Johannes 5:18-29
In Ds Danie Haasbroek se boek oor Jesus in die Ou Testament, maak hy ‘n terloopse opmerking, dat daar gedurende die Israeliete se uittog uit Egipte sowat drie miljoen mense moes gewees het. Toe begin ek sommetjies maak. Wat ‘n logistieke nagmerrie moes dit nie wees om drie miljoen weerbarstige mense te voet deur ‘n woestyn te laat trek nie! Waar het hulle genoeg water vir almal gekry? En kos? Daar is mos nie kos of water in die woestyn nie? En hoe het Moses dit reggekry om drie miljoen mense op een slag, baie vinnig deur die see te laat trek om van die Egiptenare af weg te kom? Dink net oor hoe ’n groot gebied hulle elke keer hulle tente moes opslaan! Menslik gesproke was dit alles totaal onmoontlik. En nogtans het dit gebeur. God het hulle water gegee en Hy het hulle ook op ‘n wonderbaarlike wyse van kos voorsien en hulle onderhou.
In die lig hiervan, was die wonderwerk waar Jesus die man by Betesda gesond gemaak het, ‘n relatief klein een. Nogtans het dit ‘n vurige reaksie by die Jode uitgelok. Hulle was woedend oor Jesus hierdie man laat “werk” het op die Sabbatdag. Toe Jesus hierop reageer, het Sy antwoord hulle nog verder die harnas ingejaag. Volgens hulle het Hy Homself aan God gelykgestel! Dit was Godslasterlik!
Maar hoe het hulle dit uitgewerk? Jesus beweer dat Sy Vader tot nou toe gewerk het (op die Sabbat) en dat Jesus dus ook gewerk het. Die Jode se redenasie was dat alleen God die reg gehad het om op die Sabbat te werk. As Jesus dus sou sê dat Hy ook op daardie heilige dag kon werk, het Hy Homself aan God gelyk gestel omdat Hy Homself die reg toegeëien het wat God alleen mag doen. Dit is, volgens hulle, Godslasterlik en hulle wou Jesus nét daar doodmaak!
Jesus het vir hulle met ‘n beeld verduidelik wat almal daardie tyd baie goed geken het. Dit gaan oor die verhouding tussen ‘n pa en sy seun. Daar was nie daardie jare universiteite of tegniese kolleges waar ‘n mens ‘n ambag of professie kon gaan leer nie. Die pa het die seun sy ambag geleer. Die pa het sy seun boonop die lewenskuns geleer. As ‘n man dus ‘n goeie pottebakker was, sou almal geweet het dat sy seun eendag ook ‘n goeie pottebakker sou wees, want hy het by ‘n meester die kuns aangeleer. Op dieselfde wyse kon jy aflei van iemand wat ‘n goeie pottebakker was, dat sy pa ook een was, want waar anders sou hy dit kon aanleer?
Hierdie storie het die Jode goed verstaan. Toe gaan Jesus voort deur te verduidelik dat slegs God mos lewe kan gee. As iemand dus uit die dood opgewek sou word, dan kon daar absoluut géén twyfel wees dat dit van God af kom nie. As Jesus dus iemand uit die dood sou terugbring, dan sou dit maar net logies wees dat Hy die Seun van God is, want waar anders sou Hy dit kon leer?
Jesus het hierdie argument egter nou een stap verder geneem en verduidelik oor die oordeel. Regdeur die Ou Testament sien ons dat dit alleen God is wat die oordeel mag vel. Inderdaad maak Hy van tyd tot tyd gebruik van ‘n spesiale gesant om die oordeel oor te dra, soos byvoorbeeld Daniël (Dan 7). Dit is egter steeds God wat oordeel. Jesus kom openbaar nou egter iets nuut, dat die Vader al die oordeel aan die Seun oorgelaat het en dat dit dus Jesus is wat die oordeel vel.
Beteken dit nou dat ons Jesus moet sien as ‘n genadelose God wat gereed staan met ‘n swaard om elkeen wat sonde doen te verdelg? Nee, beslis nie! Die teendeel is eerder waar.
Wat is oordeel? Dit is die teenoorgestelde van redding. Wanneer ons hierdie Evangelie van Johannes lees, kom die reddings-gedagte keer op keer na vore. In Joh 3:16 sien ons dat die Seun lewe gee. Dit kom ook na vore in Joh 5:24, 6:37, 6:40, 6:54 en nog vele ander plekke. Wanneer ons dus lees van Jesus se oordeel, moet ons daarin terselfdertyd God se groot, groot genade raaksien. Sy oordeel tree slegs in werking wanneer Hy verwerp word en wanneer iemand Hom nie wil erken as die tweede Persoon van die Goddelike Drie-Eenheid nie. Dit gebeur wanneer iemand nie Sy soenverdienste wil aanvaar nie.
Eer is iets wat daardie tyd geweldig belangrik was. Om eer te betoon aan iemand, het beteken dat jy sy waardigheid in ag geneem het en dat jy ook vir ander mense laat verstaan dat daardie persoon eer waardig was. Om egter geëer te kon word, moes jy werklik eer verdien het. In Jesus se geval is dit baie duidelik dat Hy al die eer verdien het wat enigiemand kon gee. Het jy geweier om Hom daardie eer te gee, dan het jy nie alleen vir Jesus beledig nie, maar ook terselfdertyd die Vader.
Dalk gee ons vandag nie juis meer eer aan mense wat dit werklik verdien nie. Ons durf egter nie ons eer weerhou van Jesus nie, want daar is niemand groter as Hy nie. Sy dade is groter as wat enige menslike verstand ooit sal begryp. Nie alleen het Hy die ganse kosmos uit niks geskep nie, maar Hy het ook vir jou en my gered uit die ewige verderf. Sal ons Hom nie al ons eer en aanbidding gee nie?
Gebed:
Here, U is onbeskryflik groot en goed en genadig. Ons aanbid U met alles wat binne in ons is!