Prostitusie

5 February, 2026
Luister Na Hierdie Dagstukkie Prostitusie

1 Korintiërs 6:12-20

VIDEO | LUISTER

Prostitusie is in Suid-Afrika teen die wet, maar die gereg draai gewoonlik ‘n blinde oog as hulle die dinge sien gebeur. Daar was selfs ‘n groot deel van die parlement wat prostitusie wou wettig. Maar daar is baie ander instansies waar die skeidslyn so dun is, dat dit net sowel as prostitusie gesien kan word, soos ontkleeklubs en dergelike hole.

Prostituse kom egter nie van gister af nie! Ek onthou van jare gelede al hoe die prostitute in Durban by hulle vensters uitgehang het om hulle “ware” te adverteer. Maar dit kom nog báie verder, word beskryf as die oudste beroep in die wêreld. Ons lees regdeur die Bybel daarvan. Selfs Ragab, koning Dawid se Oumagrootjie was een!

In die hawestad Korinte, was prostitusie in Paulus se tyd ‘n baie winsgewende bedryf. Dit was só erg dat daar selfs op een van die muntstukke ‘n afbeelding was van Afrodite, die seksgodin, om soort-van as ‘n advertensie te dien vir hierdie uiters gewilde bedryf. Mooi, jong slavinne was hoog in aanvraag. Hulle is deur hulle eienaars uitverhuur as prostitute. Daar was van die manne verwág dat hulle die vroue van die nag sou besoek. Dit was deel van die lewe!

Net soos wat Paulus hom nie uitgespreek het teen slawerny nie, spreek hy hom ook nie uit teen prostitusie nie. Waarom? Beide was heidense bedrywe waaraan Paulus absoluut niks kon doen nie. Die mense sou hom bloot uitlag as hy sou sê dat dit end moes kry. Paulus het egter geweet wat die gevolge is as jy aan sulke dinge deelneem, en daarom waarsku hy die gelowige manne om daarvan weg te bly! Dit was in daardie jare waarskynlik suiwer ‘n man-ding. Vandag besoek vrouens ook bordele, dus is dít wat Paulus vir die manne sê, vandag nét so ook van toepassing op vrouens!

Die oumense het gesê: “Elke ketter het sy letter”. Dit beteken dat jy jou dade probeer regverdig uit wat in die Bybel staan. Wel, Paulus het hierdie ding goed raakgesien in Korinte. Die manne daar het hulle besoekies aan die prostitute ook probeer regverdig deur Skrifuitsprake. “Alles is my geoorloof”, het hulle gesê. Vandag kan ons dit dalk selfs regverdig uit Galasiërs 5:1, waar daar staan dat Christus ons vrygemaak het. Ons is dus nie meer gebonde aan die wet nie, en om ’n bietjie te sondig is óók maar reg. Dit is egter baie gevaarlik om dinge buite verband te lees. Paulus is dus baie vinnig om by te sê dat nie álles heilsaam is nie…... As jy jou met sulke losbandigheid ophou, dan moet jy weet dat jy jou liggaam bevuil. Ons het alreeds gesê dat jou liggaam die tempel van die Heilige Gees is. Jou liggaam is daar om God mee te verheerlik, en deur dit te misbruik deur onsedelikheid, druis totaal in teen die eintlike doel daarvan. Deur onsedelikheid word jy een met die prostituut, sê Paulus. Hoe kan jy dan in dieselfde asem nog steeds een wees met Jesus? Sy is deel van die bose wêreld, en dus vereenselwig jy jou met die Bose! Jesus kan nie geassosieer of gedeel word met die bose wêreld nie!

Maar Paulus raak ook ‘n ánder punt aan, dat sulke seksuele losbandigheid verslawend raak. As jy eers eenmaal in hierdie web van bose genot vasgevang is, kom jy nie maklik uit daardie taai kloue los nie. Ons praat nie net van prostitusie nie, maar al die ander dinge wat daarmee saamgaan, soos ontkleeklubs, skootdansers, pornografie ens. Jy wil net die hele tyd meer en meer hê, en hierdie goed benewel jou verstand tot só ‘n mate dat jy nie meer ‘n verhouding met God kan hê nie!

Vers 13 word dikwels verkeerd verstaan: “Kos is vir die maag, en die maag vir kos.” Hierdie is eintlik ‘n eufemisme, waar kos dui op seks en die maag dui op die geslagsorgaan. Die Korintiërs het gereken dat dit die gees is wat belangrik is, en dat wat jy met jou liggaam doen, verganklik is en dus onbelangrik. Seks (kos) is bedoel vir die geslagsorgaan (maag), en dit moet so gebruik word, maak nie saak of dit onsedelik is of nie.

As ons mooi dink oor die hele ding van prostitusie, dan is dit eintlik ‘n morsige storie. Die vrou is gewoonlik uitgebuit. Sy is teen haar wil daar. Selfs vandag is sy dikwels ‘n slaaf! Prostitusie is ‘n teelaarde vir gevaarlike siektes, en boonop is dit ‘n wenresep om huwelike te laat verbrokkel. Selfs nog ‘n groter gevaar is dat dit jou geestelike lewe, jou verhouding met God, totaal kan vernietig.

Paulus sluit hierdie hoofstuk af met die woorde: “Of weet julle nie dat julle liggaam, wat julle van God ontvang het, 'n tempel is van die Heilige Gees in julle, en dat julle nie aan julleself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan met julle liggaam. ” Niemand kon dit beter stel nie! Ek is baie duur gekoop - die prysgeld was die kosbare bloed van Jesus. Ek behoort nou aan Hóm, ek is Sý eiendom. Waarom sal ek dan my liggaam besoedel met enige vorm van onsedelikheid? Dit gaan eintlik veel verder, want ek durf ook nie my gedagtes besoedel daardeur nie, want nie alleen my liggaam nie, maar ook my gees behoort aan Hom. Kom ons hou ons ganse lewe, liggaam en gees rein vir Jesus!

Gebed:

Here, ek bely dat ek aan U behoort. Bewaar my daarvan dat ek ooit in enige vorm van onsedelikheid sal verval!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026