Lukas 1:5-25
“Eendag, lank, lank gelede....” Dis hoe sprokiesverhale begin. Die storie speel iewers in die verre verlede af met fiktiewe karakters. Lukas se verhaal is soveel anders. Dit het ‘n besliste plek in die geskiedenis, in die tyd toe Herodus die Grote oor Judea regeer het. Die karakters in die verhaal is bekende mense.
Ons ontmoet die priester Sagaria uit die priesterorde Abia, een van 18’000 priesters en Leviete in Palestina. Elkeen van die 24 priesterordes moes twee keer per jaar vir ‘n week lank tempeldiens doen.
Sagaria was ‘n vroom Godsdienstige leier, getrou aan die Wet van God. Dit was ‘n groot teenstelling met baie van die Godsdienstige leiers met wie Jesus later te doene sou kry. Sagaria se vroomheid het uit sy hart gekom. Hy het ‘n opregte liefde vir God gehad, baie anders as die meeste ander waar dit gegaan het om eiegeregtigheid.
Sagaria en sy bejaarde vrou Elisabet het een baie groot probleem gehad: hulle was kinderloos. Dit was in daardie tyd ‘n skande. Dit was 'n hopelose situasie, want albei was al te oud vir kinders. Hoe ironies, dat die ouers van die seun wat die voorloper vir die langverwagte Messias sou word, niks gehad het om te wys nie, niks wat daardie droom sou kon verwesenlik nie!
Lukas begin sy verhaal in die Tempel in Jerusalem en 24 hoofstukke verder eindig sy verhaal weer in dieselfde Tempel. Dit is baie belangrik, want vir die Jode was dit die woonplek van God op aarde, en dáár het Hy Sy teenwoordigheid onder die volk bekend gemaak met die koms van die Christus. Lukas skryf egter sy verhaal in ongeveer 85nC, dus 15 jaar nadat die tempel alreeds deur die Romeine verwoes is.
Daar is egter ook ‘n ander uiters belangrike saak waarop Lukas ons aandag wil vestig: die krag van gebed. Lukas vertel dat die volk buite die tempel besig was om te bid terwyl Sagaria in die tempel besig was. Hulle kon nou wel nie sélf deelneem aan die priesterlike handelinge nie, maar hulle kon deur hulle gebed steeds deel wees daarvan. Vir ons as lesers van die Evangelie skep dit ‘n verwagting: dáár waar mense saam bid kan iets baie dramaties gebeur! Nee, ons kan nie vir God manipuleer deur gebed nie, maar deur ons gebed kan ons besef hoe afhanklik ons in werklikheid van God is. So ervaar ons Sy liefde in sy volle intensiteit.
Op dié besonderse dag word Sagaria aangewys om die wierook op die altaar te gaan brand. Buite hoor hy hoe die volk besig is om te bid. Vir hom is dit ‘n doodgewone werksdag, en met groot toewyding begin hy om sy taak te verrig. Hy plaas ‘n wierookoffer op die altaar soos hy al vir baie jare gedoen het. Maar dan kry hy skielik ‘n gewaarwording wat sy hare laat regop staan. Hy voel dat hy nie alleen is in die heiligdom nie! Regs van die altaar staan daar skielik iemand. Sagaria skrik hom boeglam as hy geskok hierdie vreemde persoon aangaap. Dan praat die man, en dadelik weet Sagaria dat hierdie nie maar ‘n gewone man is nie, maar 'n engel van die Here, niemand anders nie as Gabriël, een van die troonengele van God wat namens God mag praat. Dit is iets wat slegs gebeur by baie besonderse geleenthede, en daarom Sagaria se vrees.
Die engel stel hom gerus, en dan kondig hy aan dat Sagaria en Elisabet se gebed beantwoord is. Hulle sal op hulle oudag ‘n seuntjie hê, maar hierdie kind sal ‘n baie besonderse plek vervul in God se groot Raadsplan. Hy sal alreeds met die Heilige Gees vervul wees van sy geboortedag af. Sy groot taak sal wees om die pad voor te berei vir die Messias, die Seun van God. Hierdie kind het die taak om die volk se gedagtes op God te fokus sodat hulle die Messias sal herken. Die Heilige Gees sal hom die krag gee om ‘n ware profeet van God te word, een wat selfs Elia se skoene sal volstaan.
Sagaria skud sy kop in ongeloof. “Dis onmoontlik”, dink hy. “Hoe sal ek weet of dit waar is?” vra hy vir die engel. God bewys Sy almag deur Sagaria stom te maak.
Die menslik-onmoontlike gebeur, en Elisabet, ‘n ou vrou raak swanger. Lukas skets hier dat daar vir God absoluut niks onmoontlik is nie. Sy almag is sonder perke! Terwyl Sagaria sy tong kan afbyt dat hy getwyfel het, jubel Elisabet, want sy het geweet dat God se belofte besig was om in vervulling te gaan.
Wonderwerke het nie opgehou by Sagaria of selfs by Jesus se bediening nie. Dag-vir-dag beleef ek God se ongelooflike wonderwerke in my lewe. Elke dag begin vir my met ‘n wonderwerk, wanneer hierdie dagstukkie gebore word, want ek is nie uit my eie in staat om dit te skryf nie. Sy Vaderlike voorsiening in my lewe is asemrowend en ek is totaal van Hom afhanklik. Ek kan Hom maar net loof en dank.
Gebed:
Dankie Here, dat U my so op U liefderyke hande dra elke dag van my lewe!