Skaapwagters

22 July, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Skaapwagters

Lukas 2:8-20  

Video

Oudio

Die langverwagte geboorte van die Messias het aangebreek! Hy is die Een waaroor Jesaja en Daniël geprofeteer het, die Een wat God almagtig vir Adam beloof het. Hierdie gebeurtenis móés net eenvoudig uitbasuin word! Al die Skrifgeleerdes, priesters, kerkleiers en heersers moes hiervan in kennis gestel word. Die koning en die keiser moes hiervan weet, en al die belangrike mense moes uitgenooi word om hierdie heugelike gebeurtenis te kom vier en aan Hom hulde bring.

Maar God werk anders as wat mense dink. Die toneel van Lukas se verhaal skuif na die oop veld naby Betlehem. ‘n Klompie doodgewone, eenvoudige skaapwagters sit rustig om hulle vuurtjie en gesels oor die gebeure van die dag, ‘n roofdier wat naby een se troppie skape gewaar is, ‘n skaap wat afgedwaal het……. Die volgende oomblik staan daar ‘n vreemde man by hulle. ‘n Vreemde glans omwelf die groepie manne en hulle skrik hulle byna dood. Grootoog staar hulle hierdie wese aan, want hulle kan hom nie anders as ‘n “wese” beskryf nie. Dan stel hy hulle gerus, “Moenie bang wees nie!” Die manne bewe van skok en vrees terwyl hy hulle vertel van die Verlosser wat gebore is, Christus die Here en dat hulle Hom in Betlehem sou kry waar Hy in doeke toegedraai lê in ‘n krip.

Die arme skaapwagters se monde hang oop. Hulle kan nie glo wat hulle sien en hoor nie. Maar dit was nog maar net die begin, die grootste lê toe nog voor! Skielik is dit asof die ganse hemel oopgeskeur word reg rondom hulle, en ‘n groot skare van engele rondom hulle staan. Hemelse musiek vul die valleie en heuwels en die magtige engelekoor sing die mooiste lied wat nog ooit in menseheugenis gehoor is: “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het!”

Verstom staan die skaapwagters en luister na die grootste en aangrypendste kooruitvoering van alle tye. Dit vul hulle ore en liggaam en hele wese terwyl ‘n Goddelike glans om hulle skyn. En dan, skielik, is alles verby, en die verdwaasde skaapwagters word alleen agtergelaat met hulle gedagtes. ‘n Dringendheid om hierdie Verlosser waarvan die engel gepraat het te gaan sien, brand in hulle, en sonder versuim trek hulle soos een man op na die slapende Betlehem.

By die stal kry hulle vir Josef en Maria en die Kindjie in doeke toegedraai in die krip, nét soos die engel dit beskryf het. Vol verwondering vertrek hulle later terug na hulle skape, al singende. Dit wat hulle daardie nag beleef het, het hulle wyd en syd vertel aan elkeen wat hulle teëgekom het, en die mense was vol verwondering oor die asemrowende gebeure.

Maria, die gelowige vrou wat haarself tot beskikking van die Here gestel het, ten spyte van die gevaar dat haar reputasie kon skade ly, het hierdie dinge alles in haar hart bewaar. Drie en dertig jaar later moes sy aanskou hoe haar Baba, toe reeds ‘n jong Man in die fleur van Sy lewe, gemartel, gespot en op gespuug word. Hoe Hy aan ‘n kruishout vasgespyker word om onskuldig ‘n wrede en pynlike dood te sterf.

Hierdie verhaal laat jou baie diep dink. Waarom skaapwagters? Waarom eenvoudige, ongeletterde skaapwagters, en nie ‘n uitgelese klomp Skrifgeleerdes en konings en kerkleiers nie? Daardie magtige koor het hulle héél beste opvoering gegee net vir ‘n klein ou handjievol manne in vuil veldklere wat na sweet en rook stink! 

Ons moet onthou dat God nie na getalle kyk nie, of hoe geleerd of hooggeplaas of grênd aangetrek mense is nie. Vir Hom is die doodeenvoudige, doodgewone mens nét so belangrik as die hoogsgeleerde teoloog. Die boodskap van die eenvoudige skaapwagters het talle mense in verwondering gehad, en by hulle ‘n afwagting geskep vir wat sou voorlê. Dink nou net: as dit ‘n groep Skrifgeleerdes en kerkleiers was, dan het hulle eers ‘n kommissie van ondersoek ingestel en die hele gebeure gedebatteer tot vervelens toe. Die kanse dat die régte boodskap by die mense sou uitkom, sou uiteindelik baie skraal wees. Kyk maar net wat het hierdie geleerdes later met Jesus gedoen! Hulle het Hom vervolg, beledig, betwyfel en uiteindelik ter dood laat veroordeel.

Jesus het later Sélf ook van eenvoudige mense gebruik gemaak om die Evangelie te versprei. Sy dissipels was eenvoudige vissermanne. Hy het ‘n Samaritaanse vrou met ‘n baie slegte reputasie gebruik om ‘n hele dorp in beroering te bring, en ‘n malle wat kaal in die begraafplaas rondgeloop het, het ‘n hele landstreek vir die Evangelie voorberei toe Jesus hom gestuur het.

Vandag maak dit nie saak wie of wat jy is nie - Hy wil jóú ook gebruik!

Gebed:

Here, gebruik my asseblief nés ek is - ek stel myself tot U beskikking.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026