Petrus se Verraad

2 December, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Petrus se Verraad

Lukas 22:54-62

VIDEO OUDIO

Wanneer Jesus in die tuin gevange geneem word, hardloop al Sy dissipels weg, volgens Matteus se beskrywing van die gebeure (Mat 26:56). Hulle het Jesus nét daar en dan in die steek gelaat. Een van hulle het egter die moed gehad om op ‘n afstand agter Jesus se vervolgers aan te stap - hy kon nou darem nie sy Meester sommer so versaak nie. Ons wil so maklik vir Petrus veroordeel oor die feit dat hy Jesus verloën het, maar ons vergeet van die ander dissipels wat almal totaal afwesig was. Hulle het net aan hulleself gedink en gevlug toe hulle Meester hulle die nodigste gehad het. Het selfs Jesus se dissipels nou teen Hom gedraai?

Die toneel verskuif nou na die binnehof van die hoëpriester se huis. Vanaand slaap die mense nie soos gewoonlik nie - daar is baie aksie in hierdie ruim binnehof want daardie Man wat die kerk so baie hoofbrekens besorg het is mos gevang, en Hy wag vir die verhoor om te begin. Almal is nuuskierig om te sien wat gebeur, dus is daar van slaap vannag geen sprake nie. Dit is ysig koud. In die middel van die binnehof brand ‘n vuurtjie, en die manne koek daar saam vir ‘n bietjie warmte en geselligheid. Petrus skuif ongemerk tussen die manne in, hopende dat niemand hom sal herken nie. Eenkant, in die verste hoek van die binnehof is ‘n paar manne besig met Jesus.

n Jong diensmeisie loop verby die manne om die vuur. Skielik steek sy vas - daardie vreemdeling tussen die klomp, sy het hom voorheen al êrens gesien, maar waar? Haar nuuskierigheid word geprikkel, en sy bekyk hom behóórlik, en dan onthou sy! “Haai, maar jy is mos een van die kêrels wat altyd so saam met hierdie Jesus was!”

Petrus probeer desperaat sy kleed laer oor sy oë trek. “Nee juffrou, nee, jy maak ‘n fout, ek ken Hom nie!” Sy keel trek toe, hy stotter as hy praat en sy hart klop in sy keel. As hulle hom darem nou hier moet herken is sy doppie geklink! Die meisie draai om en skud haar kop, séker dat sy hierdie man saam met die sogenaamde Profeet gesien het!

Petrus se gedagtes is in ‘n warboel. Hy verstaan nie mooi wat besig is om te gebeur nie. Alles wat so mooi was die afgelope drie jaar, is besig om te verkrummel! Is dit dan nou die einde van die pad?

Haai jy! Jy is mos ook een van hierdie Man se aanhangers!” Die man druk sy vinger amper teen Petrus se neus.

Petrus skrik hom yskoud “Man, ek is nie! Jy verwar my met iemand anders!

Harmansdrup stadig sleep die tyd verby. Dit is die langste nag óóit in Petrus se lewe. Hy worstel met sy emosies. Dáár aan die anderkant van die binnehof kan hy sien hoedat hulle met sy Meester die spot dryf en Hom verneder. Gevoellose spul skurke! Petrus kry seer diep in sy hart, maar hy durf nie nader staan om Hom te help nie. Hoe verskriklik eensaam moet sy Meester nie wees nie!

Petrus voel die mense se oë op hom brand. Hy kan sien hoe hulle vir mekaar fluister terwyl hulle in sy rigting kyk. “Wat!?” wil hy nog sê, maar dan wys een van die manne ‘n vinger in sy gesig: “Jy is mos ‘n Galileër! Sowaar, jy wás saam met daardie Man!”

Is nie!” Petrus is nou woedend! “Ek weet nie waarvan jy praat nie!”

En dan kraai die haan.

Jesus draai om en kyk reguit vir Petrus. Sy sagte oë sê: “Petrus, Ek bid vir jou!”

Angsbevange spring Petrus op en hardloop snikkend die pikdonker nag in met trane wat oor sy wange stroom. “Wat het ek gedoen? Wat het ek gedoen!”

Daardie verskriklike nag sou Petrus nooit, óóit in sy lewe kon vergeet nie - die nag van sy verraad teen sy geliefde Meester!

Maar die Here is genadig en almagtig, en dieselfde Petrus wat so verskriklik hard geval het word skaars ‘n maand later uit hierdie pikdonker put van ellende opgehef tot die hoogste hoogtes om as onverskrokke leier van die nuwe kerk uit te troon. Toe hy op sy eie krag staatgemaak het, was dit ‘n katastrofe! Toe hy homself egter aan die Heilige Gees oorgegee het, was sy Bron van krag onuitputlik, eindeloos!

Dalk sit jy vandag in daardie put waarin Petrus beland het en jy weet nie meer herwaarts of derwaarts nie. Dalk lyk dit vir jou na die einde van jou geloofspad en jy wil ook soos Petrus die nag inhardloop, huilend. Dan het ek vir jou baie goeie nuus: dieselfde Heilige Gees wat vir Petrus later so opgehef het, wag ook vir jou om jouself aan Sy sorg oor te gee. Dieselfde Heilige Gees het vanoggend toe ek vir Hom sê: “Here, ek weet nie wat om te skryf nie!” my gedagtes kom vul met hierdie boodskap aan jou.

Ja, Hy is in jou, en Hy hunker daarna om die bestuur van jou wankelrige lewe oor te neem. Maar Hy sal dit slegs doen as jy vir Hom die stuurwiel gee. Doen dit! Jy sal nooit, óóit spyt wees nie!

Gebed:

Here, neem my totale lewe oor, en gebruik dit tot U eer.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Vir Oulaas, Timoteus
27 July, 2026
Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026