Swaar Tye Voor

11 April, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Swaar Tye Voor

2 Timoteus 3:1-9

VIDEO | OUDIO

Jy onthou seker nog dat Paulus eintlik hier besig is om ‘n testament te skryf. In ‘n tipiese testament van daardie tyd, was dit die gewoonte om ‘n vooruitskouing te maak. Daar word bespiegel oor wat die toekoms vir jou, die leser van die testament sou inhou. Sommige testamentopstellers sou dalk voorspel dat die toekoms vir sy leser rykdom, voorspoed en geluk sou inhou. Hy sou groot partytjies voorspel met vroue wat oor hulle voete val voor jou sjarme!

Paulus skilder egter ‘n héél ander prentjie. Hy was immers al deur die lewe en hy het gesien wat vir die gelowige wag. Dit gaan beslis nie maklik wees nie, want die duiwel is soos ‘n brullende leeu wat wil verslind wat voorkom. Daarom waarsku Paulus vir Timoteus en uiteraard elkeen wat hierdie testament lees: “Dit moet jy weet: in die laaste dae sal daar swaar tye kom.” Die laaste dae waarvan Paulus praat, het begin met die opstanding van Jesus en dit duur voort tot met Sy wederkoms. Die “swaar tye” waarvan Paulus praat, het te doene met die mense wat in daardie tye leef. Die wêreld word gekenmerk deur goddelose mense wat al meer en meer afvallig raak. Mense wat gedryf word deur hulle sondige natuur. Hulle was alreeds daar in Timoteus se tyd en hoe nader ons beweeg aan die Wederkoms, hoe erger word hulle dade. Ons lees dit elke dag in die koerante. Dit raak nou al so erg, dat jy te bang is om ‘n koerant oop te maak of nuus te kyk, want al wat jy sien is geweld, roof, verkragting, bloedskande en oorloë. Dag-vir-dag word ons geskud deur walglike goed soos moord op babas en menseroof!

Maar dalk moet ons ‘n slaggie noukeurig deur hierdie verstikkende lysie wat Paulus hier aframmel gaan lees. Selfsug, geldgierigheid, grootpraterigheid, verwaandheid, beledigings! En dan is dit maar die begin! Ek het al klaar net in hierdie eerste paar gruwelike sondes iets van myself opgetel. Liefdeloosheid, onversoenlikheid - nou begin dit baie persoonlik raak! Is daar dan waarlik iets van hierdie walglike wêreldse sondigheid ook in my? Ek dink ‘n mens moet eers weer ‘n slag gaan selfondersoek doen met Paulus se lysie voor jou, voordat jy die wêreld wil veroordeel. Vir séker moet ons natuurlik dan ook weet dat God genadig is en dat Hy ons hierdie sondes vergewe het, maar terselfdertyd moet my lewe as gelowige sodanig wees dat ek al meer en meer wegbreek van die ou sondige natuur en nader aan God se wil begin leef.

Ons moet dan ook onthou dat daar in “die laaste dae” wel ook al hoe meer ‘n skyngodsdiens sal wees (v.5). Dit is mense wat elke Sondag in die kerk sit en saam met ons aanbid met ‘n vroom gesig, maar wat innerlik korrup is en nie waarlik glo nie. Paulus waarsku ons teen sulke mense en hy sê dat ons van hulle af moet wegbly want deur hulle skyngeloof en mooi praatjies kan hulle gelowiges wat nie sterk staan in die geloof nie, baie maklik verlei en verwar!

Dit is interessant dat die voorbeelde wat Paulus hier noem van die metodes wat hierdie dwaalleraars met hulle skyngeloof gebruik, vandag steeds gebruik word. Hy noem hier van mense wat liggelowige vroue in hulle mag kry. Dink hier maar aan die talle kultiese geloofsgroepe wat oor die afgelope klompie jare ontstaan het en veral vroue verlei het om in afsondering en selfs onsedelikheid saam met hulle te leef en hulle lering na te volg. En dit alles in die naam van “suiwer geloof!” In Paulus se tyd was vrouens natuurlik grootliks ongeletterd en hulle was dus baie maklike slagoffers van hierdie mense wat gesinne binnegedring het. Vandag moet ons steeds sorg dat elke lid van ons gesin toegerus is met die kernwaarhede van die Christelike geloof om hulle van jongs af weerbaar te maak teen die talle dwaalleringe wat soos golwe spoel oor ons kinders. In die skole word hulle blootgestel aan allerhande kultiese verwarrings. Toe ek en jy op skool was, was almal Christene, ons maats en die onderwysers. Vandag is dit baie anders en ons kinders kry daagliks te doene met Hindoeïsme, Islam, Boeddhisme en tradisionele Afrika-godsdiens. Al hierdie dinge het ‘n invloed op die kinders, veral as die onderwyser dalk óók nog ‘n Hindoe of iets soortgelyk is.

Nou gaan ek dalk ‘n ding sê wat jou sal skok: Dankie tóg dat Godsdiensonderrig in skole afgeskaf is! Maar wag, ek wil hierdie stelling eers kwalifiseer: dink net wat sou gebeur as ‘n Hindoe of ‘n Moslem onderwyser ‘n Godsdiensklas moes waarneem. Die gevolge sou skrikwekkend wees! Godsdiensonderrig moet by die huis gebeur! Dit is dáár waar ons kinders van Jesus moet leer en van God se genade asook van wat ware geloof beteken. En dit is elke ouer se dure plig om toe te sien dat sy kinders formele onderrig by die kerk kry. Die meeste gemeentes het ‘n span toegewyde jeugleiers wat gedurig opleiding kry en wat die kinders ‘n gebalanseerde, suiwer geloofskennis gee. Maar die kerk se plig is nie genoeg nie! ‘n Ware geloofslewe van liefde kan alleen in die ouerhuis geleer word deur die voorbeeld wat ek en jy as ouers vir ons kinders stel.

Gebed:

Here, as ek deur Paulus se sondelys lees, dan sien ek nog so baie dinge wat verkeerd is in my lewe. Vul asseblief my ganse lewe met U Heilige Gees en help my om van al my sondes ontslae te raak!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026