Johannes 18:28-40
Ponteus Pilatus, die Goewerneur oor Judea was die man met die hef in die hand! Hy was bekend daarvoor dat hy ‘n onbuigsame, onbarmhartige man was wat hom dikwels skuldig gemaak het aan geweld en korrupsie. Die volk het hom gehaat, want hy het die lewe vir hulle dikwels baie suur gemaak. Terselfdertyd het hy in vrees geleef dat hy dalk deur die volk by die Keiser aangekla sou word en dat hy só sy pos kon verloor.
O ja, daar was wél ook ‘n koning in Judea, Herodus Antipas, maar dié was maar net ‘n pion van die Romeinse ryk. Boonop het hy ook maar net oor ‘n gedeelte van Israel regeer - die res was deur sy twee broers regeer.
En die Joodse raad? Hulle was óók nie in beheer van hulle eie land nie. Oor interne sake kon hulle wel sélf besluite neem, maar die Romeine was éintlik die baas!
Dit was baie vroeg die Vrydagoggend. Deur die nag het die Joodse Raad vir Jesus skuldig bevind. Maar hulle mag was beperk en die Jesus-saak het te groot geword vir hulle, daarom word Hy na Pilatus geneem om gevonnis te word.
Die Jode het buite Pilatus se paleis saamgedrom - hulle wou nie in hierdie heiden se woning ingaan nie, want dit sou vir hulle ‘n groot dilemma wees. Daardie aand sou hulle die Pasga vier en as hulle hulleself deur die dag verontreinig het, kon hulle nie deel hê aan hierdie belangrike fees nie!
Hoe ironies, dat terwyl die paaslammers daardie Vrydag in die tempel geslag was, sou Jesus, die Lam van God aan die kruis hang. Is dit toeval? Nee, baie beslis nie! God se raadsplan is tot op die sekonde uitgewerk!
By Pilatus se paleis, word Jesus as ‘n misdadiger voorgehou. Weereens kom die verskriklike ironie na vore, want Jesus het juis God se werke kom doen. Alles wat Hy gedoen het, het Hy in die openbaar gedoen sodat almal dit kon sien. En keer op keer reflekteer dít wat Hy doen die wonderbare Lig van God. Geen enklele misdaad kan aan Hom toegeskryf word nie.
Op Pilatus se vraag, waarom hulle dan nie maar sélf vir Jesus kon teregstel nie, beweer hulle dat hulle as Jode nie die reg daartoe gehad het nie. Hier sien ons ook hulle dubbele standaarde, want net ‘n rukkie vantevore wou hulle die einste Jesus stenig. Later word Stefanus dan ook tereggestel deur met klippe doodgegooi te word. Wat ons egter deurentyd in gedagte moet hou, is dat God al vir eeue lank deur Sy profete voorspel het dat Jesus gekruisig sou word. Dit was iets wat slegs die Romeine kon doen. Dus het hierdie Jode onwetend presies gedoen wat God wou hê dat hulle moes doen.
Pilatus wou van Jesus weet of Hy die “Koning van die Jode” was. Die gerugte oor Jesus moes sékerlik Pilatus se ore bereik het. Daar was ‘n baie sterk Messiasverwagting onder die Joodse volk. Hulle het egter ‘n Messias verwag wat die skoene van Sy voorvader, Dawid sou volstaan en regeer as koning oor Israel. Maar eers sou Hy die swaar juk van die Romeine van die onderdrukte volk se seer skouers afgooi om hulle sodoende na vryheid te lei. ‘n Klomp opgewonde mense was onder die indruk dat hulle hierdie Koning gekry het en hulle het Hom triomfantlik in Jerusalem inbegelei. Hulle was egter teleurgestel, want Hy het nie die swaard opgeneem nie.
Wat sou gebeur het as hierdie Messias-koning wél oor die Jode kom regeer het? Vir hoe lank sou hulle vrede hê? Tot die volgende wêreldheerser net eenvoudig weer oor hulle sou loop? Nee, God se reddingsplan het totaal anders gewerk. Die ware Messias se regering sou nie op geweld gebaseer wees nie, maar op liefde. Dit sou ook nie beperk wees tot slegs die Joodse volk nie, maar sou strek oor die ganse wêreld. Sy volgelinge sou ook nie veg met swaarde nie, maar met Waarheid en met die Woord van God. Die belangrikste is egter dat hierdie Koninkryk wat gevestig word, nie op die aarde gebaseer is nie, maar in die hemel.
Pilatus het baie gou agtergekom dat Jesus geen gevaar ingehou het vir die magtige Rome nie. Hy besef verder ook maar ál te goed dat Jesus onskuldig was en desperaat probeer hy om Jesus vry te laat deur ‘n plaasvervanger te laat teregstel, die rower Barabbas. Daar is ‘n ou verhaal wat sê dat Barabbas se eerste naam ook Jesus was en dat Pilatus sou vra: “Watter Jesus moet ek vrylaat - Jesus Barabbas of Jesus van Nasaret?” Die Jode het egter die verkeerde Jesus gekies! Barabbas was vir hulle ‘n held, want al was hy ‘n rower, was hy ‘n bendelid van ‘n vryheidsbeweging, wat ten minste probeer het om hulle van die Romeine te bevry!
As gelowiges moet ons ook baie versigtig wees dat ons nie van Jesus Iemand probeer maak wat Hy nie is nie. So dikwels is Jesus vir ons slegs daar vir noodgevalle. As ons in die moeilikheid is, weet ons baie gou waarheen om te hardloop! Wanneer ons die wind van agter het, vergeet ons gerieflikheidshalwe van Hom. Jesus is ons Koning, te alle tye en in alle omstandighede! Ons héél eerste prioriteit is om Hom te dien met alles wat in ons is. Die vraag is, hoe dien ons Hom? Deur Sy liefdesgebod uit te leef, nie alleen teenoor God nie, maar ook teenoor ons medemens en dan veral teenoor ons medegelowiges.
Gebed:
Here Jesus, U is my Koning. Ek wil U dien met my hele lewe!