Filippense 1:27-30
Dis Oktober 2009. Ek kan nie onthou watter jare laas ek die Kruger Wildtuin so droog gesien het nie. In die Krokodilbrug omgewing is daar nie ‘n sprietjie gras nie, slegs kaal rooi grond. Baie van die watergate het totaal opgedroog. Tóg wemel dit van diere hier! Wat hulle vreet is ‘n raaisel, want daar is absoluut niks om aan te knibbel nie. Jy kan ook sien dat hulle swaar trek, want hulle is brandmaer en dis ‘n uitgemaakte saak dat baie van hulle nie die droogte gaan oorleef nie!
Wanneer ons deur hierdie gebied ry, sug Mosbolletjie omdat sy die diere so verskriklik jammer kry. Wat ‘n mens egter nie besef nie, is dat ‘n droogte vir die natuur ‘n siftingsproses is. Diere van ‘n swakker kondisie gaan dit nie oorleef nie en slegs die sterkstes en vindingrykstes kom heelhuids anderkant uit. Dit is die natuur se manier om te sorg dat die diere wat aanteel slegs uit die beste en sterkste gene voortspruit en dat swak gene in die proses weggelaat word. Daar word met ander woorde ‘n trop diere gebou wat in alle opsigte sterk is.
Maar die natuur gebruik ook ander metodes van swaarkry om geharde spesies te kweek. ‘n Voorbeeld is die stryd wat ‘n klein boompie het om te oorleef. Skaars is sy blaartjies oop of ‘n koedoe kom vreet hom stomp af. Dit neem baie jare voordat hy uiteindelik uitstyg bo die vernielsugtige diere. Maar teen daardie tyd het hy ‘n baie sterk wortelstelsel opgebou en hy kan feitlik enige ramp oorleef.
Jy kan baie duidelik sien wat gebeur met diere wat nie aan hierdie soort stres blootgestel word nie. Diere wat in ‘n dieretuin gepamperlang word is ooglopend swak en lamsakkig en wilde bome wat in ‘n tuin beskerm en opgepiep word, het net eenvoudig nie die gehardheid en weerstand wat die wilde boom in die veld het nie.
Met ons geloof gaan dit in ‘n sekere sin presies dieselfde. Iemand wat nooit swaarkry beleef nie, se geloof mag op die oog af pragtig lyk, maar die eerste terugslag laat hulle geloof dikwels ernstig wankel. Swaarkry maak jou geloof sterk. As jy nooit gekonfronteer word met geloofsprobleme nie, dan aanvaar jy maar dat alles reg is. As iemand jou egter kom aanval oor jou geloofsoortuigings, dan word jy gedwing om daaroor te dink en hom daarop te antwoord. Die gevolg is dat jy sélf moet gaan seker maak waarom jy glo soos jy glo, en jy moet gaan antwoorde soek in die Bybel. Nie alleen kry jy so ammunisie nie, maar jou eie geloof word versterk want nou begin jy verstaan waarom jy glo soos jy glo. Toe ek ‘n tyd gelede in ‘n hoek gedruk is om in gesprek te tree met Jehovah's Getuies, moes ek eers deeglik gaan navorsing doen oor presies hoe hulle oor sekere sake glo en wat die Bybel daarvan sê. Vir my was dit ‘n baie verrykende ondervinding, al kon ek hulle nie oortuig nie! Bygesê, hulle kon my óók nie oortuig nie!
Dit is egter nie net konfrontasie wat jou geloof bou nie. Vervolging as gevolg van jou geloof bring jou nader aan die Here en maak dat jy begin stry vir jou geloof. ‘n Goeie voorbeeld hiervan is die aanval wat die Vrydenkers beweging destyds geloots het, om skole wat Godsdiensonderrig gee te probeer dwing om dit te staak. Skielik het daar van oral oor mense begin wakkerskrik en hierdie skole begin ondersteun. Die Vrydenkers (‘n Ateïste beweging) het uiteindelik met baie meer te doen gekry as wat hulle verwag het! Nie alleen kry hulle te make met gelowiges wat deur vervolging versterk word nie, maar die ander faktor is eensgesindheid onder gelowiges. “dat julle in volkome eensgesindheid standvastig saamstry vir die geloof in die Evangelie” - so beskryf Paulus daardie kragtige aksie in Filippense 1:27 .....
Paulus sê in Filippense 1:29 dat jy eintlik bly moet wees as jy swaarkry beleef. “God het julle die voorreg gegee om Christus te dien, nie alleen deur in Hom te glo nie, maar ook deur vir Hom te ly.” Het jy mooi gelees? Dit is ‘n VOORREG om te ly vir Jesus! As alles in jou lewe net goed gaan, dan moet jy begin bekommerd raak want swaarkry is deel van ‘n gelowige se lewe! Dit is soos wat die ure se pynigende oefening deel is van ‘n atleet se lewe. Sonder daardie swaarkry gaan hy nooit êrens kom nie, maar dit is juis die swaarkry wat hom héél bo laat uitstyg. Ek kan getuig daarvan in my eie lewe: dit is nie maklik om elke dag voor die hoenders wakker te word, myself uit die kooi te moet sleep om die werk van die Here te moet doen nie. Dit beteken dissipline, want soms wil ‘n man darem ‘n bietjie inlê. Dit het egter ‘n verdieping in my geestelike lewe gebring wat ek vir niks op aarde wil verruil nie. Elke dag leer ek iets nuut hieruit en kry ek insig wat ek nooit voorheen gehad het nie!
Ek kan dit absoluut aanbeveel dat in plaas daarvan dat jy ‘n dagstukkie lees vir stiltetyd, jy jou eie dagstukkie skryf. Neem ‘n Skrifgedeelte en lees dit biddend deur en skryf dan neer wat die Heilige Gees vir jou uit daardie deel sê. Dit gee jou ‘n totaal nuwe perspektief op stiltetyd! Probeer dit gerus.
Gebed:
Here, dankie vir die swaarkry in my lewe. Dankie dat U my waardig ge-ag het om vir U te kan ly en dat U my geloof so ook daarmee opbou!