1 Samuel 24:1-23
Dawid en sy manne is swerwers en hulle vlug van plek na plek om voor Saul se wraak weg te kom. Hulle gaan vestig hulle by En-Gedi, ‘n pragtige waterryke plek in die woestyn naby die Dooie See. Maar hoe kruip jy nou weg met 600 manne en hulle vrouens en kinders? Saul se verspieders vind baie gou uit waar Dawid hom skuilhou en sodra Saul met die Filistynse besetting afgereken het, vertrek hy met drieduisend uitgesoekte soldate om weereens vir Dawid te gaan jag.
Op die plek waar Saul verwag het om Dawid te kry, is daar egter nie ‘n teken van lewe nie. Tussen die onherbergsame berge merk hulle ‘n verlate skaapkraal op. Dit is gebou voor die ingang van ‘n grot. Daar is niemand in sig nie en die koning het ‘n groot nood. Sy waardigheid is van uiterste belang, en dan besluit hy om buite sig van sy manskappe in die grot rustig te gaan verkeer om sy nood te verlig!
Wat Saul egter nie weet nie, is dat Dawid-hulle die soldate al van ver af sien aankom het. Hulle besluit om diep in hierdie grot te gaan skuil. Alle tekens van hulle teenwoordigheid word versigtig verbloem. Maar dan, tot hulle groot ontsteltenis hoor hulle hoe die voetstappe van die soldate al nader kom, reguit na hulle grot toe. By die skaapkraal gaan die soldate staan, en dan hoor hulle die voetstappe van slegs een enkele man opklim na die grot toe. Een van die manne loer versigtig om te sien wat aan die gang is. “Dis Saul, die koning!” fluister hy verskrik vir Dawid. “Wat gaan ons maak?”
Dawid beduie vir sy manne om doodstil te bly: “Kom ons wag en kyk wat hy gaan doen.” Met bonsende harte sien die manne daar uit die stikdonker van die grot hoe die koning behaaglik sy sit kry!
Dawid se hart bokspring in sy keel, want skielik besef hy dat Saul op hierdie oomblik stoksiel alleen daar in die grot sit, en dat hy uiters kwesbaar is. Die manne is opgewonde - hulle beduie vir Dawid dat dit nou sy kans is om van Saul ontslae te raak. Hulle por hom aan om die daad te gaan pleeg.
Stil soos ‘n kat sluip Dawid op Saul af - as hy net nie nóú omkyk nie! Nog net tien treë.... Hy moet katvoet trap sodat daar nie ‘n sweempie van ‘n geluid is nie. Hy klem die vlymskerp mes in sy hand vas. Sy kneukels is spierwit en sy hand natgesweet van spanning. Nog vyf treë. Dawid meet waar hy Saul se keel moet afsny, maar dan begewe sy moed hom. “Ek kan dit nie doen nie!” skreeu dit in hom. Nog twee treë ...... een tree, en dan is Dawid reg agter die niksvermoedende Koning Saul. “Nee! Nee!” skreeu dit in Dawid se gemoed, “Hy is dan die gesalfde van die Here - ek kan - ek durf dit nie doen nie!”
Dan sak Dawid op sy knieë. Geluidloos tel hy Saul se mantelpunt op, en sny dit af. Versigtig staan hy op en verdwyn weer in die pikdonker van die grot.
“Wat het jy gedoen? Waarom het jy hom nie doodgemaak nie?” raas sy manne fluisterend met Dawid.
“Mag die Here my daarvan bewaar dat ek my hand teen die koning oplig, want hy is die gesalfde van die Here.”
Met ‘n lied in die hart staan Saul op, verlig van sy laste. Salig onbewus van die drama wat so pas reg agter hom afgespeel het, stap hy uit die grot uit. Maar skaars is hy buite of hy kry die skok van sy lewe. Agter hom, uit die bek van die grot kom ‘n harde stem - ‘n stem wat hy maar al te goed ken. “My heer die Koning!” roep die stem van sy aardsvyand, Dawid. Saul wil tien dode sterf as hy met ‘n spierwit geskrikte gesig omkyk en vir Dawid laag voor hom sien buig!
“Wat is die betekenis hiervan? Hoe het dit gebeur?” wil Saul nog vra, maar dan hoor hy hoe Dawid vir hom vra waarom hy na praatjies luister van mense wat sê dat Dawid sy ondergang soek. Dan wys Dawid hom die mantelpunt wat hy daar in die grot afgesny het. Met bewende vingers voel Saul aan sy mantel en tot sy skok voel hy dat die punt weg is. “So maklik kon hy my keel afgesny het!” tref die skokkende besef vir Saul.
“Is dit jou stem, my seun Dawid?” huil Saul bitterlik, skaam omdat hy so onnodig vir Dawid vervolg en skaam omdat Dawid hom absoluut geen leed wil aandoen nie. “Jy is ‘n beter man as ek, Dawid.” snik Saul met ‘n stukkende hart, “ek weet dat jy koning gaan word oor Israel.”
Saul belowe vir Dawid dat hy hom nie verder sal vervolg nie, maar hy pleit terselfdertyd dat Dawid, wanneer hy eendag koning is, nie Saul se nageslag sal uitroei nie.
Dawid stem in, maar hy bly steeds in die bergskuiling. Hy het vir Saul leer ken, en hy weet dat Saul baie gou gaan vergeet van al sy mooi beloftes.
Weereens sien ons hoe die Here vir Dawid bewaar het, maar ook hoe Dawid liefde uitleef teenoor sy vervolger. Daar is geen haatgevoelens in hom nie, al jag Saul hom soos ‘n wilde dier. Ons kan so baie van Dawid leer - hoe tree ons op teenoor mense wat ons benadeel? Jesus het gesê dat ons selfs ons vyande moet liefhê! Hier demonstreer Dawid dit prakties. Bid hard daaroor dat die Here vir my en jou die genade sal gee om die mense wat ons benadeel, steeds met ‘n passie lief te hê!
Gebed:
Here, ek struikel in hierdie opsig so dikwels. Leer my om onvoorwaardelik lief te hê!