Hebreërs 8:1-13
In my kleintyd was was daar nog nie sulke goed soos TV’s, rekenaars of CD spelers vir vermaak nie. Om die waarheid te sê, het ons nie eers ‘n radio gehad nie - wel ‘n “draadloos” wat met ‘n motorbattery gewerk het. Die ding het nie, soos vandag die geval, heeldag lank gespeel nie. Hy was net aangeskakel vir baie spesiale geleenthede, soos die nuus en die Du Plooys van Soetmelksvlei, want die battery het maar gou pap geword. Boonop was die klank iets afgryslik, want dit was selfs voor die jare van FM - die kortgolf seine het gekraak en gefluit en lawaai gemaak. Saans het ons onsself dus vermaak met kaartspeel, musiek maak en stories vertel.
Een van my groot gunstelinge was altyd om skadubeelde te maak. Met ‘n paraffienlamp of kers wat agter jou as ligbron staangemaak is, maak jy met jou hande die mees fabelagtige figure teen die muur. Daar was volstruise en slange, perde en skoenlappers. Daar was honde, katte, krokodille en bulle – natuurlik net gewone bulle want tóé was Blou Bulle nog ‘n mite! Ek kon myself ure lank vermaak met hierdie prettige speletjie. Wonderlik watter fantastiese beelde jou hande kan maak! Soms het dit ook gebeur dat daar ‘n mot of ‘n hotnotsgod voor die lamp sy sit kry, en dan word die allerverskriklikste beelde van reuse drake teen die muur geprojekteer.
Die filosoof Plato, wat sowat 400 jaar vC geleef het, het vertel van mense wat in ‘n grot vasgeketting was sodat hulle net voor hulle kon kyk. Agter hulle het ‘n vuur gebrand en al wat hulle van die werklikheid kon sien was die skadu’s wat teen die muur gereflekteer het. Ons is op aarde soos daardie grotgevangenes, want wat in die hemel gebeur, neem ons op aarde slegs waar as flikkerende skadubeelde.
Die Hebreër-skrywer pas Plato se denkskema toe as hy praat van die dinge in die hemel. In vers 5 praat hy van ‘n “afbeelding en afskaduwing van die hemelse”, wat ons ‘n kykie gee van hoe die hemel is. Daar is egter ook ‘n ander skadubeeld waarna hy verwys - die dinge in die Ou Testament wat skadubeelde was van wat sou kom in die Nuwe Testament.
In die eerste ses verse word Jesus beskryf as die Hoëpriester by uitnemendheid. ‘n Hoëpriester op aarde het moontlik baie aansien geniet, maar hy was maar ’n blote skaduwee, as ons in aanmerking neem dat die aansien wat Jesus geniet onmeetlik groter is - Jesus regeer immers uit die hemel saam met die Vader. Hy beklee die hoogste gesag ooit. Die Levietiese hoëpriesters het net gestaan in God se teenwoordigheid - hulle offerwerk was nooit afgehandel nie. Jesus sit nou egter, want Hy het sy offerwerk vir eens en altyd afgehandel. Die aardse hoëpriesters het offers en gawes van die mense gekry wat hulle eenmaal per jaar, op die Groot Versoendag moes offer. Hierdie is dan ook maar net ‘n flikkerende skadubeeld van die groot offer wat Jesus sou bring. Die hoëpriesters se offers was menslike offers, en dit was maar ‘n powere poging om die sonde te versoen. Jesus se offer was ‘n Goddelike offer wat finaal met die sonde kon klaarspeel. Die aardse hoëpriesters het gawes van die mense gekry omdat hulle Leviete was en die wet vereis het dat daar vir die Leviete gesorg moes word. Jesus was egter nie ‘n Leviet nie, en Hy kon dus nie vir gawes kwalifiseer nie. Hy moes dus sélf die offer wees.
God het ‘n verbond gesluit met Sy volk in die Ou Testament. ‘n Verbond is ‘n ooreenkoms of kontrak tussen twee partye, en in hierdie geval was God die een Party en die mense die ander. Hy sou vir hulle ‘n God wees, maar hulle moes ook hulle kant bring en Hom dien. Hierdie verbond het een swak plek gehad - die mens, want keer op keer het die volk hulle skuldig gemaak aan kontrakbreuk. Hulle kon net eenvoudig nie hulle deel van die kontrak nakom nie.
Toe kom Jesus en tree as bemiddelaar op tussen die twee partye. God stel ‘n splinternuwe Verbond op, en Jesus verteenwoordig die mense by God en beding sodoende baie beter voorwaardes om die mens se saak by God te stel. In die eerste plek is dit nou nie meer nodig vir die opsigters en tussengangers van die ou verbond (Priesters en Skrifgeleerdes) nie, want Jesus is reeds die Tussenganger by uitstek. Van klasseverskille is daar nou geen sprake meer nie, en almal is gelyk op grond van hulle persoonlike ervaring met die Here. Dit beteken ook dat dit nou nie alleen die Jode is wat toegang tot God het nie, maar alle volke en nasies. Daar is egter nog baie meer opgesluit in hierdie kontrak: God is genadig oor mense se ongeregtighede. In Heb 8:12 maak God die belofte: “Oor hulle ongeregtighede sal Ek genadig wees en aan hulle sondes nooit weer dink nie.” Is dit nie wonderlik nie?! Daardie verskriklike sonde wat jy jare terug gepleeg het, en wat jou soos ‘n nare nagmerrie ry - God dink gladnie eers meer daaroor nie, want Hy het jou daardie sonde totaal vergewe! Dit is uitgewis in Sy boek!
Is daar ‘n voorwaarde verbonde vir my as mens om deel te hê aan hierdie kontrak? Ja! As ‘n man wat in die hof staan weier om ‘n advokaat te hê, is hy verdoem. Jesus is ons Advokaat by God - al wat jy moet doen is om Hom as Advokaat te aanvaar. Jy kan Hom vertrou om jou saak suksesvol te hanteer.
Gebed:
Dankie Here Jesus, dat ek vandag kan getuig dat U my Middelaar is, en dat U my saak hanteer. Dankie dat U reeds vir my volle kwytskelding van my straf bewerkstellig het!