Simon en Dáárdie Vrou

24 August, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Simon en Dáárdie Vrou

Lukas 7:36-50

Ons verhaal vanoggend is ‘n hartroerende een wat trane van aandoening in jou oë bring. Hier kom demonstreer Jesus God se groot en onverklaarbare vergifnis.

n Fariseër met die naam Simon nooi vir Jesus uit vir ete. Dit was die gebruik om by ‘n lae tafel te eet. Rondom die tafel was daar kussings waarop die gaste op die sy gelê en op een elmboog geleun het. Omdat jou voete so naby aan die volgende gas se gesig was, was dit net goeie maniere vir ‘n gasheer om ‘n slaaf te kry om die gaste se stowwerige voete te was voor die ete. Onthou, die mense het sandale gedra en kaalvoet om die tafel gelê. Duidelik het hierdie Simon nie sy gaste as belangrik genoeg geag om hulle voete te laat was nie.

Net toe almal mooi hulle lê gekry het kom dáárdie vrou die vertrek binne en sy gaan neem stelling in by Jesus se voete. Vererg kyk almal die vrou aan - wat maak sy hier? Hierdie was ‘n aangeleentheid vir die manne, en vrouens was net eenvoudig taboe! Veral hierdie vrou, want haar reputasie het haar vooruit geloop! G’n ordentlike man wou in hierdie vrou se geselskap verkeer nie!

Maar dit sou nóg erger word want die vrou gaan bitterlik aan die huil en haar smart-trane val op Jesus se voete. Dan doen sy die ondenkbare en maak haar hare los in die openbaar. Sulke onbetaamlikheid was totaal onverskoonbaar. Sy is ‘n skaamtelose vrou! Terwyl sy Jesus se voete met haar los haredos afdroog, begin dit al brom hier om die tafel. Die spanning in die atmosfeer bereik breekpunt as sy ‘n flessie kosbare reukolie te voorskyn bring en dié oor Jesus se voete smeer.

n Man kan uit “ordentlikheid” nie altyd sê wat jy wil nie, maar jy kan darem dink wat jy wil! Só het Simon gereken. Maar hy het nie in gedagte gehou dat Jesus presies geweet het wat in sy skewe gedagtes aangaan nie. In sy gemoed verwerp hy Jesus as profeet, want as Hy ‘n profeet se sout werd was, sou Hy mos geweet het van hierdie vrou se reputasie. Hy sou beslis nie dat sy aan Hom kon staan en raak nie. “Nee wat!”, dink Simon. 

Maar Lukas vertel dat Jesus reg dwarsdeur Simon gesien het. As ware Profeet het Jesus ook regdeur die vrou gesien, en het Hy geweet dat, juis omdat sy ‘n vrou met ‘n slegte reputasie was, ‘n sondaar, het sy God se vergifnis soveel te meer nodig gehad. Die verskil tussen hierdie vrou en Simon was dat hy gesteun het op sy eie geregtigheid. As Fariseër het hy gedink dat, omdat hy die wet tot in die fynste besonderhede onderhou het, sy saak met God reg was. Op sy eie stoom sou hy eendag die hemel binne-marsjeer. Die vrou, aan die ander kant, het besef dat sy verlore was, en dat Jesus die enigste uitweg was vir haar om God se vergifnis te kon kry. Sy het haar totale afhanklikheid van Hom besef.

Simon was op die oog af nie ‘n slegte ou nie. Hy het ‘n baie voorbeeldige lewe gelei en al die regte geluide gemaak. Ons kan aanneem dat hy beslis ‘n vooraanstaande lid van die gemeenskap was, want net ‘n welaf persoon kon ‘n klomp mense vir ete onthaal. Dit maak hom boonop nog vrygewig ook. Ek is oortuig daarvan dat hy ‘n steunpilaar was vir die kerk.

Ons gelowiges moet egter baie versigtig wees dat ons nie dalk soos Simon word nie. Ons kan so maklik soveel selfvertroue in die lewe opbou dat ons van die ware sin van die lewe begin vergeet. As dit finansieel met jou goed gaan en jy elke Sondag in die kerk sit, dan is jy reg. As jy boonop nog op elke kommissie dien en jou deel vir die kerk doen, dan voel jy dat jy gemaak is. Jy gee gereeld jou dankoffers, bid, lees die Bybel en neem selfs deel aan ‘n Bybelstudiegroep se bedrywighede. Moenie my verkeerd verstaan nie, ek sê nie dat hierdie dinge verkeerd is nie. Inteendeel, dit is baie goed, en die Here wil hê dat ons hierdie dinge doen. Die probleem kom egter dat sulke voorspoed kan veroorsaak dat jy jou totale afhanklikheid van God dan so maklik kan vergeet. Iemand wat voorspoedig lewe, moet tweekeer so hard werk aan sy verhouding met die Here.

Die héél basiese dinge van die geloof durf ons nooit vir ‘n oomblik vergeet nie. Waarom het ons skuldvergifnis ontvang? Ons was verlore in ons sonde, en God het uit Sy groot genade deur die soenverdienste van Jesus vir ons vergifnis gegee, nie omdat ons goed was of goed gedoen het nie, maar uit genade! Wanneer ons hierdie skuldvergifnis gekry het, leef ons ‘n dankbaarheidslewe deur goed te probeer doen, maar in die gedurige besef van hoe geweldig afhanklik ons steeds van God is vir elke ding in ons lewe. Dit is Hy wat vir ons voorspoed gee, en dit is Hy wat vir ons die geleenthede gee om Hom te kan dien in die kerk en alle ander terreine. Wanneer jy dus agter die orrel sit of jou plek inneem as leier-ouderling of selfs op die kansel staan met ‘n gemeente voor jou - wees dankbaar vir daardie geleentheid wat jou gegun is, en besef dat jy steeds van Hom afhanklik is.

Gebed:

Here, dankie dat ek in U diens kan staan - hou my asseblief op my knieë afhanklik van U.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026