Petrus se verraad

10 May, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Petrus se verraad

Johannes 18:12-27

VIDEO * OUDIO

Daardie nag was ‘n nagmerrie wat Petrus liewer hééltemal wil vergeet, maar hy kan nie - dit bly maal in sy kop en in sy deurmekaar hart.

“Waarom het ek nie geluister na my Meester nie? Hy het dit vir my uitgespel, maar ek wou dit nie glo nie! Hoe sou ek, Petrus, die Rots óóit so ‘n verraderlike ding wou doen? Ek probeer so hard vergeet, maar ek bly net oor en oor die dinge wat gebeur het voor my sien afspeel. Absoluut niks maak meer sin nie! En Judas? Die adder! Hoe kon hy? Ja, dalk moes ons die tekens gelees het, maar nogtans - wie sou dit ooit verwag? Toe hy daar tydens hulle ete verdwyn het - wie sou ooit kon droom dat hy op pad was om so ‘n verfoeilike daad te pleeg? Maar Jesus het geweet. ‘Een van julle sal My verraai’, het Hy nog gesê. Ons was almal verslae hieroor. Judas? Judas, die skurk! Maar is ek ooit beter as hy? Ek het dan nét so ‘n verraderlike ding gedoen!

En toe, daardie verskriklike vernedering van die voete-was. As ek maar geweet het wat op my Meester wag, sou ek eerder Sý voete gewas het! Maar dis te laat, dis alles te laat! Hulle het Hom gekruisig en nou lê Hy daar, koud in die graf!”

Rou snikke van droefheid en selfverwyt skeur deur Petrus se borskas. “As ek tog maar net geweet het. Maar Jesus het tóg ál hierdie dinge voorspel. Hy het dit keer op keer duidelik vir ons uitgespel. Hoe kon ons so dwaas wees om ál Sy woorde te hoor en dit maar net by ons verby te laat gaan, oor ons te laat spoel?” Petrus is verward, bedroef, kwaad.

Wéér dink hy terug aan daardie ellendige nag. Die beelde maal deur sy benewelde verstand. “Ek is nog net ‘n klein rukkie by julle”, hoor hy nog Jesus se woorde eggo deur sy gedagtes.

“As ek maar geweet het hoe klein daardie rukkie sou wees! Ag, dit was maar ‘n paar miserabele ure! En toe ek nog vir Hom vra waarheen Hy nou eintlik gaan, was Sy antwoord, dat ek in elk geval nie kon saamgaan nie. Hy het gesê dat ek Hom wél tóg later sou volg. Ek het bly karring dat ek nóú wou saamgaan. Waar was my gedagtes? Het ek nou rêrag gedink dat ek Hom sou kon volg tot by die kruis?”

Skielik omklem ‘n verskriklike vrees Petrus se bang hart: “Sê nou net ..... beplan die Jode dalk om my ook só tereg te stel? Ek was baie haastig om vir Hom uit te blaker dat ek my lewe vir Hom sou aflê! Jesus se antwoord daarop dreig keer op keer om my hart uit my binneste te ruk: ‘Dít verseker Ek jou: Nog voor die haan kraai, sal jy My drie keer verloën!’ Hoe het Hy geweet?”

Van voor af ruk die rou snikke van berou weer deur Petrus se liggaam. Hy is al seer gehuil. Daar kan nie meer trane kom nie. Verwyt op verwyt ruk deur hom. Hy wil nie aan die res dink nie, maar soos ‘n droom wat oor en oor en oor speel, sien hy weer elke klein detail: die oormag soldate wat daar in die donker tuin vir Jesus kom soek het; Judas se strak gesig in die fakkellig, toe hy Jesus aan hulle uitgewys het; Jesus, sy Meester, wat soos ‘n Lam ter slagting maar net gedweë Homself aan hulle oorgee. Petrus het in ‘n magtelose woedebui probeer om die honderde soldate aan te vat met sy swaard -‘n arme slaaf moes boet toe sy oor afgekap is - amper lagwekkend!

Verslae het hy en ‘n paar van die ander die spul op ‘n afstand gevolg. Uiteindelik het net twee van hulle die moed gehad om tot by die hoëpriester se huis agterna te loop. “Kom ons gaan kyk wat hulle met ons Meester aanvang,” het Johannes hom aangepor. Eers wou Petrus nie - hy was bang. Baie, báie bang! Sê nou net hulle word herken? En dan word sy ergste vrese waar. ‘n Simpele diensmeisie! Sy het daar by die deur gestaan, en toe Petrus nog bewend wou insluip, blaker sy dit uit: “Jy is tog nie ook een van hierdie Man se dissipels nie?”

Die toneeltjie speel oor en oor voor hom af. “Natúúrlik hét ek dit ontken! Wat kon ek anders doen? Moes ek dan vir haar gesê het: ‘O ja, ek is Petrus, die leier van daardie Jesus se dissipels?’ Hulle sou my mos nét daar en dan doodgemaak het! Ag, hoe kan ek my lafhartige optrede nog probeer regverdig? Jesus se woorde eggo oor en oor in my kop, my hele wese: ‘Nog voor die haan kraai, sal jy My drie keer verloën, Petrus!’ Ek wil gek word!”

Dit was ‘n bitter koue nag. Petrus was dankbaar vir die vuur wat die manne daar in die binnehof aanmekaar geslaan het. Versigtig het hy nadergestaan om die koue uit sy liggaam te probeer uitdryf. Hy kon voel hoe die hitte sy lyf warm maak, maar sy hart het steeds soos ‘n blok ys gevoel. Skielik voel dit asof iemand hom met ‘n voorhamer slaan: “Jy is tog nie ook een van Sy dissipels nie?” Sommer so uit die bloute, het die vraag gekom en ‘n tweede keer moes Petrus dit ontken en later ‘n derde keer. En toe, daardie aaklige geluid van die haan.

“Daardie vervloekte haan wat kraai, so ál asof hy my finaal veroordeel het! Ek het sommer blindweg die nag ingehardloop en gehuil en gehuil. Hoe kón ek my Meester so skaamteloos verloën het? En dít terwyl die hoëpriester besig was om Hom te verhoor?”

Die Sabbat is verby. Iewers kraai ‘n haan om te sê dat die nuwe dag, Sondag aangebreek het. Sal daar iewers in hierdie dag ‘n sprankie hoop wees? Petrus neem ‘n besluit: “Sodra dit lig word, gaan ek na die graf toe om my laaste eerbetoon aan my Meester te gaan gee. Ek sal Hom gaan smeek om vergifnis. Dalk, nét dalk, gaan hierdie dag vir my nuwe hoop bring......”

Gebed:

Here, dankie dat Petrus se hoop nie beskaam het nie, en dat ons vandag kan jubel: “U het waarlik opgestaan!”

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026