Hebreërs 2:5-18
Oopmond sit ek en luister, plat op die grond, en ek drink elke woord in van die drie ou manne wat so heerlik sit en gesels oor die “ou dae”. Oupa is daar en Ouma se twee broers, Oom Pieter en Oom Abe. Die drie het saam opgegroei in Machadodorp en was saam in die konsentrasiekamp. Saam-saam het hulle baie kattekwaad aangevang, en saam-saam het hulle die bitter swaar van die lewe deurgemaak. Later het al drie treindrywers geword in Waterval Boven. Hulle is nou al drie afgetree, en ek ‘n klein seuntjie wat net eenvoudig nie genoeg kan kry van hulle stories nie!
“Onthou jy nog”, vertel Oupa, “toe die Engelsman saam met ons wou gaan turksvye pluk?”
“Ja”, lag Oom Abe terwyl sy ronde maag so op en af skud van pure lekkerkry, “hy wou mos weet hoe ‘n mens die goed by die huis kry.”
“En toe”, tjip Oom Pieter in, “en toe vertel ons hom dat jy dit voor by jou hemp ingooi!” Die drie manne skud soos hulle lag - die prentjie nog helder en duidelik voor hulle. Die arme “Engelsman” het glo vir dae lank gesukkel om die dorinkies uit sy maagvelle te kry - die einde van hulle kortstondige vriendskap.
Ja, dit was baie jare gelede, maar ek onthou baie van hulle stories vandag nog byna woordeliks - juweeltjies uit my kleintyd. Mense is lief om stories te vertel, van hoe swaar hulle grootgeword het of van die avonture wat hulle beleef het. Van die stories wat Oupa vertel het, het selfs afgespeel tydens die Boereoorlog, waar hy as seuntjie in die konsentrasiekamp in Jacobs naby Durban was. Die dinge wat hulle daar as kinders aangevang het laat jou hare regop staan - eendag sal ek dalk daaroor skryf. Snaaks dat hulle altyd vertel het van die dinge wat nie vir jouself ‘n verleentheid was nie. Tóg was daar een of twee storietjies wat die drie manne met groot smaak vertel het, waar een van hulle in ‘n groot gemors beland het, maar ek kon nooit uitvind wie daardie een was nie, want hulle het altyd gestry oor wie die skuldige nou éintlik was. Mens praat nie graag oor die dag toe jy ‘n gemors aangevang het nie!
Die Hebreër-skrywer vertel ook hier ‘n verhaal - die verhaal van die mens, en dan vertel hy die verhaal van Jesus,. Soos wat jy twee transparante bo-oor mekaar plaas en dan een enkele prentjie sien, so plaas hy die twee verhale bo-oor mekaar sodat dit een verweefde verhaal word.
“Ja, dit was die goeie ou dae!” het die ou manne dikwels gesug as hulle gedagtes ver teruggaan. Maar die “goeie ou dae” was dikwels ‘n hunkering wat uitgesien het na iets beter - dit was dalk vet pret, maar dit was ook bitter swaar tye. Wat ons nou het is wel baie beter, maar ons sien met groot verwagting uit na die volmaakte.
Die skrywer se verhaal begin met ‘n toekomsperspektief, waar alles volmaak sal wees, en waar alles en almal aan Jesus onderwerp is. ‘n Tyd wanneer selfs die dood nie meer bestaan nie en al God se kinders saam met Jesus regeer oor die heelal. Die gordyn is net op ‘n klein skrefie oop, maar dit wat ons daardeur kan sien maak jou opgewonde!
Ons moet egter besef dat daardie vooruitsig nooit moontlik sou kon wees as dit nie was vir die opoffering wat Jesus moes maak nie. Die vernedering wat Hy, die Skepper van die heelal, moes deurmaak om as mens hier op aarde te kom leef - Hom as’t ware met die semels te meng. Hy het ‘n verskriklike lyding deurgemaak, en moes selfs die vervloekte kruisdood sterf. Inderdaad is hierdie sterwe van Jesus ook die tragiese lot van elke mens se lewensverhaal. Hy, die Seun van God, het as’t ware ons elkeen se welverdiende ondergang namens ons kom ervaar, want Hy het vir almal gesterwe.
Maar Jesus se opstanding, hemelvaart en verheerliking verander die koers van ons armsalige mense se lewensloop onherroeplik. Omdat Hy gely het, bring dit ons lot tot volmaaktheid, en deur Sy bittere lyding word ons opgeneem in die gesin van Jesus. Dit beteken dus dat ek en jy nou Jesus se broers en susters is!
Deur die eeue het die mens tevergeefs probeer om soos God te word. Daarom het Jesus neergedaal en eerder ‘n mens geword, en sodoende daarin geslaag om die kragte wat ons lewensverhale beduiwel te vernietig. Ons word só uit die slawerny van uitgediende wettiese godsdiens bevry. Dikwels het ons probeer om ons eie brouwerk reg te maak, maar tevergeefs! Die sonde het óns oorwin. As Hoëpriester het Jesus Homself geoffer vir ons sondes en dit vir altyd weggeneem.
Ja, Jesus is sélf ook versoek! Hy het sélf gely en daarom weet Hy presies wat ons deurmaak! Hy is dus gekwalifiseer om ons te help om daardie versoekings en lyding in ons lewens te hanteer. Vertrou dus op Hom, want Hy help ons om te volhard deur versoekings en beproewings, en Hy sien toe dat ons wankelrige lewensverhaal ‘n gelukkige einde het!
Gebed:
Here, dankie dat ek my lewe aan U kan toevertrou. Dankie dat ek reeds kan weet dat daar ‘n gelukkige einde is!