Markus 1:29-39
Die dag het begin as ‘n doodgewone Sabbat waar die manne ‘n ruk lank in Kapernaum gewerk het. Maar hulle was bekommerd. Simon se skoonma was nie lekker nie. Sy het die vorige nag ‘n hoë koors gehad, maar met hulle hoë werkdruk kon Simon nie rêrag aan haar aandag skenk nie. Johannes deel sy kommer, maar eers moes hulle sinagoge toe.
Die preek van sy Rabbi het Johannes se bors daardie oggend weereens met trots laat swel. Hy móés vir almal wys dat hy ‘n leerling is van daardie Jesus! Maar toe gebeur daardie skrikwekkende ding met die besetene. Johannes het hom asvaal geskrik toe die man skielik tussen al die mense opspring en begin gil en tekere gaan. Simon het opgespring om die man nét daar uit te smyt, maar Rabbi Jesus het vir hom beduie om te gaan sit. Dat die man nou só ‘n hartroerende preek so kom staan en bederf het!
Wel, die manier wat Rabbi Jesus die saak hanteer het was absoluut ongelooflik. Het jy al óóit so ‘n ding beleef!? Waar kry Hy die krag om die duiwel uit die man te dryf? Die mense was in ekstase! Nou besef hulle seker waarom hy hierdie Rabbi volg.
Na die preek en die opwinding, stap die groepie na Simon se huis toe. Dit was heerlik om weer ‘n slag in ‘n huis te kon slaap, maar Johannes kan sien hoe die bekommernis aan sy vriend Simon vreet. Hy is natuurlik bekommerd, want in haar toestand kan Simon se Skoonma mos nooit vir hulle klomp regstaan nie!
Wanneer hulle die huis binnestap, lê sy steeds in die kooi en worstel met die koors. Dinge lyk baie lelik! Dan kry Johannes ‘n gedagte: “As Rabbi Jesus daardie besete man kon genees, kan Hy mos ‘n gewone sieke ook gesond bid, Simon?”
“Rabbi,” vra Simon, “bid asseblief vir my skoonma.” Jesus vat die vrou se hand. Haar koors is hemelhoog, en die sweet tap haar bleek gesig af. Sy is dodelik siek! Wanneer Jesus egter haar hand vat, gebeur die wonderwerk. Die kleur kom terug na haar gesig, en sy sit regop, asof sy nooit iets makeer het nie. Simon wil nog keer dat sy opstaan, hierdie vrou was mos baie siek! “Ma, lê maar nog ‘n rukkie.....” Maar hy is te laat want sy het klaar uit die kooi gespring, blakend gesond. Die manne kan hulle oë nie glo nie. So vinnig is haar herstel, dat sy dadelik aan die werk spring en vir hulle aandete voorberei.
“Het jy gehoor van Simon se skoonma?” gons dit oor die bostelegraaf. “Dis ‘n wonderwerk soos niemand nog óóit gesien het nie!”
“Kom ons gaan kyk wat gebeur het.”
“My seuntjie is siek, dalk kan die Rabbi hom ook gesond maak.”
Binne ‘n uur weet die ganse Kapernaum van Simon se skoonma. Vanuit elke hoek van die stad stroom die mense om vir hulleself te kom sien wat gebeur het. “Hoe is dit moontlik?” Elke minuut groei die skare aan voor Simon se eenvoudige huisie, totdat daar meer as ‘n duisend mense in die nou straatjie saamgedrom staan. “Rabbi, help my asseblief,” klink dit hier en daar op. Jesus is maar net te gewillig om die siekes te help, en elke keer as daar ‘n genesing plaasvind, dan dreun dit deur die skare soos ‘n swerm bye. Tot laatnag toe duur dit voort, totdat Simon uiteindelik vir die mense moet sê dat dit darem nou tyd is dat hulle huiswaarts moet keer. Die Rabbi is mos maar net ‘n mens! Hy het mos ook rus nodig!
Vroeg die volgende oggend - dit is nog pikdonker - hoor Johannes dat iemand in die huis beweeg. Hy sien die silhoeët van die Rabbi as Hy saggies uitloop na buite. Later moet hy verneem dat Jesus ‘n stil plekkie gaan opsoek het om te gaan bid. As dit begin lig word, wil almal weet waar Jesus dan is? Johannes beduie net dat Hy uit is, iewers daar buite. “Kom ons gaan soek Hom,” besluit hulle. As hulle Hom uiteindelik kry wil hulle weet: “Waar was U? Almal soek U!”
Maar Jesus ontwyk hulle vraag: “Kom, ons het werk om te doen. Ons gaan al die naburige dorpies ook bearbei.”
Gedweë pak die manne op. Watter opwinding wag daar op hulle? Gisteraand se dinge het hulle laat bruis van opgewondenheid. Hier kan dalk nog groot dinge gebeur! Galilea, hier kom ons!
Vandag is dit vir ons moeilik om te begryp hoe nuut en vars Jesus se prediking en optrede vir daardie mense was. Ons ken die verhale almal van kleintyd af, en dis ou nuus. Maar Jesus het gekom om alles nuut te maak, nie alleen vir daardie tyd nie, maar ook vir vandag. Dalk was die nuwe dissipels opgewonde om die verkeerde rede. Ons weet egter vandag wat die ware agtergrond is, en dit behoort vir ons nog baie meer rede te gee om opgewonde te raak oor Jesus. Is Jesus vir jou “ou nuus”? Dan het dit tyd geword dat ons met nuwe oë begin kyk na Hom en ons verhouding met Hom, en dat ons weer borrelend opgewonde raak oor Jesus.
Gebed:
Here, laat dit asseblief vandag bruis in my gemoed van opgewondenheid oor U. U is steeds so wonderlik soos daardie tyd saam met die dissipels.