Siklag word Oorval

8 January, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Siklag word Oorval

1 Samuel 30

VIDEO | OUDIO

Al singende stap die manne terug huistoe nadat die Filistynse leiers hulle nie wou laat veg teen Israel nie. “Die Here is baie goed vir ons!” jubel dit in Dawid se hart. Dit is ‘n lang en vermoeiende tog terug - ‘n volle drie dae se stap. Maar uiteindelik sien hulle die mure van Siklag in die verte: “Heerlik om terug te wees by die huis!” sug hy behaaglik.

Maar wanneer hulle nader aan die stad kom, sien hulle sommer dadelik dat iets nie pluis is nie - daar hang ‘n rookwolk bokant die mure. Dawid se hart klop in sy keel: “Wat sou dit beteken?” Almal is bekommerd en hulle hardloop eintlik die laaste ent. Hier is iets baie groot fout!

Die stadspoorte is flenters gebreek - iemand het die stad aangeval! Die manne verstar wanneer hulle deur die poorte gaan. Die stad is verlate. Daar is nie ‘n mens of dier in sig nie. Boonop is alles tot houtskool verbrand. Die manne is verslae - “Wat het gebeur?” vra hulle retories vir mekaar. “My vrouens......” borrel dit verward deur Dawid se gemoed. Daar is een enkele ligpuntjie - hulle sien nêrens dooies lê nie, dus moes almal as gyselaars weggevoer wees.

‘n Geweeklaag gaan op onder die manne. Hulle huil oor hulle huise wat verwoes is; hulle huil oor hulle vee en besittings wat alles weg is; maar bo alles huil hulle bitterlik oor hulle gesinne wat deur ‘n onbekende vyand iewers heen weggevat is. Lewe hulle ooit nog? Hoe word hulle behandel? Word hulle nie dalk gemartel nie?

“Dis alles jóú skuld, Dawid!” gil een van die manne. Baie gou is almal opgesweep en hulle soek na klippe om Dawid dood te gooi. “Stenig hom!” dreunsing dit binne ‘n ommesientjie en Dawid moet net bontstaan om uit hierdie gemors te kom.

“Here, help my asseblief,” bid Dawid, “my eie manne wil my nou óók doodhê!”

“Manne, ons moet die Here raadpleeg om te hoor wat ons moet doen,” deel Dawid die manne mee nadat hy met groot moeite weer rustigheid onder hulle gebring het.

“Daar is nie nog tyd nie,” skree een van die manne, “ons moet dadelik die klomp agtervolg voordat dit dalk te laat is!”

“Bly net kalm,” paai Dawid hom, “en laat roep vir Abjatar. Ons durf nie iets doen sonder om eers die wil van God te vra nie, Hy is die Een wat sal besluit!” Die manne stem brommend saam. “Gee die skouerkleed Abjatar, sodat ons met die urim en tummim kan bepaal wat God se wil is vir ons.”

God se antwoord is baie duidelik dat hulle die vyand moet agternasit want Hy sal vir hulle die oorwinning gee. Dawid laat ook nie gras onder sy voete groei nie, en met seshonderd moeë manne val hy in die pad op die spoor van die ontvoerders. Dit blyk baie gou dat ‘n klomp van die manne nie hierdie tog gaan maak nie want hulle is alreeds baie dae lank op die pad. Dawid neem ‘n moeilike besluit - eerder as om met ‘n volmag nuttelose soldate te probeer veg, laat hy tweehonderd man agter om by hulle goed te bly terwyl hy ligvoets met die res agter die vyand aangaan. Op pad kry hulle ‘n Egiptiese slaaf wat die vyand agtergelaat het omdat hy te moeg was om verder te loop. Die man is maar te dankbaar om hulle reguit na die Amalakiete te neem want Dawid en sy manne behandel die arme kêrel, wat byna dood is van honger en dors, met liefde. Die Amalakiete het Siklag binnegeval uit weerwraak vir Dawid se strooptogte, en toe wag hulle net mooi totdat die Filistyne in ‘n oorlog betrokke is om Siklag aan te val!

Wanneer Dawid-hulle oor ‘n bult kom, lê die vyand wydversprei oor ‘n groot gebied voor hulle, besig om hulle groot buit baie deeglik te vier. Daar is ‘n groot fees aan die gang!

Vir die Amalakiete is Dawid se aanval ‘n reuse verrassing en hulle word totaal onverhoeds betrap. Die geveg wat volg is ‘n groot een wat duur van die middag af, regdeur die nag. Slegs ‘n klein groepie soldate op kamele ontsnap - die res word afgemaai. Wanneer Dawid ná die geveg ‘n opname doen, moet hy tot die slotsom kom dat nie ‘n enkele vrou of kind uit Siklag iets oorgekom het nie. Al singende loop ‘n afgematte, maar baie dankbare klomp manne met hulle gesinne en ‘n groot buit terug na Siklag. Daar wag op hulle ‘n groot taak om alles weer te herbou, maar almal is veilig.

Die buit word verdeel onder almal, ook die manne wat moes agterbly. En dan stuur Dawid ook ‘n gedeelte van die buit na dorpies in Juda. Sodoende bou hy kosbare bande op met sy toekomstige onderdane. Min besef Dawid dat daardie dag wat hy sou koning word, baie nader is as wat hy óóit kon droom!

As Christen-leier mag ons nooit mismoedig word nie. Waar Dawid selfs met die dood gedreig was, kon hy na die Here opkyk en vrede maak en nog stééds sy manne lei na die oorwinning! Bid vir wysheid om enige situasie te kan hanteer. En wanneer dinge handuit ruk, is daar maar net Een om na toe te gaan. Hy is altyd daar!

Gebed:

Here, gee my asseblief die wysheid om te alle tye na U te gaan vir hulp en raad!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Jesus Word Verheerlik
13 October, 2026
Om Op Water Te Loop
12 October, 2026
Kos vir ‘n Reuse Skare
9 October, 2026
Vervolging
8 October, 2026
Persecution
8 October, 2026