Regters

13 January, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Regters

Miga 2:12-3:4

Video - Oudio

               

Op die oop veld loop ‘n klompie skape en blêr, hier drietjies en dáár nog ‘n handjievol. Doelloos, herderloos loop hulle en ronddwaal. Die veld is vol gevaar, jakkalse, rooikatte en allerhande ongediertes. Hulle weet nie waarheen om te gaan nie. Hulle is verlore. En dan kom daar ‘n herder en begin hulle bymekaarmaak. Hy jaag die klein groepies almal op ‘n bondel totdat daar ‘n groot trop skape bymekaar is op pad na die veiligheid van die kraal, weg van die dodelike kloue van al die roofdiere.

Skape wat sonder ‘n herder ronddwaal is soos ‘n ongeluk wat plek soek om te gebeur. Hulle is weerlose diere, en daar wag baie gevare op hulle. Mense is in ‘n sekere sin baie soos skape. Dalk is dit nou nie juis altyd ‘n vleiende ding om te sê nie! Maar Jesus het byvoorbeeld, in ‘n goeie sin mense vergelyk met skape. Hy het Homself gesien as die Herder, en die gelowiges Sy skape. Hierdie is ‘n baie mooi beeld wat Jesus se sorg vir Sy kinders uitbeeld.

Miga gebruik ook hierdie beeld. In die vorige gedeeltes het ons gesien hoe die Here oordeel, maar hier sien ons dat God ook weer die gedeelte van die volk wat steeds getrou gebly het, liefderyk bymekaar maak soos ‘n herder sy skape, en hulle na veiligheid bring. God se ontferming, Sy genade en liefde vir diegene wat in Hom glo, is baie groter as Sy oordeel.

Maar dan in die volgende hoofstuk, praat Miga weer oor die regters, en dan is hy baie ontsteld.

‘n Land se regstelsel bepaal die beskaafdheid van die land. Die prentjies wat geskilder word oor die destydse Wilde Weste was, om die minste te sê, totaal van alle reg gestroop. As die mense gedink het dat ‘n man skuldig is, is hy summier opgehang of doodgeskiet, dikwels sonder ‘n verhoor. Dit het in Barberton en Pelgrims Rus nie juis beter gegaan tydens die groot goud stormloop nie. Niemand was sy lewe seker nie, en skelmstreke, moord en doodslag was die norm van die lewe.

Vandag het Suid-Afrika eintlik ‘n baie goeie regstelsel, en oor die algemeen is die integriteit van die regters onkreukbaar. Maar in Miga se tyd was dit ‘n totaal ander saak. Soos wat dit ook vandag nog in baie dele van die wêreld totaal korrup is.

In Israel was daar baie duidelike riglyne waarvolgens ‘n regter moes handel. Eksodus 18 en Deuteronomium 1 lê die bepalinge neer waarvolgens ‘n regter moes werk. Miga skilder egter ‘n ontstellende prentjie waar die regters presies die teenoorgestelde doen as die voorskrifte bepaal wat in die heilige Skrifte neergelê is. Hulle steur hulle nie aan God se bepalings nie! In plaas daarvan dat hulle die goeie liefhet, haat hulle dit. En in plaas daarvan om die verkeerde dinge te haat, het hulle dit juis lief.

So erg was dit, dat Miga die regters vergelyk met slagters, in ‘n slegte sin. Hierdie regters maak met die mense wat hulle hulp nodig het soos wat slagters met ‘n dier se karkas doen. In die hof word die onskuldiges letterlik afgeslag en hulle velle afgetrek (figuurlik gesproke).

Dit beteken egter nie dat ons nou saam met Miga die vinger moet wys na die slegte regters nie. Miga praat terselfdertyd ook met doodgewone mense in hulle alledaagse lewe. Elkeen van ons is op die een of ander stadium ‘n regter wat ‘n beslissing moet gee. Dit kan in ons daaglikse lewe wees, in die kantoor, by die huis of in die gemeenskap. Daar kom situasies wanneer ons ‘n beslissing moet maak teenoor ons eggenoot, kinders of ouers. By die werk kan dit my werknemers wees of dalk my werkgewer of kollegas. Of dit kan dalk kliënte wees.

Elke sodanige besluit wat ek neem, moet ek kan meet aan die Woord van God. Is dít wat ek besluit volgens die norme van liefde wat Jesus neergelê het? As werkgewer hou ek byvoorbeeld nie baie van ‘n spesifieke persoon nie, want hy irriteer my, en nou soek ek enige moontlike geleentheid om “wettig” van hom ontslae te raak. ‘n Foutjie wat ek normaalweg sou oorsien, word voor hierdie persoon se voete gegooi, en hy word afgedank, geskors, weggejaag.

Ons het aan die begin gesien hoe die Herder ons as verlore skape liefderik bymekaar maak. Ons sien die groot genade wat God ons betoon, en hoe Hy ons keer op keer weer vergewe, ten spyte van al ons tekortkominge, en dikwels selfs moedswillige sondes.

Maar nou vra Hy ook dieselfde van ons. Van die oorvloed van liefde wat Hy oor ons uitstort, vra Hy dat ons ook ‘n bietjie sal teruggee aan ons medemens. Ons bid “En vergeef ons ons skulde,” maar dan vergeet ons dat deel van die gebed gaan: “soos ook ons hulle vergeef wat teenoor ons skuldig staan.” Soos wat die Groot Regter oor ons oordeel, wil Hy ook hê dat ons oor ander oordeel. Wees regverdig. Wees liefdevol. Maar bo alles, wees vergewensgesind!

Gebed:

Here, ek is skuldig voor U wanneer ek dink aan hoeveel keer ek al verkeerd opgetree het teenoor my medemens.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026