Sout en Lig

14 February, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Sout en Lig

Matteus 5:13-16

"Julle is die sout vir die aarde!" Johannes word teruggeruk na die werklikheid as Jesus stip na hom kyk.

"Ek is sout?" wonder Johannes onwillekeurig.

"As die sout verslaan het, hoe kry mens dit weer sout?" Dit sit Johannes aan die dink. Wat presies bedoel die Meester met hierdie stelling? Wat het sout nou te doen met al hierdie mooi dinge wat Hy so pas gesê het oor dié en dáái wat so geseën is? Hy voel half skuldig, want die Meester het gesê dat diegene wat rein van hart is asook die sagmoediges en die vredemakers seën sal ontvang. En hy sien homself nou nie juis as iemand wat hierdie gawes het nie. En nou noem die Meester hom "sout van die aarde!"

Sout is 'n wonderlike ding, jy kan so baie daarmee doen! Johannes se gedagtes dwaal alweer, en hy glimlag oor Jesus se stelling. As visserman is hy maar ál te deeglik bewus van die gebruike van sout. Sonder die preserveerkrag van sout, sal 'n vis baie gou vrot wees. Maar as jy hom deeglik insout, hou hy vir maande! En hoe wonderlik werk sout nie, wanneer jy jouself per ongeluk raaksny met die vuil vismes. Jy vryf bloot 'n bietjie sout in die wond. Dit brand soos vuur, maar dit keer die infeksie. Nie eers gepraat van die smaak wat sout aan kos gee nie. Daarsonder smaak jou kos na niks!

Maar wat het sout dan nou te make met hom as die Meester se volgeling? Dan skielik gaan daar 'n liggie op vir Johannes: "Maar natuurlik! Ek moet dieselfde eienskappe as sout hê!"

Johannes begin al meer besef hoe meesterlik Rabbi Jesus doodgewone dinge gebruik om waarhede aan hulle tuis te bring. Natuurlik is sout 'n preserveermiddel om kos te bewaar sodat dit nie tot niet gaan nie. Sy taak as Jesus se dissipel is mos ook om met Jesus se boodskap, mense te bewaar sodat hulle nie verlore gaan nie. As hy mense na Jesus bring, word hulle gered!

En die sout wat 'n wond genees? Jesus se genesende krag is soos sout wat die infeksie keer. Nie net om siektes te genees nie, maar met die wonderlike waarhede wat Jesus hulle leer, waarhede wat jou by God uitbring en jou siel genees.

Die derde een is natuurlik die lekker een. Jesus se woorde gee heerlike smaak. En as jy lewe soos wat Jesus jou leer om te lewe, dan gee jy ook smaak aan 'n smaaklose wêreld.

Johannes word weer teruggeruk na Jesus se preek: "Julle is die lig vir die wêreld. 'n Stad wat op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie."

Johannes proes van die lag, terwyl hy aan Simon stamp: “Hoe steek jy dan nou 'n stad op 'n berg weg?”

Dit lyk asok Jesus sy gedagtes lees: "Mens steek nie 'n lamp op en sit dit onder 'n emmer nie. Jy sit dit op 'n lampstaander sodat die lig kan versprei." Johannes voel eintlik klein as Jesus Sy blik op hom vestig: "Laat julle lig so voor die mense skyn dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik."

Johannes voel 'n lamheid oor hom kom. 'n Koue rilling trek by sy ruggraat af. "Maar Meester, dit is amper onmoontlik!" wil hy dit uitblaker, maar hy besluit om liewer stil te bly. Hy dink aan sy opvlieënde humeur, hoe gou hy kan kwaad word. Hy dink aan al die kere wat hy en sy boetie Jakobus al heftig aan die stry geraak het. Dis mos nie die manier om God te verheerlik nie? Wat moet die mense van hom dink wanneer hulle so baklei?

"Laat jou lig skyn, Johannes....." eggo Jesus se woorde in hom. "Hoe kry ek dit reg?" huil Johannes in sy hart. "Elke keer, nes ek dink dat ek dit regkry, struikel ek weer!" Boonop is ek nog so bitter jonk!

Moenie jou lig onder ‘n emmer wegsteek nie Johannes...”

Dit sou eers drie jaar later wees wat Johannes die geheim van oorwinning sou ontdek, die dag toe die Heilige Gees oor hulle uitgestort is. En hoe wonderlik helder het Johannes se lig nie daarna geskyn nie!

Vandag wil ek en jy ook dalk so wegkrimp soos Johannes, want dit klink na so ‘n onbereikbare taak om ons lig waarlik te laat skyn. Ek is te jonk, te oud, te min kennis, te skaam…...

Laat die Heilige Gees toe om deur jou te werk. Vertrou Hom, en stel jouself tot Sy beskikking.

Hoe laat ek my lig skyn? Eerstens deur positief die liefde van Jesus en die blydskap wat Hy jou gee uit te straal in hartlikheid, vriendelikheid en opregte omgee. Vir ‘n begin hoef jy absoluut niks verder te doen nie. Wys net vir almal rondom jou hoe jy Jesus in jou lewe geniet. Dis mos nie ‘n straf om ‘n kind van God te wees nie, dit is ‘n wonderlike heerlikheid!

Die res sal outomaties volg. Hoe meer jy dit geniet om hierdie blydskap uit te straal, hoe meer sal jy selfvertroue kry om ‘n ware lig vir Hom te wees.

Gebed:

Here, ek wil my lig helder laat skyn, help my daarmee asseblief.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Stille Nag
21 May, 2024
Die Ware Jesus?
20 May, 2024
‘n Omgee-gemeenskap
17 May, 2024
Wát ‘n Wonderwerk!
16 May, 2024
Geloofsontploffing
15 May, 2024