Petrus se Testament

19 May, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Petrus se Testament

2 Petrus 1:1-7

VIDEO | OUDIO

Iewers in die bose stad Babilon (Rome) sit Petrus in 'n donker kamertjie met 'n pen in die hand. Dit is nou reeds drie jaar sedert hy sy eerste brief aan die gemeentes in die verdrukking geskryf het. Dit het hoogtyd geword om weer te skryf. Maar hierdie slag sal hy die brief 'n bietjie anders benader. Dit is net 'n kwessie van tyd voordat Nero hom hier uitsnuffel waar hy wegkruip. En dan is dit die einde.

Daarom besluit Petrus om sy testament te skryf aan die gemeentes. Nee, geld het hy nie om vir hulle na te laat nie, maar hy het 'n baie ryk geestelike nalatenskap wat hy vir hulle kan gee. Hy het immers van Jesus die kosbaarste en allergrootste gawes as geskenk ontvang. Waarom sal hy dit dan nou nie aangee aan die ander gelowiges nie?

“Van Simeon Petrus, 'n dienskneg en apostel van Jesus Christus,” begin hy skryf.

Ja, Jesus het hom geleer hoe om waarlik 'n dienskneg te wees. Sal hy ooit die dag vergeet toe Jesus die skottel geneem het en by sy voete gaan sit het. Petrus het hom daardie dag boeglam geskrik, want dit is mos 'n slaaf se werk om voete te was! G'n gerespekteerde Rabbi sou so 'n ding doen nie! Maar Jesus wou vir hulle wys wat dit werklik beteken om 'n apostel te wees: dit beteken terselfdertyd dat jy 'n dienskneg/slaaf moet wees en bereid moet wees om die minste te wees en selfs dinge te doen wat niemand anders wil doen nie.

Petrus het eers geweier dat Jesus sy voete was, maar nadat Jesus verduidelik het, moes hy sy kop in skaamte laat sak. Dit was eers baie later wat die volle werklikheid van Jesus se handeling tot hom deurgedring het. Om leiding te kan neem moet jy in opregtheid ander mense dien. So volg jy nie alleen vir Jesus na op die regte manier nie, maar op hierdie manier wen jy ook siele vir Jesus.

Maar hierdie is nie die enigste ding wat Petrus vir die gemeentes in sy testament kan nalaat nie. Daar is 'n ryke skat van beloftes wat Hy van God ontvang het wat hy ook vir hulle kan deurgee.

Die eerste en grootste van hulle is om Jesus te ken. Ja, inderdaad het Petrus vir Jesus as Mens geken, maar hier gaan dit soveel verder, want eintlik het hy Hom eers waarlik leer ken nadat Jesus na die hemel vertrek het.

Wat beteken dit om Jesus te ken? Almal ken vir Paulus en Barnabas en selfs vir Nero (nou nie dat jy hom graag wil ken nie!) Maar dit is slegs 'n verstand-kennis. Om iemand waarlik te ken, beteken dat jy 'n lewende verhouding met die persoon moet hê. Om Jesus te ken, beteken ook 'n lewende verhouding met Hom, waar jy Hom met absoluut alles vertrou. As jy Hom só ken, gaan jy gedurig met Hom gesels, jou diepste hartsgeheime aan Hom toevertrou, Hom dien omdat jy Hom liefhet en enigiets vir Hom doen. En dit is nie maar 'n eenrigting ding nie, want Hy doen nog baie meer vir jou as wat jy óóit kan droom om vir Hom te doen.

Hoe dien jy Hom? Vlug weg van al daardie wêreldse begeertes af, en kry deel aan die Goddelike natuur. Werp alles in die stryd om jou geloof te versterk en te verryk. Maak dit 'n strewe in jou lewe om deugsaamheid, kennis van God (en die Bybel), selfbeheersing, volharding, Godsvrug en veral liefde te verkry en uit te leef. Liefde onder mekaar as gelowiges is van die uiterste belang, maar ook liefde aan ander mense wat nog nie die geloof in Jesus het nie.

“Nou ja, waar begin ek?” wonder Petrus, “hoe skryf ek hierdie dinge sodat hulle dit gaan verstaan, maar belangriker nog, dit prakties uitleef?”

“Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien.” skryf hy.

Al die misdaad - moord, roof, verkragtings, korrupsie, oorloë ensovoorts is vandag genoeg om enige ongelowige te laat ineenkrimp van wanhoop. Dan is daar nog die dinge waaroor ons geen beheer het nie - die klimaatsverandering wat dreig om die aarde te verswelg. Die oorstromings, orkane, droogtes, besoedeling, sinkgate wat die aarde insluk - dit is nag daar buite!

In Petrus se tyd was dit veel erger. Petrus se laaste woorde was egter nie vol smart, pyn, angs of selfs verlorenheid wanneer hy wag op sy grusame marteldood nie. Dit was propvol hoop, verwagting en blydskap. Wat ‘n wonderlike inspirasie is hierdie brief vandag nog steeds om elkeen van ons deur die donkerste tye te dra!

Dit is dus nie nodig vir my en jou om in die donker voort te ploeter wanneer die laste van die lewe ondraaglik begin raak nie. As die dood jou in die oë staar, of as alles net eenvoudig te veel raak vir jou - wéét dan dat alles hier op aarde net baie tydelik en verganklik is en dat die wonderbare lig van die splinternuwe lewe saam met Jesus reeds helder skyn en vir ons wink.

Wees dus verstandig: volg Petrus se voorbeeld na, en wees 'n dienaar. En doen wat die Bybel ons leer totdat die Lig vir die wêreld terugkom op die wolke!

Gebed:

Dankie vir hierdie bemoedigende boodskap van Petrus, Here. Hou my asseblief op U regte pad!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026