Handelinge 14:1-28
Na hulle vernederende ondervinding in Antiogië, vertrek Paulus en Barnabas ooswaarts na drie stede in die Romeinse provinsie Galasië: Ikonium, Listra en Derbe. Die roetine wat hulle volg, is weereens om eers in die Joodse sinagoges te gaan preek, en daarvandaan verder uit te brei en die Evangelie te verkondig ook aan die heidene. Telkemale is dit die Jode wat die vlieg in die apteker se salf is. In Ikonium sweep die Jode wat nie die Evangelie wou aanvaar nie die heidene op teen Paulus en Barnabas, met die gevolg dat hulle baie teenstand kry. Maar dit skrik hulle nie af nie, en die twee hou ywerig aan om die Woord te verkondig. Hulle hou aan totdat dit op ‘n dag net eenvoudig te warm begin raak, en hulle noodgedwonge voor ‘n woedende, oproerige skare moet vlug vir hulle lewens.
Vandaar vertrek hulle na die stad Listra, waar Paulus ‘n gebreklike man genees. Die skare is in vervoering oor hierdie wonderwerk, en hulle besluit summier dat hierdie twee manne gode is wat aarde toe gekom het. Barnabas is die hoofgod Zeus, en Paulus sy boodskapper Hermes. Hulle babbel in hulle moedertaal, Likaonies, met die gevolg dat die arme twee manne nie verstaan waaroor die groot bohaai gaan nie. Eers wanneer hulle tempel toe gesleep word, en daar begin word om vir hulle offerandes voor te berei, begin hulle besef wat werklik aan die gang is. Dit kos baie mooi verduidelik om die opgewonde skare te oortuig dat hulle maar net doodgewone mense is, en nie gode nie!
Weereens is dit die Jode wat die twee se prediking kom versuur. Hulle het van Antiogië en Ikonium af gekom om die mense van Listra te kom waarsku oor hierdie twee "gevaarlike" manne se “dwaalleringe”, en hulle sweep hulle op teen Paulus en Barnabas. Só goed kwyt hierdie Jode hulle van hulle taak, dat die inwoners van Listra vir Paulus uit die stad sleep en hom met klippe bestook.
En daar lê hy morsdood gestenig! Net Sefanus van ouds. Altans, so dink almal, maar die Here het nog ‘n groot taak vat vir Paulus voorlê, en Sy hand van beskerming rus op die groot sendeling. Terwyl die gelowiges so verslae rondom sy “lyk” staan, staan Paulus voor hulle oë op, en gaan saam met hulle terug in die stad in. Nét die volgende dag vertrek hy en Barnabas egter na die stad Derbe, waar hulle weereens ywerig die Evangelie verkondig. In Derbe kom 'n groot aantal mense tot bekering.
Die tyd het egter nou aangebreek dat hulle moet terugkeer na hulle moedergemeente. Maar eers is daar ‘n baie belangrike taak: hulle moet dóódseker maak dat dit goed gaan met die gemeentes wat hulle so pas gestig het. So loop hulle dan terug op hulle spore deur Listra, Ikonium en Antiogië, en dít ten spyte van al die weerstand wat hulle die afgelope tyd daar ondervind het.
Hierdie twee manne het waarlik hare op hulle tande gehad, om die dood te trotseer deur terug te gaan na plekke waar hulle deur die inwoners met die dood gedreig was. Dit was egter vir hulle baie belangriker om seker te maak dat die nuwe gemeentes behoorlik gevestig en versterk sou word.
Van Antiogië in Pisidië af pak hulle die lang pad aan terug na ‘n baie vriendeliker Antiogië in Sirië waar hulle gemeente is. So ver as wat hulle gaan word die Woord verkondig.
Dit is ‘n opgewonde gemeente wat die twee in Antiogië ontvang, en hulle moet kom vertel van alles wat met hulle gebeur het. Vir Paulus staan een ding soos ‘n paal bo water uit: die Here het ‘n deur oopgemaak vir die heidene, ‘n deur van geloof. Inderdaad is hierdie slegs die begin van baie wonderlike dinge wat later nog sou gebeur.
Lyding is deel van die pad van die Evangelie. Daar word nie maanskyn en rose gewaarborg vir die kerk van Christus hier op aarde nie. Wat Hy wél waarborg is dat Hy by sy kinders sal bly tot aan die héél einde (Mat. 28:20). Hy waarborg ook nie dat alles vlot gaan verloop wanneer die Evangelie verkondig word nie. Die bose skop immers hier viervoet vas, en beveg dit met ál sy mag. Hy waarborg egter dat Hy die gelowige se hand sal vashou en hom sal dra deur al die probleme. Ons gelowiges het immers die héél beste Gids om ons deur die duisternis te lei, die Heilige Gees. Hy sorg dat ons nie sal verdwaal nie, en vir niks hoef bang te wees nie. Paulus en Barnabas het nie vir ‘n oomblik geskroom om terug te gaan, reg in die kake van die “draak” in nie. Hulle het geweet Wie saam met hulle was, en die Here het hulle veilig dwarsdeur dit alles gelei. Vandag is daar talle verhale van mense wat die Woord uitdra in die verskriklikste omstandighede, maar hulle doen dit vol vertroue, want hulle het vir Jesus aan hulle sy.
Ons leer van Paulus en Barnabas, dat wanneer jy erge teenstand kry terwyl jy die Woord verkondig, dan is dit dalk júís omdat jy op die duiwel se tone trap! En het hulle nie sy liddorings seergemaak nie! Dan moet jy nie moedeloos raak nie, maar juis bly wees dat jy kon deel wees van die stryd teen die bose. As hy skree, dan weet jy dat hy seergekry het!
Gebed:
Dankie Here, dat ek vandag die versekering het dat U elke tree met my saamstap, selfs deur swaarkry as gevolg van die Evangelie.