Amos 8:4-14
Ek staan by die toonbank van die winkel wat boumateriaal verkoop. Ek het kom voorraad koop vir my baas - dit word opgeskryf vir die einde van die maand. “Vier emmers”, praat die ou Moslem hardop terwyl hy skryf. Tot my skok sien ek hoe hy nie 4 nie maar 7 skryf. “Ek dink jy het ‘n fout gemaak”, help ek hom reg. En daar bars die man in ‘n stortvloed van woorde uit oor hoe belangrik ons bouers vir hom is en dat hy nooit bedoel het om verkeerd te skryf nie. Maar ek sien sommer dwarsdeur hom, dat dit sy ou streek is, en dat hy maar net bitter jammer is dat hy hierdie slag uitgevang is!
“Besigheid is besigheid!”, hoor jy dikwels die ou ge-ykte uitdrukking, en dan beteken dit eintlik dat as jy iemand kan verneuk, dan dóén jy dit - sorg net dat jy dit só slim doen dat jy nooit uitgevang word nie. “Tyd is geld”, is ‘n ander uitdrukking wat jy dikwels hoor, ‘n gedagte wat dikwels tot groot hoogtes gevoer word!
Amos is omgekrap! Hy het gesien hoe die sakemanne mense blatant verneuk, dit was nie reg nie! Maar dit was nie sy persoonlike gevoel nie, dit was die Here wat hierdie onreg op sy hart gelê het. In die eerste plek het hierdie manne nie die nodige eer aan die Here gegee nie. Die feesdae was veronderstel om tot eer van Hom te wees, en die uitdrukking: “Tyd is geld”, het die feesdae vir hulle ‘n groot las gemaak, want dan kon hulle nie sake doen nie. Hulle het die feesdae gesit en omwens, en die minuut as dit verby was, het hulle weer ingespring om geld te maak. Ja, natuurlik het hulle nie op die feesdae sake gedoen nie, want hulle wou met hulle uiterlike godsdiens die Here tevrede stel, en natuurlik vir hulle kliënte wys hoe getrou en godsdienstig hulle was. Hulle beeld moes nie skade ly nie!
Maar as die mark weer oop was, het hulle weer sake gedoen soos gewoonlik. Daar was egter ‘n kinkel, want hulle sake was nie altyd so eerlik nie. Hulle het allerhande slim sette gebruik om meer geld te maak. Hulle het skelm die gewigte ligter gemaak, en wanneer ‘n ding geweeg was, het dit dan swaarder gelyk as wat dit werklik was. Die koper het dus minder gekry as waarvoor hy betaal het. Daar was boonop gepeuter met die skale sodat hulle die verkeerde gewig sou wys. Boonop was daar allerhande vreemde goed soos sand of kaf saam met die koring in die sak gegooi sodat dit meer kon lyk.
Nie alleen was hierdie praktyke oneerlik nie, maar dit was veral die arm mense wat hierdeur uitgebuit was. Dit het hulle dan selfs nog meer verarm. Dit het so erg gegaan dat hierdie mense dikwels as slawe verkoop was om hulle skuld te delg.
Die man wat aan my die emmers verkoop het, was ‘n Moslem. Volgens sy geloof kon hy maar verneuk, solank dit nie sy eie mense was nie. Die mense waarvan Amos praat, was egter die volk van God, die gelowiges. Hulle het die Wet gehad, en hulle het van beter geweet! Juis daarom was die straf van God oor hulle baie groot. Hy was genadig en Hy het talle male probeer om hulle te oortuig om die regte pad te loop, maar hulle het hardnekkig geweier, en maar net in hulle gierigheid voortgestoom.
Vandag kan ons vinger wys na al die verskriklik baie onreg wat in ons land aangaan. Korrupsie is aan die orde van die dag en veral die armes word daagliks uitgebuit. Ons sien daagliks hoe die groot seders val, manne en vroue wat héél bo op die stellasie sit. Nie net politieke leiers nie, maar ook bestuurders van reuse maatskappye. Die armstes word uitgebuit deur ’n gekonkel van miljarde rande. Allerhande slim skemas op die internet lok mense wat in finansiële moeilikheid is uit om “vinnig” sommer groot geld te verdien. Reuse rentes word beloof, en dan verdwyn jou laaste bietjie geld in die swendelaars se gulsige sakke in. Hierdie goed laat jou nekhare rys!
Maar dit is nie waaroor Amos met my en jou wil praat nie. Dis nie die heidene, die ongelowiges se streke wat hom bekommer nie. Dis die gelowiges wat aangespreek word! Is ons eerlik wanneer ons ‘n belastingvorm invul? Is ek eerlik in my werksomstandighede? Buit ek nie dalk iemand uit nie, verryk myself ten koste van iemand anders? As ek ‘n produk van swakker gehalte verkoop teen dieselfde prys as sy duurder maat, buit ek die kliënt uit. Deur roofkopieë te maak van CDs of DVDs, beroof ek die kunstenaar van sy inkomste, en as ek sulke roofkopieë by ‘n smous koop, is ek steeds net so skuldig. Dis diefstal. As ek as ambagsman vir ‘n uur se werk vra terwyl ek slegs tien minute geneem het om die werk te doen, buit ek die kliënt uit. Amos vra elke gelowige om sy sake eerlik te doen, en niemand uit te buit nie. Kom ons doen so!
Gebed:
Here, help my asseblief om altyd eerlik te wees in my sake.