Profetiese Perspektief

16 September, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Profetiese Perspektief

Daniël 12:1-4

VIDEO | LUISTER

Wanneer ons die laaste hoofstuk van Daniël begin lees, dan wil dinge nie heeltemal sin maak nie, want die een oomblik verduidelik die engel nog vir Daniël van die onmiddellike geskiedenis, en die volgende oomblik is hy by die Opstandingsdag. Hulle noem dit “Profetiese Perspektief”, en dit is iets wat nogal baie voorkom in die Bybel. Jesus vertel byvoorbeeld in Lukas 21 vir Sy dissipels van die verwoesting van Jerusalem, wat net ‘n paar jaar later sou plaasvind, maar in dieselfde asem praat Hy van die Wederkoms, wat tweeduisend jaar later steeds nie gebeur het nie.

Kom ek probeer verduidelik: As jy in die Drakensberge is, dan sal jy hier naby jou ‘n heuwel sien, en direk agter hom steek jou eindbestemming uit. Jy is sommer opgewonde want jou doel is sommer net hier agter die bultjie! Wanneer jy op die bult kom, sien jy egter tot groot teleurstelling dat jou bestemming nog baie ver is! ‘n Ander voorbeeld sien ons in die sterre. As jy na die bekende sterrebeeld van die Suiderkruis kyk, dan sien jy twee helder sterre reg langs mekaar - die “aanwysers” Alpha- en Beta Centauri. Alpha Centauri is die naaste ster aan die aarde, 4½ ligjare van ons af weg. Sy buurman, Beta Centauri is egter gladnie ‘n buurman nie, want hy is 490 ligjare van ons af!

Wat ons dus op Alpha Centauri sien het reeds 4½ jaar gelede gebeur. Die ster reg langs hom, neem ons egter ‘n volle 490 jaar terug in die verlede! Kyk ons dus na die twee sterre, dan sien ons tegelyk 4½ jaar en 490 jaar in die verlede in. Verstommend, né! Net so is twee bekende sterre in die Orion-groep ook amper-bure: Sirius, die helderste ster is 8,7 ligjare weg, terwyl Rigel wat in een van Orion se “bene” is, 880 ligjare ver is!

Op hierdie selfde wyse “spring” die engel nou as’t ware oor die tydsgrense en sê vir Daniël dat “In daardie tyd” daar ‘n baie groter hulp gaan wees as die ou klein bietjie hulp wat die Makkabeërs gebied het. Dit gaan kom van die engel Michael, Israel se beskermengel. In die eerste plek sien ons hierdie verlossing wat Michael bied as die redding uit die verkriklike hand van Antiochus. Maar terselfdertyd dui dit ook op die voleinding van die wêreld, en die belofte van die ewige lewe. Hier sien ons, terloops, seker die duidelikste voorbeeld van die opstanding uit die dood en die ewige lewe uit die Ou Testament.

Daar is egter iets ontstellend as die engel vertel van die opstanding. In vers 3 sê hy dat daar inderdaad gelowiges sal wees wat sal “skyn soos die glans van die hemelkoepel” maar dan sal daar volgens vers 2 ook die ander wees wat gaan opstaan met ‘n bordjie van “skande en ewige afsku” wat om hulle nekke hang. Daar gaan met ander woorde ‘n skeidingsproses wees, en diegene wat in hulle aardse lewe verstandig was, sal groot glorie ontvang, maar die dwases in die lewe sal vir ewig met ‘n afgryslike lewe van skande beloon word. Ja, hierdie lewe van glorie sal nie maar net tydelik of vir ’n bepaalde tyd wees nie, maar vir ewig. En so ook sal die dwase se straf ook vir ewig wees.

Op wie is hierdie oordeel van toepassing? In die eerste plek gaan dit hier oor die Jode - die Volk van God - dit is immers oor Daniël se volk waaroor die engel die hele tyd gepraat het. As ons egter die profetiese perspektief in ag neem, dan kan ons hierdie selfde beloftes deurtrek na ons vandag. Jesus het immers in Matteus 13:43 dieselfde belofte herhaal, maar dit op alle gelowiges van toepassing gemaak toe Hy gesê het: “Dan sal die regverdiges skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader.”

So kom die openbaring wat die engel vir Daniël gegee het tot ‘n einde. Maar eers gee hy vir Daniël ‘n laaste opdrag: “Hou die woorde geheim en verseël die boekrol tot die einde”. Dit was tipies van apokaliptiese werke van daardie tyd.

Ons het reeds by herhaling gesien dat hierdie hoofstuk wat ons so pas afgehandel het nie net gaan oor God se dade van gramskap nie, maar ook Sy genade, en dat dit nie net vir Daniël se tyd bedoel was nie, maar ook vir ons vandag. Vandag beleef ons die dinge waarvan hy skryf baie intens - dalk nie in dieselfde vorm nie, maar dit is daar. Die kerk word daagliks geskud soos nog nooit tevore nie. Duiwelse geweld en die leuen is op almal se lippe, en dit lyk asof dit die kerk totaal versmoor. Wetteloosheid is die norm. Maar in die agtergrond kan ons alreeds die basuin hoor weerklink - die basuin wat God se genade en verlossing verkondig. Dalk is dit die klank van die basuin van die aardsengel wat die aankoms van die Seun van God aankondig wanneer Hy in heerlikheid terugkeer as Oorwinnaar. As gelowiges is ons ook opgewonde oor daardie groot dag, net soos die Jode in Daniël se tyd opgewonde gewag het op die geboorte van die Messias. Al die tekens was daar. Al die tekens is vandag reeds hier wat die wederkoms van die Leeu van Juda aankondig!

Gebed:

Here, in die verskriklike tye waarin ons vandag leef, waar oorloë oral woed en geweld aan die orde van die dag is, sien ons hartstogtelik uit na U wederkoms!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026