Inleiding tot die verhaal van Petrus
"Nee, wat maak julle met my? Pasop, daai mes is skerp jong! Wat doen julle? Julle gaan my vermink! Vir ewig! Hou op! Hou jou aaklige ou hande weg van my privaatheid! Julle maak my seer! Einaaaaaa!"
Shimon probeer vir die wrede manne vertel presies wat hy van hulle dink omdat hulle nou deel van sy man-wees afgesny het! Maar die woorde kom net in onverstaanbare brabbeltaal want hy is uiteraard maar net 'n skamele 7 daggies oud!
Die manne lag vrolik en klap hande as die priester terugstaan met die piepklein stukkie vel in sy hand. Klein Shimon se pa, Jona se bors swel van trots omdat sy eersteling nou 'n ware Israeliet geword het.
Dis ongeveer die jaar 1vC en klein Shimon, of dalk beter bekend as Simon het so pas sy eerste groot storm in die lewe beleef en dit boonop nog binne-in die sinagoge van Kapernaum in Galilea! Daar sou nog baie storms vir hom voorlê want Pa Jona beplan sommer al klaar by die klein mannetjie se besnydenis hoedat hy hom sal saamneem op sy vissersboot. Maar voordat dit kan gebeur moet klein Simon eers 'n geleerdheid kry en daarvoor is Pa Jona bang want hy is self mos maar net 'n visserman!
Uiteindelik sal klein Simon 'n ander naam kry maar dit sal nog 'n volle dertig jaar neem voordat hy Petrus, die Rots genoem sou word. Boonop sou dit nie net fisiese storms op die see van Galilea kos om daardie naam te verwerf nie maar ook reuse geestelike storms!
'n Jaar na die traumatiese insident kry klein Simon 'n maatjie, 'n splinternuwe boetie. Pa Jona besluit om dié klein nuweling Andreas te noem. Saam sou hierdie twee boeties nog wonderlike avonture beleef!
Die twee seuntjies het beste maatjies geword en heerlik saam gespeel en kattekwaad aangevang. Maar wanneer Pa Jona van die viswater af terugkom het hulle hom bestorm en om die knieë gegryp. Hulle kon nie wag om oopmond by sy voete te gaan sit om te luister na sy wonderlike stories nie. Stories van Adam en Eva, Noag en die groot vloed, Grootoupa Abraham en nog baie meer.
Toe hulle begin groter word, moes hulle self daardie stories vir Pa Jona oorvertel sodat hy kon hoor of hulle dit onthou. En daar mag niks bygelas of weggelaat word nie!
Soos wat hulle opgroei, kry Pa Jona se stories al meer vleis om. Nou moet hulle begin leer van dinge soos die Tien Gebooie en sommer 'n klomp ander wette en voorskrifte en dit laat klein Simon se kop skoon draai!
Op 'n dag besluit Pa Jona dat Simon groot genoeg is om saam te gaan visvang. Simon geniet hierdie nuwe avontuur en hy bewe eintlik van opgewondenheid! Maar baie gou kom hy agter dat dit eintlik harde werk is. 'n Jaar later gaan Boetie Andreas ook saam, en weldra word die twee deel van die span vissermanne. Pa Jona leer die tweetjies van elke truuk in die vissersbedryf.
Intussen was Simontjie se dertiende verjaarsdag op hande. Aan die een kant was daar 'n yslike knop op sy maag maar terselfdertyd was hy verskriklik opgewonde. Hy het baie hard geleer vir daardie dag wat hy in die sinagoge voor al die slim manne moes gaan staan en uit die Torah vir hulle voorlees. Hy het reeds groot gedeeltes van die wet uit sy kop geken en op dertien was hy dus as volwasse genoeg geag om dit alles te kon verstaan en die wet te onderhou soos dit van alle goeie Jode verwag word.
Johannes en Andreas het baie gou tussen die vissersbote maats gemaak met Jakobus en sy bitsige klein boetie Johannes. Hulle pa was natuurlik ook 'n visserman en hy het verwag van die twee om hom op sy skuit te help. Die twee boeties was gedurig in mekaar se hare! Sommer gou verwerf hulle die bynaam "Boanerges", Seuns van die Donder oor hulle opvlieënde geaardheid.
Die verhoog was nou opgestel vir die groot taak wat op Simon en sy maats se skouers sou rus. Maar eers was daar die Doper, Johannes was sy naam. 'n Rowwe profeet wat van sprinkane en wilde heuning geleef het - nogal verlangs familie van Simon. Die twee broers het dadelik aanklank gekry by Johannes en daar is die saadjie van bekering in hulle lewens geplant. Op 'n dag prikkel die profeet hulle nuuskierigheid toe hy vertel dat die langverwagte Messias reeds daar was!
“Ek wonder waar daai Messias nou is?” het hulle vir mekaar gevra. “En hoe lyk Hy? Sal ons Hom herken as ons Hom sien?”
Maar hulle ontmoeting met die Messias sou baie gouer gebeur as wat hulle óóit sou kon droom. En daardie ontmoeting sou 'n radikale verandering in albei se lewens maak.
Met Simon kan elkeen van ons assosieer, want ons kom agter dat dit nie uit sy eie krag is wat hy die rots, Petrus word nie, maar alleen uit God se groot genade. Daar is dus ook hoop vir my en vir jou!
Gebed:
Here, dankie vir 'n man soos Simon Petrus – dat ek uit sy lewe kan leer!