Lukas 1:39-56
Om swanger te wees, maak enige vrou baie opgewonde! Binne enkele ure weet almal daarvan en die Whatsapp groepe gons behóórlik! Arme manlief moet net bontstaan, want sy wil elke liewe tydskrif hê oor babas en swangerskap, en sy wil al wat ‘n babawinkel is deeglik deurtrap. En gewillige (?) manlief moet heelpad saampiekel. En as hy durf wys dat hy dit nie terdeë geniet nie, dan is daar móéilikheid met 'n hoofletter “M”! En nog voordat die boepie behoorlik begin wys, word die magie ekstra geaksentueer en uitgedruk sodat niemand die fout kan maak om dit nié raak te sien nie. Sommige brawes sal selfs hier by agt maande rond met die bolmagie ontbloot rondloop om daardie wonderwerk aan die ganse wêreld uit te basuin!
O, en dan is daar mos die saamgekoekery van al die swanger vroutjies, en al hulle gewaarwordinge word tot vervelens toe met hulle mede-verwagtendes gedeel. Dit kekkel en kloek erger as ‘n klomp broeis henne bymekaar!
Daardie opgewondenheid kan seker nie anders nie, want elke swangerskap is ‘n wonderwerk. ‘n Splinternuwe lewe is besig om te vorm in haar buik, ‘n lewe wat God in die klein ongebore kindjie geblaas het.
Vir Maria is hierdie opgewondenheid nog soveel groter want die klein lewetjie wat sy in haar dra, is die Seun van God, die lang-beloofde Messias waarop haar volksgenote so brandend wag! Sy wil dit uitbasuin, dit uitskreeu aan die wêreld. Maar sy mag nie, want sy is nog nie getroud nie. Die gemeenskap sal haar kruisig!
Sy wil dit deel met iemand wat ook soos sy voel. Dan onthou sy van Tannie Elisabet. Dié het mos óók ‘n wonder-swangerskap nes sy, soos die engel haar meegedeel het! Sy sal beslis van Maria se opgewondenheid verstaan!
Haastig pak Maria haar goedjies en vertrek na Oom Sagaria en Tannie Elisabet se huisie in ‘n klein dorpie in die berge van Judea. Sy is borrelend van opgewondenheid!
Die bejaarde Elisabet sit ongeduldig die dae en aftel want oor nog net drie maande word haar wonder-baba gebore. O blye dag! Dan hoor sy ‘n vrouestem by die deur: “Shalom, tannie Elisabet!”
Op daardie oomblik skop en beweeg die baba in haar moederskoot asof hy die stem gehoor het en opgewonde is oor die besoeker. As sy sien dat dit haar niggie Maria is, wel ‘n wonderlike gevoel op in Elisabet, en skielik is dit asof die teenwoordigheid van die Here so oorweldigend is, dat sy nie anders kan as om in ‘n lofsang uit te bars nie. Vol van die Heilige Gees jubel sy: “Geseënd is jy onder die vroue en geseënd is die vrug van jou moederskoot!” Maria se mond hang oop: “Hoe het sy geweet wat met my gebeur het?”
“Waaraan het ek dit te danke dat die moeder van my Here na my toe kom?” Elisabet is opgewonde en sy babbel voort en vertel vir Maria van haar kindjie wat van pure vreugde in haar beweeg het net toe hy Maria se stem hoor.
Maria is so meegevoer deur hierdie lofsang, dat sy sélf uitbars in ‘n loflief wat spontaan diep uit haar hart borrel: “Ek besing die grootheid van die Here, ek juig oor God my Verlosser, omdat Hy na my geringheid omgesien het,” borrel dit oor die lippe van die jong meisie in ‘n Geesvervulde loflied. Sy sing van die groot dinge wat die Here aan haar gedoen het en sy besing Sy heiligheid. Sy besing die grootheid en almag van die Here, en van Sy groot ontferming wat Hy aan haar bewys het.
Vir drie maande kuier Maria by haar tante, en ek kan my voorstel waaroor hulle gesprekke gegaan het. Natúúrlik is daar baie gewonder en gegis oor die twee babas wat aan die kom was, en die wonderlike vooruitsig. Maar niks op aarde kon hulle voorberei vir wat werklik op hierdie twee ongebore seuntjies sou wag nie. Johannes het ‘n profeet geword wat voluit vir God geleef het. Uiteindelik is hy deur Herodus onthoof, suiwer vir een van die wrede Herodias se gru-grille. En Jesus? Ons ken die pad wat Hy moes loop......
Soos in daardie tyd die verwagting baie groot was vir die koms van die Messias, so is daar vandag ‘n baie groot verwagting onder gelowiges vir die wederkoms van Jesus. Al die tekens sien ons daagliks gebeur, die tekens wat voorspel is deur Johannes en die ander profete. Is daar by jou ook so ‘n borrelende opgewondenheid? Ja, met ‘n swangerskap wag daar dikwels baie swaarkry, rugpyn, naarheid, komplikasies en uiteindelik die ondraaglike pyn wanneer sy kraam. Net so wag daar vir die gelowiges nog baie swaarkry. Ons in KwaZulu-Natal het dit die afgelope week dééglik gevoel toe ons pragtige provinsie totaal verwoes is! Kovid 19 saai wêreldwyd paniek. En hoe nader dit na die eindtyd gaan, hoe erger raak dit nog. Soms voel dit asof ons wil moed opgee. Maar soos die vasbyt met ‘n swangerskap uitloop op ‘n klein wonderwerkie van God, ‘n splinternuwe lewetjie, so wag daar ook ná al die swaarkry op ons die wonderlike splinternuwe lewe in heerlikheid saam met Jesus. Maranatha! Kom Here Jesus, kom gou!
Gebed:
Dankie vir hierdie heerlike inspirerende verhaal Here. Kweek asseblief ook in my die borrelende opgewondenheid oor die wederkoms van my Here.