Hebreërs Inleiding
Vir baie jare het ons in ‘n groot huis gebly. En toe kom die dag dat ons die huis moes verkoop en in ‘n eenslaapkamer woonstelletjie intrek. In ‘n sekere sin was hierdie ‘n nagmerrie-ervaring, want in die ruim huis met sy vier motorhuise was daar hope spasie om dinge op te gaar, dinge uit ons verre verlede. Ja, nie net my en Mosbolletjie se dinge nie, maar ook ons ouers se ougoed, en selfs Oupagrootjie se goed. Daar was kaste en kaste vol onthoudinge uit toeka se jare, baie daarvan sommer net gemors wat nooit óóit weer gebruik sou kan word nie.
Ek en Mosbolletjie kon ‘n besluit neem oor wat om te hou en wat om weg te gooi of gee. Die spasie waarheen ons trek is baie klein in vergelyking met ons ou huis, dus kon net die noodsaaklikste goed saamgaan. Glo my: dit was ‘n treurmare!
“Hierdie móét ons hou, Liefie!”
“En waar gaan jy hom nogal sit?”
“Nee, ek weet nie, maar ek sal plek maak!”
“Liefie, hierdie ding kan ons darem nie weggooi nie!”
“Maar hy is dan al gekraak?”
“Maar dis ‘n onthou-ding, toe ons nog op ons wittebrood was.....”
Berge goed is weggegee. Die kinderhuis was in die wolke! In die Nelle se huis was daar ernstige huismoles!
Maar toe kom ek en Mosbolletjie eers agter hoe lekker dit is om te leef sonder daardie spul ou bagasie wat ons al vir soveel jare met ons saamgesleep het.
Dit is nie net wanneer jy trek dat jy besluite moet neem oor ou oorbodige bagasie uit die verlede nie. Dikwels moet jy net gaan sit en herbesin of jy ooit tred gehou het met die tyd, en of jy nie dalk besig is om op te gaar nie.
1994 Was so ‘n keerpunt in Suid-Afrika se geskiedenis, en vir baie was dit uiters traumaties. Ons is gedwing om anders, núút te dink, want niks sou hierna meer dieselfde wees nie. Die vraag wat elkeen vir homself moes afvra, was: “Watter van my ou waardes moet ek saamneem?” Vir meeste mense het dit gekos om ál die ou waardes agter te laat en nuut te begin. Vir baie ander was hierdie vernuwing egter ‘n reuse bevryding.
Die eerste lesers van die Hebreër-brief het ook geleef in ‘n snel-veranderende wêreld, en hulle moes aanpas. Hulle wou nog vashou aan die verlede, want soos almal mos weet, is die verlede die “goeie ou tyd,” en die hede die “slegte tye.” Maar is dit werklik? Uitgediende ou tradisies was deel van hulle lewe, en hulle wou aan hierdie wurggreep vasklou. Die skrywer wou egter vir hulle wys dat dit bevrydend is om aan te pas by die nuwe bewegings van God se Gees in hierdie veranderende wêreld.
Jy kan jouself baie gou identifiseer met hierdie mense. Wanneer jy die boek lees, begin jy agterkom hoe moeilik dit vir hulle was om as gelowiges staande te bly te midde van al die chaos wat rondom hulle ontstaan het. Vandag leef ons ook maar in ‘n tyd van chaos. Ons weet nie meer wie om te glo of te vertrou nie. Staatskaping en korrupsie is deel van die lewe!
Baie godsdienstige leiers in die skrywer se tyd, wou met alle geweld terugkeer na die ou dinge, die gerieflike sekerhede van hoe dinge nog al die jare was.
Hebreërs wil egter vir die lesers, en uiteraard ook natuurlik vandag vir jou en my, wys dat die verlede besig is om in nuwe en verrassende moontlikhede te ontwikkel. Neem jy hierdie brief ernstig op, dan mag dit jou dalk net verander van ‘n knorrige, kermende klakous na ‘n idealistiese, hoopvolle en liefdevolle toekomsmens, omdat jy Jesus nuut leer ken.
Net enkele opmerkings oor die brief aan die Hebreërs, voordat ons hom aanpak: As ons die geskrif analiseer, kom ons agter dat dit eintlik gladnie ‘n brief is nie, maar eerder ‘n pastorale preek.
Die skrywer? ‘n Proffie het eendag vir sy studente gevra: “Wie het die Apostel Paulus se brief aan die Hebreërs geskryf?” Eintlik was dit ‘n baie flou grappie, want dit was inderdaad gladnie Paulus nie! Die feit is dat ons net eenvoudig nie weet wie die skrywer was nie. En aan wie was dit gerig? Ook hieroor is niemand werklik seker nie, al sê die titel dat dit aan die Hebreërs geskryf is. Ons kan maar net raai dat dit moontlik gerig was aan gelowiges in Italië. Dit kan beteken dat dit aan die gemeente in Rome geskryf is. Die datum waarop dit geskryf is, is iewers tussen 80 en 90 nC. Ek nooi jou uit om hierdie “preek” saam met my te geniet!
Gebed:
Here, die ou dinge is verby! Help my asseblief om die nuwe wat U my gee met vreugde te aanvaar.