2 Petrus 1:1,2
Dis die jaar 68nC. In Rome verlekker bloeddorstige Romeine hulleself by die vertoning in die Kolosseum waar Christene wreedaardig lewendig opgevreet word deur leeus. In die volgende vertoning word ‘n groep Christene koelbloedig deur swaargewapende gladiators vermoor. Die jillende skare por die gladiators aan om die weerlose mense nóg wreder te laat sterf!
Christene word genoop om ‘n ondergrondse lewe in Rome te lei uit vrees dat iemand hulle dalk sou herken as Christene. Dis bitter moeilik om jou nuutgevonde geloof in Jesus weg te steek! Jy durf met niemand daaroor praat nie, want dalk kom dit by die verkeerde ore uit en dan staan jy kans om ‘n lewende fakkel te word! Talle Christene is só met teer gesmeer, aan ‘n paal vasgebind en aan die brand gesteek om die strate te verlig vir ‘n spottende skare mense. Om uit te vind of die persoon met wie jy staan en gesels ook ‘n gelowige is, het jy maar so ongemerk met jou kierie in die sand ‘n vissie geteken. Slegs Christene het hierdie teken herken. Die Griekse woord vir “vis” is ICHTHUS, en dit spel die eerste letters vir “Jesus Christus, Seun van God, Verlosser” in Grieks.
Natuurlik is die groot visserman, Petrus ook êrens in die stad. Hy kruip weg vir die Romeine, maar dikwels waag hy sy lewe om die Woord te verkondig, onverskrokke soos ons hom leer ken het deur die jare. Maar nou begin dit hééltemal te gevaarlik raak. Sy vriende het hom al by verskeie geleenthede gewaarsku om liewer te vlug, want Nero soek sy bloed! Nou is dit dalk ‘n baie goeie tyd om te vlug, want die wrede keiser is op reis in Griekeland.
Petrus pak sy karige besittings en begin stap. Waarheen? Weet nie! Net weg uit hierdie verskriklike stad uit. Voor hom doem die stadspoorte op. En vryheid! Skielik skrik hy hom yskoud, want in ‘n visioen sien hy Jesus in die stadspoort staan! Dan loop Jesus hom tegemoet.
Met ‘n bewende stem vra Petrus: “Quo vadis, Domine?” Waar gaan U heen, Here?
“Ek kom na Rome om hier gekruisig te word,” antwoord Jesus.
Skielik het Petrus die antwoord op sy lewe! Nét daar draai hy in sy spore om en loop terug die stad in, gereed om sy dood tegemoet te gaan! Enkele dae later word hy gekruisig, nes sy Meester daar op Golgota. Maar op sy eie versoek word hy onderstebo gekruisig, want hy is dit nie waardig om op dieselfde wyse as die Heilige Jesus gekruisig te word nie.
So lui die Quo Vadis-legende. Of dit waar is, is nie seker nie. Dis egter ‘n oorlewering wat vir die waarheid vertel word, en ‘n baie mooi verhaal wat jou hoendervleis gee!
Petrus het hierdie tweede brief geskryf slegs ‘n kort rukkie voor sy wrede dood. As ons daaraan dink dat hy enige dag sy dood verwag het terwyl hy besig was om hierdie brief te skryf, dan is dit merkwaardig, want dis propvol lewenslus, hoop en liefde. Dit maak nie sin nie! As dit ek was, sou jy my jeremiades en bittere selfbejammering elke dag in my briewe gelees het!
Petrus begin die brief deur homself bekend te stel as Simon Petrus. Waarom dan twee name? As ons gaan delf in sy geskiedenis, sien ons in hom twee persoonlikhede, byna twee verskillende mense! Die eerste is Simon wat ons leer ken het as die oorhaastige, impulsiewe dissipel wat gepraat en gedoen het voordat hy gedink het. Die ander een is die Petrus-rots wat bely het dat Jesus die Seun van God is. Ons onthou die Simon wat in doodsangs vir die diensmeisie gelieg het en heftig ontken het dat hy óóit vir Jesus geken het. Maar dis presies dieselfde Petrus wat later onverskrokke die Evangelie verkondig het, en selfs die Joodse Raad aangevat het hieroor. In hierdie brief verduidelik Petrus sélf vir jou hoe om van ‘n “Simon” na ‘n “Petrus” te verander. Ja, dis wél moontlik, dit kán gebeur!
Daar is egter ‘n kloof tussen my en Petrus. Hy het dan vir Jesus persoonlik geken! Hy was ‘n apostel, en hy het selfs op water geloop! Waar kom ek dan nou in? Ek en jy het presies dieselfde kosbare geloof as Petrus. Geloof was die groot krag in Petrus se lewe, en deur die werk van die Heilige Gees sien ons hoedat hy groei en uitstyg in sy geloof. Ons kan op presies dieselfde manier groei, want dieselfde Heilige Gees gee ons die krag. Natuurlik het ons boonop ook vir Jesus elke dag by ons!
Dan is daar boonop hierdie wonderlike seënwens wat Petrus oor ons uitspreek: “Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees deur julle kennis van God en van Jesus ons Here!” Asemrowend! Dis egter nie maar net ‘n wens of ‘n versugting nie, maar ‘n werklikheid! Die feit is dat hoe meer jy jou inspan deur Bybelstudie, gebed, oordenking en toewyding om God en sy wil te leer ken en uit te leef, hoe meer gaan jou oë oop vir die wonderlike genade van God. Dan sien jy hoedat Hy gedurigdeur besig is in jou lewe. As jy dít begin ervaar, kry jy ook daardie wonderlike vrede, want jy weet dat God in alle omstandighede by jou is, en dat niks, absoluut níks jou van God se liefde kan skei nie!
Gebed:
Dankie Here, vir die wonderlike voorbeeld van Simon Petrus. Maak my asseblief elke oomblik bewus van U teenwoordigheid en krag in my lewe!