Genesis 16:1-6
Dit is alreeds tien jaar wat Abram en Sarai die belofte van die Here in hulle harte dra - die belofte van ‘n groot nageslag. Abram is 85 en Sarai 75. Abram het so pas bevestiging gekry van die Here dat die belofte steeds vas staan. Maar Sarai? Het die Here dalk van haar vergeet? Die frustrasie van wag en wag, en niks gebeur nie bou op tot ‘n breekpunt in die ou vrou. Dit is nou maar eenmaal so dat die samelewing ‘n vrou beoordeel volgens die aantal kinders wat sy in die wêreld bring. En wat kan sy aan hierdie beoordelende samelewing wys? Niks! ‘n Ronde nulletjie! God het haar beslis vergeet! Sy kan nie langer die verskriklike skande van kinderloosheid verduur nie. Dalk het hulle vir God verkeerd verstaan oor hierdie nageslag-belofte. Haar ou man se geloofsore hoor dalk nie meer so lekker nie. Het hy nie dalk verkeerd gehoor nie?
Stadigaan begin ‘n plan in Sarai se kop vorm aanneem. Wat van surrogaatmoederskap? Dit was tog algemene gebruik in die Ooste dat ‘n kinderlose vrou haar slavin vir haar man gee om kinders te kon verwek namens haar. Daardie kind word dan as die vrou se eie aangeneem. Sou dit nie dalk ‘n goeie oorweging wees nie? Almal doen dit tog!
“Ou Man,” skud sy vir Abram wakker. “Slaap jy?” Natúúrlik slaap Abram, maar nou is hy mos klaar wakker, en hy luister: “Ek het ‘n plan!” Sarai verduidelik. Ek is seker dat die ou gryse eers wou teenstribbel, maar as ‘n vrou so opgewonde is oor ‘n plan soos Sarai nou is, dan praat ‘n man mos nie terug nie! Om die vrede te bewaar, stem Abram in met haar slim plan. En so word Hagar dan gebruik as surrogaatmoeder vir Abram en Sarai se baba, en boonop verhoog haar status tot “vrou.”
En dis net dáár waar die moeilikheid begin, want skaars was Hagar swanger, of die intriges steek kop uit. Hagar dink sy is beter as haar baas, Sarai en sy minag haar. ‘n Onhoudbare situasie het nou totaal ondraaglik geword, want nou was daar nie alleen die duiwel van kinderloosheid nie, maar boonop ook die demoon van verwerping en minagting. Wat doen sy? Natúúrlik is dit alles Abram se skuld! Al wat die arme Abram kon doen, ws om in desperaatheid maar net sy hande in die lug op te gooi. Dit laat ‘n mens nogal terugdink aan die tragedie wat in die Tuin van Eden afgespeel het, nê? Ja, dit wás Eva wat die vrug gepluk het, en dit wás sy wat dit ook vir Adam gegee het, maar Adam kón immers nee gesê het. Het hy nie van beter geweet nie? Was dit nie hý wat persoonlik met God gepraat het nie?
En Abram? Vasgevang tussen twee bitsige vroue, doen Abram presies wat Sarai vir hom sê. Hy swig voor die tong van sy vrou, en degradeer vir Hagar weer tot doodgewone slaaf. Met haar nuwe posisie as “vrou” daarmee heen, besluit sy om weg te loop.
Wat het dit alles vir Abram in die sak gebring? Sy versuim om van die begin af die regte leiding te gee in sy huis, dompel hom en sy hele nageslag in die ellende. Dalk was hierdie maar ‘n nietige gebeurtenissie in die geskiedenis, maar die gevolge was astronomies, want hierdie enkele insident het vir eeue daarna spanning veroorsaak tussen die nasate van Hagar en Abram. Bloedige oorloë is geveg, en selfs vandag, 4000 jaar later, loop die spanning steeds hoog tussen die twee afstammelinge van Abram.
Dink dus baie mooi oor die gevolge wanneer jy iets onbesonne aanvang!
Hagar het koers gekies na Egipte, haar geboorteland. ‘n Eensame, mismoedige swanger vrou alleen op reis deur die dorre wildernis. Waarom het Abram ooit toegelaat dat sy haar op hierdie moordende selfvernietigingsreis begewe? Sou Hagar ooit hierdie verskriklike tog oorleef? Sou die Here haar ook genadig wees? Sy is immers nie deel van die bloedlyn van die volk van God nie? Daaroor sal ons DV in die volgende dagstukkie gesels.
Maar nou eers die belangrike les wat ons leer uit vandag se verhaal: Dikwels gebeur dit dat die Here vir ons beloftes gee, en dan raak ons ongeduldig wanneer die beloftes ‘n bietjie te lank na ons sin draai. So maklik wil ons dan maar sake in ons eie hande neem - net om God so ‘n bietjie aan te help. Die gevolge kan katastrofies wees.
Kom ons neem ‘n eenvoudige voorbeeld: Die Here sê vir my dat Hy vir my sal sorg terwyl ek sendingwerk doen. Daar is geen inkomste nie, en ek is totaal afhanklik van mense wat die Here op my pad stuur vir my onderhoud. Dan gebeur dit op ‘n dag dat niemand opdaag nie, en ek sit in groot nood. Ek besluit dat ek die Here so ‘n bietjie gaan aanhelp deur te kyk of ek die R100 wat ek nog oor het kan laat groei by die kasino. Ek bid hard dat die Here my sal laat wen (baie edel!) Iemand wat ek bearbei op die sendingveld, sien my daar raak, en dink dat dit ‘n goedkeuring is om maar te dobbel. Nou is dit nie meer net ek sélf wat beïnvloed word deur my besluit nie, maar ook ander mense. Die gevolge is legio!
Kom ons plaas ons volle vertroue vandag op God, en wees geduldig as Hy dinge op Sy eie tyd doen.
Gebed:
Here, ek wou al so baie keer my eie kop volg en U aanhelp met U beloftes. Vergewe asseblief, Here.