasting moet betaal aan 'n koning? Is dit sy seuns of sy onderdane?”
Nou is Petrus skoon uit die veld geslaan. Maar die antwoord is voor die hand liggend: “Natuurlik die ander mense!”
“Nou ja, dan beteken dit mos dat die seuns vrygestel is van belasting, nie waar nie?”
Daar gaan skielik vir Petrus 'n liggie op: “Natuurlik Meester! Nou verstaan ek.......”
“Maar ons moenie hierdie mense deurmekaar maak nie Petrus, Ek dink ons moet maar vir hulle belasting betaal om hulle tevrede te hou. Ek wil hê dat jy gou vir ons 'n vis gaan vang.”
Nou verstaan Petrus gladnie. “Wat het 'n vis met belasting te doen?”
“Petrus, gaan gooi jou hoek in die see. Die eerste vis wat jy uittrek sal 'n muntstuk in sy bek hê. Bring dit na die sinagoge toe en betaal ons twee se belasting daarmee.”
Petrus is weg op 'n drafstappie om die opdrag uit te voer. “Vissers van mense!” sing hy terwyl hy die hoek regkry om sy “belastingvis” te gaan vang.
Die vraag vanoggend is: Wat dan nou van my “Tiende?" Beteken dit ook dat ek dit nie meer hoef te gee nie? Inderdaad! Die Tiende (dalk kan ‘n mens dit Tempelbelasting noem) word nou ‘n Dankoffer, want ek gee dit vrywillig uit dankbaarheid, sodat die Koninkryk van God uitgebrei kan word, maar ook omdat daar ‘n nuwe liefde in my hart groei - nie alleen teenoor God nie, maar ook teenoor my medemens. Waarom?
Dankbaarheid! Maar verder, wanneer ek liefde uitleef verkondig ek só sonder woorde die Evangelie. Wanneer ek die wet as ‘n plig nakom, is dit nutteloos. Dit moet diep uit die hart kom - eers dán maak dit werklik sin!
Gebed:
Here, ek het U innig lief, en daarom probeer ek om te doen wat U wil hê ek moet doen!