Diensplig in die sestigerjare was beslis nie ‘n grap nie. ‘n Arme troepie kon nooit iets reg doen nie, al het hy ook hóé hard probeer. My eerste kennismaking met die gevreesde paradegronde onthou ek nog baie goed. Op skool het ek darem al die basiese van dril onder die knie gehad, altans so het ek gedink. Tot die dag toe ek Potchefstroom se paradegrond betree. Ek verneem dat ‘n Bombardier eintlik die artillerie variasie van ‘n Korporaal is. Hy bombardeer ons arme troepies met bevele wat net hyself kon verstaan, en verskree ons. Skielik is al my skoolkadette kennis uit my kop uitgewaai. As hy skree: “Hêêêêêêê..... hô!” dan doen ek nét daar ‘n omkeer. En dan gil hy vir my dat ek om dáárdie boom moet hardloop. En vinnig ôk! Potchefstroom se paradegronde het nou nie juis bome gehad nie, en dié wat daar was, was bitter ver! En as jy nie vinnig genoeg na sy sin maak nie, dan moet die hele peleton een honderd “pushups” doen, en dan is álmal vir jóú kwaad, en dan moet jy dit boonop nog later ontgeld óók.
Ons is gedril totdat ons op strepe begin omdop het van uitputting. Die son was warm en die Bombardier genadeloos. Maar die paradegrond was ‘n vulletjie teen die hindernisbaan, waar jy deur rolle doringdraad moet kruip en oor mure klouter en met toue oor ‘n moddergat swaai. Die Sersant in beheer was erger as die duiwel homself, en elke klein foutjie is genadeloos uitgebuit. Sy strafmaatreëls het menige troepie in die hospitaal laat beland.
En moenie dink dat wanneer die son sak, jy kan gaan ontspan nie. Dit is dán wanneer jy begin om jou bed te stryk sodat die lakens soos gestyfde servette lyk op ‘n koning se tafel. Middernag word daar kamerinspeksie gedoen. Een enkele plooitjie of stofkorreltjie, en die hele slaapsaal is in die sop. Dan werk jy tot dagbreek toe om alles weer op standaard te kry. Maar dan is dit natuurlik ook al weer opstaantyd, en tyd vir die paradegrond. En intussen moet jy nog wagstaan ook!
Onthou jy nog? Die jonger manne sal nie weet wat ons alles deurgemaak het nie. Die straf was dikwels so verskriklik onregverdig. Daar was dikwels moordgedagtes in jou binneste as jy net die naam van ‘n Sersant of Bombardier hoor.
Die resultaat was egter, dat toe die grensoorlog uitbreek, hierdie manne se dissipline wat in hulle ingedril, ingeslaan en ingestraf is, dikwels hulle lewe gered het. Daardie dissipline het hulle gedra regdeur die wrede Bosoorlog, en vandag kan daardie troepies van weleer vertel van die mees ongelooflike situasies wat hulle kon oorleef, bloot as gevolg van die hartelose opleiding wat hulle deurgemaak het. Vandag kan ek net die Here dank dat ek sélf die Bosoorlog misgeloop het. My diensplig het verstryk voordat ek vir grensdiens opgeroep kon word.
In jou geestelike lewe gaan dit dikwels ook soos met ‘n militêre opleiding. Baie keer voel dit vir jou so bitter onregverdig oor die dinge wat met jou gebeur. Soms voel jy selfs kwaad vir die Here, dat Hy dit kon toelaat dat sulke dinge jou tref. En dan wil ons die vraag vra: “Waarom straf die Here my so? Was my sondes dan so groot dat ek hierdie straf moes verduur?” Boonop voel dit bitter onregverdig as ons na ander kyk wat nooit “gestraf” word nie, mense wat net maanskyn en rose beleef.
Op ‘n dag word daar ‘n klompie name uitgelees, die fiksstes onder ons troepies. Hulle sou verdere opleiding kry as “Parabats,” valskermsoldate. Hulle opleiding het ons swaarkry na ‘n sondagskoolpiekniek laat lyk!
As gelowige is die “straf” wat jy moet verduur gewoonlik ook gelyk aan jou geestelike uithouvermoë. Diegene wat die “punch” kan vat, gaan deur baie erger trauma as die ouens wat nie opgewasse is nie. Kyk maar net deur watter diep waters sendelinge dikwels gaan. Dit gebeur alles om hulle steeds sterker te maak en te oefen om reuse uitdagings wat die sendingveld bied te kan oorkom.
Paulus het hierdie “tranebrief” aan die gemeente in Korinte gestuur, nie om hulle te probeer straf vir die dinge wat daar aangegaan het nie, maar juis om hulle tot inkeer te dwing. Die brief het seergemaak, en hulle het bitterlik gehuil daaroor. Die resultaat was egter dat hulle lewens dramatiese geestelike groei getoon het.
Wanneer ek en jy as gelowiges “gestraf” word, kan ons weet dat dit eintlik gladnie straf is nie, maar dat ons hierdeur gebrei, gelouter word. In die eerste plek, om geestelik sterker te word, maar ook dat ons hierdeur aangepor word om ‘n lewe te lei wat nader aan Jesus is.
Een ding wat ons dééglik moet besef, is dat dit ‘n baie groot eer I s om harde slae te verduur. Dit wys ons dat die Here vertroue in ons het, dat ons die potensiaal het om tot groot hoogtes te kan groei in ons geestelike lewe. As dit nie so was nie, sou ons nooit hierdie slae gekry het nie.
Gebed:
Here, dankie dat U my waardig geag het, dat ek slae kan verduur vir U. Ek loof U daarvoor, en bid dat dit die regte uitwerking in my lewe sal hê.