Rykes en die Hemel

10 August, 2017
Luister Na Hierdie Dagstukkie Rykes en die Hemel

Matteus 19:13-30

Kan ryk mense ook in die hemel kom? Hierdie is ‘n baie ontstellende vraag, veral in die land waarin ons bly, waar daar baie skatryk mense is. Ballito, is beslis nie ‘n “goedkoop” dorp nie! Nét waar jy kyk verrys daar peperduur, luukse paleise, dikwels in 'n lowergroen woud waar bokkies vry rondloop. Sommige “kastele” hang oor 'n afgrond, met 'n asemrowende mooi uitsig oor die wye oseaan. Baie bly in elíte sekuriteitskomplekse net vir die rykstes van die rykes bedoel.

Die probleem is, dat as ’n mens baie ryk is, dan vergeet jy so maklik van jou totale afhanklikheid van God, en jou vertroue is dikwels op jou eie vermoëns of jou rykdom wat jy versamel het. En dan kom die vraag onwillekeurig by jou op: kan sulke skatryk mense óóit deel hê aan die Koninkryk van God? Die verhaal van die ryk jongman gee die indruk dat iemand wat baie ryk is nie in die hemel kan kom nie.

Kom ons gaan kyk ‘n bietjie wat Matteus oor hierdie netelige kwessie skryf. Hy beskryf ‘n insident waar ‘n baie ryk jong man by Jesus om raad kom aanklop. Die man wil weet wat hy moet doen om die ewige lewe te kan kry. Dan toets Jesus hom. Natuurlik moet hy mos die gebooie onderhou en verseker doen hy dit ook. Dit kan sekerlik egter nie genoeg wees vir so 'n groot saak soos die ewige lewe nie? Inderdaad, verduidelik Jesus, daar is nog een ding wat staan tussen hom en die ewige lewe: sy rykdom! Dáárvan is hy beslis nie bereid om afstand te doen nie! Dan laat Jesus die bom bars: vir ‘n ryk persoon is dit bitter moeilik om in die hemel te kom! Dit is byna so onmoontlik as wat jy ‘n kameel deur ‘n naald se oog kan druk! Só moeilik is dit vir ‘n ryke om die ewige lewe te hê.

As ons nou hierdie vertelling van Matteus net daar sou ophou lees, is dit genoeg om enige ryk persoon in ‘n verskriklike depressie te laat verval. Dan sou dit mos beteken dat geen ryke óóit die hemel sal bereik nie. Die dissipels is baie ontsteld as hulle hoor wat Jesus sê, want dit is baie duidelik dat dit hier nie net oor rykes gaan nie. Dit impliseer ook dat álle mense hierby ingesluit is. Dit is met ander woorde totaal onmoontlik om die ewige lewe te kan verdien!

Genadiglik skryf Matteus ook die res van Jesus se gesprek neer. Dit is eers wanneer jy die res gelees het, dat jy begin verstaan wat Jesus werklik met hierdie woorde bedoel het.

Jesus begin verduidelik dat dit wel vir ‘n mens onmoontlik is om die saligheid te kan verdien, maar dat enigiets tog moontlik is vir God. Hy lê die klem op die genadekarakter van die ewige lewe. Dit is nie iets wat verdien kan word nie. Slegs God kan dit moontlik maak! Hy gee die ewige lewe uit genade vir diégene wat bereid is om Hom onvoorwaardelik te volg.

Dan vra Petrus: “Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. Wat sal ons daarvoor kry?” Ons wil eintlik moedeloos raak met Petrus, want dit wil lyk asof hy 'n dik swart streep trek dwarsdeur die genadekarakter van die ewige lewe! Die dissipels moet darem op ‘n manier beloon word vir hulle groot opoffering, en al hulle ontberings, is dit nie so nie? Dit was baie beslis nie maklik om Jesus te volg vir drie jaar lank nie. Hulle moes van genadebrood lewe. Hoeveel keer moes hulle nie koud en nat in die veld slaap nie? Hoeveel keer moes hulle nie deurloop onder die skerp tonge van die Fariseërs en Skrifgeleerdes nie, en dit ter wille van die dinge wat Jesus gesê of gedoen het? Hoeveel honderde, dalk duisende kilometer moes hulle nie te voet aflê van dorpie na dorpie nie, dikwels deur die dorre woestyn? Swaarkry was elke dag 'n integrale deel van hulle lewe.

Inderdaad sal daar ‘n loon wees! Die loon hier ter sprake is egter genadeloon. Dit is net ‘n ander manier om die “skat in die hemel” te beskryf waarvan Jesus praat in Matteus 19:21. Maar dan kom Jesus in Matt. 19:30, en Hy sny al die verdienste-redenasies by die wortel af, want wat mense dink eerste is, is nie noodwendig vir God eerste nie. Alhoewel die dissipels se loon baie groot sal wees - hulle gaan immers heersers wees in die Koninkryk - bly die ewige erfenis ‘n “loon” ver buite verhouding tot dít wat hulle ingesit het. Die hemelse dividende op hulle aardse belegging is nie 10% of 20% of selfs 100% nie, maar 1000%. Dit maak hierdie “belegging” oor en oor die moeite werd. En die bonus wat jy boonop nog kry is van onskatbare waarde: die ewige lewe!

Die Here vra van jou en my om ‘n bietjie opofferings te maak in ons lewe. Dit mag moontlik deel wees van jou rykdom wat Hy vra, of dalk jou kosbare tyd. Dit mag wees dat Hy wil hê dat jy uit jou gemaksone moet klim en dinge doen waarvoor jy bang is. Dit mag dalk beteken dat jy gevare moet trotseer, dalk Bybels in ‘n ontoeganklike land insmokkel. Dalk vra dit dat jy die gevaar staan om jou vriende te verloor as jy praat oor dinge wat verkeerd is. Dan moet jy egter weet dat, alhoewel jy eendag daarvoor beloon sal word, ons nie sommetjies moet probeer maak in ons verhouding met God nie. Onthou één ding: Alles, álles is genade, onverdiende guns alleen!

Kan ryk mense ook in die hemel kom? Wat vir my en jou onmoontlik lyk, is vir God méér as moontlik!

Gebed:

Dankie Here, dat U genadig is, en dat dit nie op grond van ons verdienste is wat ons die saligheid kry nie, maar suiwer op grond van U groot genade. Dankie dat U dit alles moontlik gemaak het deur U Seun, Jesus.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026