1 Petrus 3:18-22
Ek het al menigmaal die vraag gekry of geeste, spoke, goëlery en al hulle neefs en niggies ooit ‘n werklikheid is? In die Bybel word daar dan van spoke geskryf! Toe Jesus op die water na die dissipels toe aangeloop gekom het, was hulle vas oortuig daarvan dat Hy ‘n spook was, en hulle het gebewe van angs!
Ek was nog maar in die laerskool, toe een van die plaaswerkers op ons plaas by Waterval Boven eendag vir my vertel het van die afkop-man wat snags hier op ons eie plaas rondsluip. Die sweet begin sommer klaar op sy voorkop uitslaan by die blote gedagte daaraan! “Hy ry op ‘n perd,” vertel hy my met verskriklike ontsag vir hierdie vreesaanjaende wese, “en dan klap hy sy sweep dat jy net sien vonke spat!” By die blote gedagte krimp hy inmekaar van vrees. “En dan verdwyn hy sommer nét so!” Die arme man kry skoon die papperellekoors!
“En jy het hom sélf, persoonlik, met jou eie twee oë gesien?” Ek is vol verwondering.
“Nee, nog nooit!” Hy is skoon verontwaardig. “Ek loop nie in die nag rond waar spoke is nie!”
Selfs op my jeugdige ouderdom glo ek nie sy storie nie, maar dit maak ‘n nuuskierigheid in my wakker. “En wat van die Tokkelossie? Het jy hom al gesien?”
Hy kry amper ‘n floute! Dáárdie man se naam mag nie eers uitgespreek word nie! Hy is bitter gevaarlik! Nee, hy het ook nog nooit die Tokkelossie gesien nie, en hy wil ook nie! Maar mens weet nooit, jy kan nie te versigtig wees nie…..
Ek het die gedagte in my kop rondgemaal en sommer dadelik begin om my eie spookstorie op te maak. Daardie selfde naweek nog kom twee niggies uit Belfast, twee Bothatjies vir ons kuier, en ek wou my nuutgevonde talent op hulle uitprobeer. Ek doen my voorbereiding deeglik en in die ou “spookhuis” prakseer ek ‘n “spook” van koerantpapier wat met ‘n katrolstelsel opstyg.
Toe dit begin skemer word, vertel ek hulle eers baie dramaties van die angswekkende spook op die plaas. Natuurlik byt hulle baie langtand aan my storie. Maar dan bied ek aan om hulle persoonlik die spook te gaan wys. In die halfdonker kom ons by die grillerige ou huis aan, en daar laat ek my koerantpapier-spook verrys. Al gillende van angs het hulle huistoe gehardloop terwyl ékke natuurlik kraai van pure lekkerkry!
In 1 Petrus 3:19 kry ons so ‘n ou klein kykie in die angste van die mense van daardie dae. Petrus praat van die “geeste in gevangenskap.” Ons kan eintlik maar net afleidings maak oor hierdie vreemde sinnetjie wat hy hier skryf. Ons moet onthou dat daar etlike boeke geskryf is in daardie jare wat deels fiksie, deels geskiedenis was, soos byvoorbeeld 1 Henog. Hier word onder meer geskryf van die “hemelwesens” waarvan ons in Genesis 6:1,2 lees. Die straf vir hulle verkeerde dade sou wees om êrens in ‘n onderaardse gevangenis opgesluit te wees. Mense het ‘n heilige vrees gehad vir dáárdie hemelwesens, want as van hulle dalk per ongeluk ontsnap, was daar gróót moeilikheid!
Spoke en bose geeste was vir die mense van daardie tyd ‘n groot werklikheid. Soos ons reeds gesê het, het selfs Jesus se intieme leerlinge ook aan spoke geglo, en hulle was baie bang vir hulle!
Petrus kom nou en besweer ons grootste vrese. Jesus Christus het nie alleen vir ons sondes gely en gesterf nie. Hy het veel meer as dit gedoen. Dikwels dink ons aan Jesus slegs as die Verlosser, die Onskuldige wat die sondes van die skuldiges op Hom gedra het. Ja, natuurlik is dit waar, maar Hy het ook die dood en die hel oorwin. Toe Hy die dag uit die graf opgestaan het, het ‘n hele nuwe wêreld vir alle gelowiges oopgegaan. Maar daar is nog veel meer: Hy het nie net die dood oorwin nie, maar ook die bose. Petrus wil nou vir hierdie mense wat so vreesbevange is oor die onbekende, die “geeste in die gevangenis” wat hulle enige oomblik kan verslind, kom sê dat Jesus selfs hierdie “geeste” finaal oorwin het.
Vandag beteken dit dan ook vir my en jou dat Jesus selfs die “spoke” in ons lewens oorwin het. So ook die Tokkelossie en enige ander vorm van boosheid. Ek wil my nie uitlaat oor die vraag of daar wel sulke goed soos spoke is nie, want dit sal ‘n lang bespreking uitlok waar ons maar net kan bespiegel. Die feit is egter dat geen gelowige ooit ‘n vrees hoef te hê vir hierdie sogenaamde bose “wesens” nie, want daar is in die eerste plek géén mag of krag of bose engele of spoke of wat ook al wat buite die heerskappy van Jesus Christus staan nie.
Petrus se hantering van die vrees vir die “geeste in die gevangenis” van gelowiges van daardie tyd, wys vir ons hoe ons vandag soortgelyke vrese moet aanpak. Vir baie mense is dit ‘n realiteit, maar die Bybel is baie duidelik daaroor – die bose is oorwin en ons hoef geen vrese vir die bose te hê nie.
Is spoke nie dalk tog ’n werklikheid nie? Ek sal nie weet nie! Die feit is egter dat ons vir niks bang hoef te wees nie! Ons moet eerder die blye nuus bring dat Christus ál hierdie bose dinge oorwin het. Hy is in beheer van alles en almal!
Gebed:
Dankie Here, dat ek rustig kan slaap sonder die vrees van enige bose magte. Al gaan ek ook deur die dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie, want U is met my!