Genesis 24:26-59
Die verhaal van hoe Isak sy vrou gekry het, het al die verbeelding aangegryp van baie mense. Jy sal onthou van die vorige dagstukkie toe die slaaf vir Rebekka ontmoet het by die put. En daar val hy neer in aanbidding voor die Here om dankie te sê dat Hy voorsien het, en dat Hy hom reguit gelei het na presies die regte persoon.
Rebekka was natuurlik só opgewonde dat sy reguit terug gehardloop het huistoe om vir haar ma te gaan wys watter wonderlike geskenke hierdie vreemde man vir haar gegee het, ‘n goue neusring en die pragtigste goue armbande. En daar loop sy haar vas in haar broer Laban, ’n man wat beslis ‘n oog gehad het vir alles wat kosbaar is. Daardie naam sal jy sekerlik onthou, want ons maak weer kennis met hom dertig jaar later, wanneer hy vir Jakob so lelik indoen deur hom die verkeerde vrou te gee, en die arme Jakob boonop nog sewe jaar laat werk óók vir haar. Laban se gierige ogies het geskitter toe hy die geskenke sien, en toe hardloop hy so vinnig hy kan na Abraham se slaaf, waar hy steeds by sy kamele by die fontein staan. “Kom saam!” nooi hy die man oorvriendelik uit. “Jy is ‘n man wat deur die Here geseën is!” En hy bied vir die slaaf blyplek aan en voer vir sy kamele, en hy laat die kêrel se voete was, en so ook die res van sy geselskap s’n. Ek dink nie ‘n slaaf was nog óóit so gepamperlang soos hierdie een nie!
As Abraham se slaaf ‘n heerlike gereg aangebied word om te eet, weier hy egter. “Nee,” beduie hy, “ek moet eers my opdrag afhandel!”
En dan begin hy vertel van hulle familielid wat soveel jare gelede daar weg getrek het. Hy vertel van hoe suksesvol ou Abraham geword het, en van al sy vee en sy donkies en kamele. En Laban se oë rek al groter. Oopmond sit hulle en luister na die man wat hulle vertel van hoe ryk die gryse ou Abraham nou éintlik is, van sy streepsakke vol goud en silwer en al sy rykdom. Wanneer hy vertel dat Abraham op honderdjarige ouderdom vir die eerste keer pa geword het, snak die gehoor letterlik na hulle asem. En hy vertel van hoe ‘n toegewyde gelowige die ou man is, en hoe naby hy aan God leef.
Op die tafel staan die geurige gereg en koud word, maar niemand durf eet voordat die man nie eers by die punt gekom het nie. Op eg-Oosterse wyse gaan maak hy sy draaie by Timbaktoe en die Dooie See, en in die fynste detail vertel hy presies wat Abraham se opdrag aan hom was, om vir Isak ‘n vrou te loop soek. En nee, sy mag nie eers ‘n sweempie van Kanaänietiese bloed in haar hê nie. Sy moet ‘n suiwer afstammeling wees van Oupa Nahor se familie.
“Ek moes met ‘n eed beloof dat ek Abraham se opdrag noukeurig sal uitvoer,” beklemtoon hy.
Dit is ‘n aangrypende verhaal wat die man vertel, en almal hang aan sy lippe. Die kos is nou al lankal vergete. Maar hy is steeds nie klaar nie, en toe vertel hy van hoe hy gebid het en die Here gevra het om die regte vrou vir Isak na hom te stuur by die put, en dat sy vir hom water moes aanbied. En daar gebeur dit toe presies nes hy die Here gevra het. In detail skilder hy die prentjie van presies wat daar by die put gebeur het.
Die slaaf kyk Betuel in die oë: “As u dan u verantwoordelikheid as familie teenoor my eienaar wil nakom, sê my dan.” Hy dwing ‘n antwoord af. “En as u weier, sê my dit sodat ek kan omdraai en teruggaan.”
Ou Betuel het net sy kop geskud: “Hierdie ding kom van die Here af! Hoe kan iemand nog daarteen stry?” Laban wou nog teëpraat, en Rebekka se ma wou haar dogter darem nog ‘n week of twee by die huis hou om darem behóórlik totsiens te sê, maar die laaste woord behoort aan Rebekka. Wat sou sy besluit? Sy was so opgewonde dat sy sommer dadelik instem om saam te gaan: “Ja! Ja! ’n Duisend maal Ja!” Daardie aand is aandete eers baie, baie laat genuttig!
Daardie hele nag het Rebekka sékerlik nie ‘n oog toegemaak nie. “Hoe lyk hierdie Isak? Is hy darem ‘n aantreklike man?” Sy probeer ‘n prentjie in haar kop vorm van Isak. “As sy pa, Abraham so ryk is soos wat die slaaf sê, dan moet Isak mos ‘n prins wees!” En so vertrek Rebekka en haar hele gevolg vroeg-vroeg die volgende oggend op die lang pad terug na Kanaän. Sy neem haar grootmaak-vrou saam met haar asook ’n hele string slavinne, ‘n “prinses” moet mos darem goed versorg wees! Rebekka kan haar lag nie hou van opgewondenheid nie. “My prins!” bokspring haar hart. “O, om aan jou voete te kan sit....”
Is jy so opgewonde soos Rebekka? Ek is! Ek en jy is op pad om ons “Prins” te gaan ontmoet. Ja, dalk is daar nog ‘n baie lang pad voor, maar Hy wag alreeds daar vir ons met ope arms. “Hoe lyk Hy?” wonder ons ook, en opgewonde probeer ons ‘n prentjie skilder in ons gedagtes van hoe Jesus werklik lyk. Ja, Hy het ons alreeds vrygekoop, en die geskenke wat Hy ons gegee het vertel so ‘n klein ietsie van wat alles op ons wag. Ek kan nie meer wág om Jesus van aangesig tot aangesig te sien nie! Hoe wonderlik gaan dit nie wees om vir ewig en ewig aan Sy voete te kan sit nie!
Gebed:
Here, ek is opgewonde as ek dink aan die wonderlike dag wanneer ek vir Jesus kan sien. Maranatha! Kom Here Jesus, kom gou!