2 Samuel 11:5-15
Batseba is ‘n baie bekommerde vrou - vir die afgelope weke al loop sy met hierdie angs in haar. Dan stap sy oor na haar vriendin - sy móét net raad kry en sy is te bang om haar las met enigiemand anders te deel. “Ek dink ek is swanger!” stort sy haar hart uit voor haar vriendin.
“O, maar dit is wonderlike nuus! Urija gaan so bly wees!”
“Nee, jy verstaan nie, Urija was nie hier nie! Hy was besig om oorlog te maak.....”
“Wie is dit dan?” wil haar vriendin geskok weet. As dit nie Urija is nie, dan beteken dit mos dat Batseba rondgeslaap het en dit sou sy nooit van hierdie meisie verwag het nie!
En dan kom die antwoord wat haar nog dieper skok: “Koning Dawid!” Batseba bars uit in ‘n stortvloed trane. Sy vertel al snikkend van daardie oggend toe Dawid haar laat kom het, en dat die een ding tot die ander gelei het, en dat hulle toe........
“Wat gaan jy maak? Jy kan dit nie vir altyd wegsteek nie - jy sal hom móét gaan sê!”
Om ‘n oudisie met die koning te kry, is al klaar moeilik genoeg. En nou moet Batseba ook nog verduidelik waarom sy dan nou so dringend privaat met Koning Dawid wil praat. Al die vrae maak haar stapelgek en sy durf nie laat uitglip wat die éintlike doel vir haar besoek is nie. Maar uiteindelik word sy ingebring deur ‘n paar knorrige amptenare.
Dawid se hart gee sommer weer ‘n paar wilde bokspringe as hy die beeldskone vrou voor hom sien staan. “Laat ons vir ‘n rukkie alleen,” beveel hy die manne, en dan nooi hy haar om hier by hom te kom sit.
“Daar is ‘n probleem,” begin sy, en dan bars sy weer in trane uit. Haar lyf ruk soos sy haar smart en angs uitsnik: “Ek is swanger. En Urija was nie eers naby my nie!”
Dawid word yskoud. Dit kan net één ding beteken - hy is die pa! “Was daar niemand anders nie?”
Wanneer Batseba met rooigehuilde oë uitstap, begin Dawid se kop oortyd werk. Hoe gaan hy hierdie ding hanteer? As iemand moet uitvind wat hy aangevang het, gaan dit vir hom oneindige groot probleme veroorsaak. Urija mag nóóit hiervan te hore kom nie! Hy is een van sy beste soldate en hy durf nie hier moeilikheid kry nie! Skielik gaan daar vir Dawid ‘n liggie op: “As ek net vir Urija hier kan kry! Dan sal hy mos weer saam met sy vrou slaap en hy sal dink dat dit sy kind is! Dawid, jy is ‘n genie!”
Joab kry sommer nog daardie selfde dag die boodskap van Dawid: “Stuur Urija na my toe.”
“Wat het jy aangevang?” wil Joab laggend weet wanneer hy die boodskap oordra, “Toemaar, ek weet jy doen meer as jou deel - dalk wil die Koning jou ‘n promosie gee. Sterkte!”
Urija is skoon uit die veld geslaan as Koning Dawid so vriendelik is met hom. Hy word uitgevra oor wat op die gevegsfront aangaan en hoe dit met Joab gaan en hoe die oorlog vorder. En dan word hy huistoe gestuur om ‘n paar dae te gaan rus. Hy kry selfs ‘n geskenk van die Koning af! Urija weet nie mooi hoe om dit te hanteer nie…...
Die volgende oggend kry Dawid die ontstellende nuus: Urija was nooit huistoe nie! Hy het sommer die nag voor die paleisdeur geslaap. Hy word weer ingeroep na die Koning: “Waarom is jy nie huistoe nie? Ek het jou mos ‘n paar dae verlof gegee?”
Maar Urija wil nie byt vir hierdie een nie - hy is ‘n toegewyde soldaat en hoe kan hy dan nou weet dat al sy makkers besig is om hulleself af te sloof vir hulle volk op die slagveld terwyl hy rustig by sy vrou kuier? Nee, dit werk nie só nie! Hy sal liewer maar weer teruggaan en veg, want dit is waar hy hoort.
Dawid is desperaat - wat gaan hy doen? Hy probeer elke truuk in die boek - beveel Urija om nog ‘n dag aan te bly - nooi hom selfs uit vir ‘n ete en dan maak hy die man dronk. Maar selfs in sy dronkenskap is Urija se pligsbesef só groot, dat hy weier om ‘n nag by Batseba deur te bring!
Dawid is radeloos! Nou is daar slegs een oplossing - hy sal van Urija moet ontslae raak! Met bewende hande skryf Dawid ‘n brief aan Joab. Urija se doodsvonnis word hierin uitgespel, want Joab moet hom héél voor in die linies laat veg en dan sy troepe onttrek sodat Urija sal sneuwel. Urija moet sélf hierdie brief by Joab aflewer! Natuurlik is hy salig onbewus van die inhoud van die brief.
Kan ‘n mens so laag daal? Sonde het die gewoonte om te sneeubal. Hoe harder jy probeer om dit toe te smeer, hoe groter raak dit. As jy met só ‘n sonde in jou lewe sit, is daar slegs één pad: BELY DIT! God is genadig en Hy sal vergewe! Maar jy móét dit eers bely en erken dat jy gesondig het. Daarna moet jy daarmee breek. Vir Dawid was hierdie maar net die begin van die smarte. Moenie dat jou sonde só groot raak dat jy dit naderhand gladnie meer kan hanteer nie. Vandag is die tyd om daarmee te breek!
Gebed:
Here, ek wil vandag my sonde voor U bely. Dankie dat U dit alreeds vergewe het en my vrygekoop het met die kosbare bloed van Jesus. Help my om totaal daarmee te breek!