2 Timoteus 2:23-26
“Moet jou nie met dwase en sinnelose strydvrae inlaat nie, want jy weet tog dat dit net rusies veroorsaak.” (2 Tim 2:23).
Ai toggie! Hoe laat mens jou nie soms in totaal sinnelose strydvrae insleep nie! Ek onthou ‘n debat ‘n klompie jare terug waaraan onder meer daardie wêreldberoemde Prof. Stephen Hawking en die omstrede minister Pik Botha deelgeneem het. Die super-slim professor het vir Oom Pik gesê dat daar nie lewe na die dood is nie. Jy is soos ‘n rekenaar wat afgeskakel word as jy sterf. Daar is net niks! Die debat het gegaan oor Hawking se vraag: is daar lewe na die dood? Die debat was op die TV program 50/50 uitgesaai.
Die antwoord vir enige gelowige is eintlik baie eenvoudig maar die wetenskaplikes wat hierdie tameletjie probeer uitredeneer het, het hulleself net al dieper en dieper in die gemors geredeneer. Die enigste persoon wat sin gemaak het was ’n ateïs, die voorsitter van die sogenaamde Skeptiese Vereniging. Sy redenasie, dat Christene die wetenskap totaal ignoreer, is gedeeltelik waar, want dikwels loop ons met oogklappe en glo net wat tradisie ons geleer het, sonder om behóórlik die Woord te lees. Die Paleontoloog in daardie gesprek het geglo dat ‘n mens net ‘n hoop bene is! Dis immers al wat hy ooit opgegrawe het! Uiteindelik het die debat gedraai by evolusie en die ouderdom van die aarde.
Maar tóé kom die Christene met die vreemdste redenasies! Hulle het só in sirkels gepraat dat g’n mens uiteindelik énigiets kon uitmaak van wat hulle werklik glo nie. Met al hulle slim redenasies het hulle die TV kykers wat vrae oor die onderwerp gehad het, totaal in verwarring gebring! Die enigste persoon wat sy sin gekry het in hierdie debat was die ateïs, want na die gesprek was daar baie meer mense wat skepties was!
Vra jy my wat ek glo oor hierdie vraag? Ek glo met my hele hart dat daar lewe na die dood is. Die Bybel leer my immers so! Klaar! Evolusie, hoe oud die aarde dan nou eintlik is en wanneer die mens geskep is het hiermee absoluut niks te doene nie!
Paulus lê klem daarop: Moenie betrokke raak by kantlynsake waaroor die Bybel nie duidelik uitspraak gee nie, want jy kan dalk net baie meer kwaad veroorsaak as goed! Ek kan óók met baie mooi redenasies kom oor die skepping en evolusie. Ek het my eie teorieë hieroor. Let wel: dis slegs teorieë want nie die Bybel óf die wetenskap gee oor hierdie dinge ‘n honderd persent uitsluitsel nie! As ek egter vanoggend hier skryf wat ek daaroor glo, gaan die helfte van die lesers met my saamstem en die ander helfte gaan sê dat ek nonsens praat. Wat het ek gewen? Absoluut niks! Maar ek het die helfte van die lesers verloor! Dit sal tragies wees...…!
Paulus vermaan dat as iemand kwetsende aantygings maak teenoor jou, dan moet jy nie kwaad word of dit met allerhande redenasies probeer wegredeneer nie. Antwoord eerder met vriendelikheid! Ek moet bieg dat ek al dikwels warm onder die boordjie geraak het as iemand my knaend aanval. Ek was al dikwels wysgemaak hoe verkeerd my geloof dan nou werklik is en dat sulke geloof my nooit, óóit in die hemel gaan bring nie! Ja, ek was al uitgekryt dat ek almal wat hierdie dagstukkies lees om die bos lei en saam met my laat dwaal!
'n Gelowige mag nie toelaat dat sulke aanmerkings maak dat jy jou humeur verloor nie. Bly steeds vriendelik en hou liewer jou mond! As die Bybel egter ‘n duidelike uitspraak gee oor die saak, durf jy ook nie daaroor stilbly nie! Jy moet sorg dat jy toegerus is om ‘n toepaslike antwoord te kan gee. Dit móét egter steeds met vriendelikheid gebeur sodat jy nie dalk daardie persoon totaal verloor nie.
Ek moet terselfdertyd ook te alle tye onthou dat dit nie mý goeie kennis van die Skrif of mý goeie redenasievermoë is of selfs mý vriendelikheid is wat mense se harte verander nie. Dit is slegs God wat mense kan bekeer en tot kennis van die waarheid bring! Dit staan duidelik so uitgespel in 2 Tim 2:25. Talle mense het my al gevra hoe jy ‘n Christen word en ek het al aan baie mense ‘n mooi uitleg in my beste taal en skryfstyl gestuur, wat verduidelik presies hoe dit werk. As die Heilige Gees egter nie daardie persoon tot bekering lei nie, is al my mooi woorde totaal verniet! Terloops, by bit.ly/bbVertel kan jy 'n boekie aflaai wat jou kan help om die Evangelie eenvoudig aan iemand te verduidelik. Die titel: Hoe vertel ek iemand van Jesus? Dit is geskryf in Afrikaans, Engels en Zoeloe.
Jou vriendelikheid beteken natuurlik nooit dat jy maar gelate aanvaar as iemand dwaalleer verkondig nie. Dwaalleer is iets wat teenstrydig is met alles wat die heilige Woord van God verkondig en daaroor het Paulus hom verskeie kere al baie heftig uitgespreek. Sulke dinge durf jy nie duld nie! Ongelukkig is ‘n dwaallering soos dronkenskap, dat jy nie nugter daaroor kan dink solank jy daarin vasgevang is nie. Weereens sal heftige redenasies iemand wat daarmee deurmekaar is net verder aanvuur. Ek het dit sélf al pynlik agtergekom in my redenasies met sekere geloofsgroepe. Al my argumente het absoluut niks opgelewer nie. Dit is slegs God wat hulle siening sal kan verander!
Gebed:
Here, gee my asseblief ‘n oorvloed van vriendelikheid en kalmte en nugterheid wanneer ek gebombardeer word met sinnelose argumente!