Romeine 8-16
Wanneer Paulus by die venster uitkyk, sien hy die eerste lentebloeisels in Korinte. Nuwe lewe ná die snerpende winter! Hy draai om na sy sekretaris: “Daar is dan nou geen veroordeling vir diegene wat in Christus Jesus is nie.” (Rom 8:1,2). Jesus gee ons nuwe lewe, net soos wat die natuur elke lente wys dat daar lewe na die winterdood is.
Paulus besef maar ál te goed dat sy tydjie in Korinte nou vinnig besig is om uit te loop. En nou wink Jerusalem vir hom. Maar eers wil hy 'n draai gaan maak in Sirië op pad na Jerusalem. Hy is sommer opgewonde nét oor die gedagte om weer in sy geliefde stad, Jerusalem te kom, dáár waar hy só baie mooi herinneringe het van die tyd toe Gamaliël hom van die dieper dinge van die Woord geleer het. Hy bars sommer uit in 'n lofsang, en die arme sekretaris moet skryf dat die biesies bewe. In 11:33-36 sing hy ‘n loflied:
“O, diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, en hoe onnaspeurbaar sy weë! Want wie het die gedagte van die Here geken? Of wie het as sy raadsman opgetree? Of wie het eers gawes aan Hom gegee, vir wie Hy dit sou moes vergoed? Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom kom die heerlikheid vir ewig toe! Amen.”
Paulus het 'n groot deel van die brief gewy aan die wet, en veral vir die nie-Jode wat die brief gaan lees, is dit iets wat hulle nie maklik verstaan nie. Dus besluit Paulus dat dit dalk goed sal wees om vir hulle te skryf hoe 'n gelowige dan behoort te lewe. Hy sal vir hulle 'n paar riglyne gee. Wat verwag die Here van jou?
In hoofstuk 12 begin hy: “Broers, op grond van die barmhartigheid van God roep ek julle dus nou op om julle liggame beskikbaar te stel as 'n offer wat lewend en heilig is, en vir God aanneemlik. Dit is julle sinvolle godsdiens.” Dan lê hy 'n klompie riglyne neer oor hoe God gedien behoort te word. En onthou: mense dien Hom op verskillende maniere, want ons is verskillend met verskillende gawes. Die belangrike is dat elkeen die Here voluit moet dien met die gawe wat hy ontvang het.
In vers 9 skryf hy ‘n baie belangrike ding: “Julle liefde moet ongeveins wees. Verafsku die kwaad; hou vas aan die goeie. Julle moet mekaar liefhê met innige broederliefde. Gaan mekaar voor in eerbetoning.”
Liefde, en veral hartlike liefde vir jou medegelowiges is iets wat só belangrik is, dat jy dit net eenvoudig nie kan oorbeklemtoon nie. Maar dit mag nie maar net 'n hartsliefde wees nie, dit moet praktiese liefde wees. As 'n medegelowige in nood is moet jy help. Vertroos wanneer iemand bedroef is. Betoon hartlike gasvryheid. En kuier nét so lekker saam met diegene wat héél onder op die sosiale leer is as diegene daar bo. Vers 16: “Wees eensgesind onder mekaar; moenie hoogmoedig wees nie, maar skaar julle by die nederiges.”
En dan is daar natuurlik eensgesindheid! Een van die ernstige kwale van die ou Afrikanervolkie is dat dit só bitter moeilik is om eensgesind te wees. Ons kry dit nie eers reg om onder mekaar eensgesind te wees nie, wat staan nog met ander kulture! Die drie “Susterskerke” het presies dieselfde belydenisskrifte en glo presies eenders, maar saamstaan is verniet! Kan ons nie maar vir een keer ons verskilletjies vergeet en eensgesind wees nie?
Paulus begin sy brief afsluit. Maar eers is daar nog 'n paar baie belangrike dinge wat hy die gemeente in Rome op die hart moet druk, asook vir ons vandag. In hoofstuk 13 praat hy van jou verpligting teenoor die owerhede. Hy besef maar ál te goed hoe korrup die regering in Rome is. Sy lesers moet egter baie goed besef dat God hierdie regering hulle gesag gegee het! As hulle daardie gesag misbruik, is dit 'n saak tussen hulle en God. Maar omdat God hulle die gesag gegee het, is dit die gelowiges se plig om stééds daardie gesag te eerbiedig, want sodoende eerbiedig hulle God. Minag ons die regering se gesag, dan minag ons God!
Natúúrlik is daar perke, want as die regering van my sou vra om iets te doen wat teen God se wil is, dan moet ek God eerbiedig eerder as die owerhede, al beteken dit dan ook straf vir my.
In hoofstuk 14 skryf Paulus oor 'n ander sensitiewe sakie, naamlik dat ons tog só lief is daarvoor om mekaar te veroordeel. Die een doop klein en die ander doop groot. Die een hou stil en stemmig kerk en die ander dans en klap hande. En dan wys ons oor en weer vinger vir mekaar en sê: “Dis nie hoe dit gedoen moet word nie!” Paulus pleit by ons om ons verskille te los en elkeen sy plekkie in die son te gun!
Vir oulaas, voor hy groet, vertel Paulus vir die Romeine hoe graag hy by hulle wil uitkom. Miskien eendag........
En dan groet hy aan die einde van hoofstuk 16 met die woorde: “Aan Hom, die enigste en alwyse God, kom toe die heerlikheid deur Jesus Christus, vir ewig! Amen.”
Gebed:
Here, in hierdie laaste deel van Romeine sien ons van liefde, liefde en nogmaals liefde! Leer my asseblief om in ware liefde te kan leef met elkeen wat oor my pad kom!