Sara

31 March, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Sara

Genesis 11:10 tot 12:3

Video

Audio

Duisende jare gaan verby voordat ‘n vrou weer te voorskyn tree in die bladsye van die Bybel. Die oergeskiedenis moes eers volledig afspeel tot met Noag en die Toring van Babel. Intussen het baie water in die see geloop, letterlik.

En dan tree hierdie beeldskne vrou na vore, haar naam – Sarai. Negentig jaar later verander God haar naam na Sara.

Sara loop weliswaar in die skadu van die stoere ou geloofsheld Abraham. Maar tussen die lyne kry ons tóg ‘n kykie na die lewe van hierdie formidalele vrou wat op 90 ma geword het.

Op ‘n jeugdige ouderdom slaan hierdie beeldskone meisie Abraham se voete skoon onder hom uit en hulle haak af en trou in die land Ur, die huidige Irak. Kort na hulle troue kry skoonpa Tera die treklus en Abraham en Sara moet saam na Haran, iewers tussen Turkye en Sirië.

Maar daar was ‘n probleempie. Na talle probeerslae was daar steeds géén teken van ‘n nageslag vir Abraham en Sara nie. Sara was onvrugbaar! Dit was ‘n reuse probleem, want ‘n nageslag was vir die mense van daardie tyd ononderhandelbaar.

Baie jare het verby gegaan in Haran en die paartjie het skatryk geword uit die vrugbare aarde. Abraham was reeds 75 jaar oud en Sara 65. En dan, op ‘n dag kom Abraham ‘n vreemde gewaarwording agter. Dit was asof iemand met hom praat in ‘n onhoorbare stem. Abraham was onrustig. Iewers hier in sy binneste sê die stem vir hom dat hy moet trek. Trek!!! Waarheen? Weg, uit hierdie paradys uit? Nog nooit! Hy wat Abraham is, sal sékerlik gek moet wees om uit hierdie lushof weg te trek. Deur die jare het hy al vergeet van Ur. Haran het nou sy land geword. Hy skree selfs vir die plaaslike rugbyspan!

Maar die stem het nie weggegaan nie, maak nie saak hoe hard Abraham probeer het om dit te ignoreer nie. “Trek uit jou land uit,” het die stem gesê, “weg van jou mense en jou familie af na die land toe wat Ek jou sal aanwys.”

Stadigaan het Abraham begin besef dat hierdie stem niemand anders s’n is nie as dié van God. Ek is séker dat Abraham aanvanklik geprotesteer het. Hierdie is nie ‘n maklike opdrag nie. “Besef die Here ooit wat ek en Sara alles sal moet prysgee om hierdie opdrag uit te voer? My besittings kan ek dalk saamvat, Here, en my slawe en my mooi Sara. Maar wat van al my vriende? En my familie? Pa Tera? Hy is al te oud om nog ‘n trek te kan oorleef. Hy trek darem al hier naby die tweehonderd!”

Om vandag van jou familie af te moet wegtrek is dalk vir baie van ons ‘n groot verligting. Familiebande is nie meer sterk nie. In Abraham en Sara se tyd was familiebande absoluut onbreekbaar. Dit was seker die héél belangrikste deel van jou lewe. Jy het net eenvoudig nie weggetrek van jou familie af nie, dit was taboe. En nou kry Abraham hierdie opdrag van dié God wat hy so liefhet en so respekteer. Dit was seker die swaarste opdrag wat hy óóit in sy lewe gekry het.

Met ‘n swaar hart neem Abraham die besluit: “Ek sal doen wat U vra, Here.” Met trane wat stroom oor sy wange gaan deel hy die bitter nuus met Pa Tera. Nee, hy het nie eers die vaagste benul waarheen hy gaan nie, maar die Here sal weldra nog vir hom verduidelik.

En dan kry Abraham weer daardie vreemde gewaarwording, dat iemand met hom praat, Iemand baie groter as hy: “Abraham,” sê die stem in sy binneste, “Ek sal jou ‘n groot nasie maak, Ek sal jou seën en jou ‘n man van groot betekenis maak.” Die Stem het nog baie ander dinge ook gesê van seën en van al die volke van die aarde wat in hom, Abraham geseën sou word, maar hy het nie meer geluister nie, want sy gemoed was te vol. Abraham hardloop na Sara toe en vertel haar wat die Stem in hom gesê het. Wat sou dit beteken? Sou daar tog uiteindelik na al die jare van probeer en nogmaals probeer, ‘n afstammeling vir hulle wees?

“Kom, ons moet oppak!” sê hy vir sy beeldskone liefling. “Ons moet maak soos God sê, al verstaan ons dit gladnie.”

In Sara se kop weergalm Abraham se woorde: “Kom, ons moet oppak!” Eers wou sy bly word, want sy het gedink dat hulle dalk vir die familie in Ur gaan kuier, maar toe sien sy die kyk in haar man se oë, en sy weet: hierdie “oppak” beteken dat alles - ALLES - opgepak moet word, en dat hulle permanent gaan wegtrek.

Ek weet presies hoe Sara moes gevoel het, want ek het ‘n paar jaar gelede ook deur die trauma van “oppak” gegaan. Veertig jaar se goed wat ek opgegaar het moes skielik weg, want daar was nie plek om dit saam te neem nie. Daar het sekerlik ‘n swart wolk oor Sara se kop gehang. Wat sou nou skielik in haar man se kop gevaar het? Het hy nie dalk dieselfde gier gekry wat Skoonpa Tera die dag daar in Ur gepak het toe hy besluit het om te trek nie? Nee wat, sy sal maar vir Abraham uit hierdie ding moet uitpraat. Sy kan ook nie eers agterbly nie, want ‘n vrou se plek is mos by haar man. Saam sal sy moet saam!

More gesels ons DV verder oor hierdie spannende drama waarin Sara haarself skielik bevind.

Gebed:

Here, U gee ons dikwels opdragte wat vir ons so onverstaanbaar en onlogies lyk. Leer m asseblief om U opdragte onvoorwaardelik te aanvaar.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026