Petrus en die Engel

26 October, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie Petrus en die Engel

Handelinge 12:1-25

Dit was Aprilmaand. Paasfees was pas verby, en die Jode was besig om die fees van ongesuurde brode te vier, ‘n week waartydens hulle slegs ongesuurde brood mag eet. Onder die gelowiges in Jerusalem het daar groot kommer geheers: Herodus Aprippa I was op die oorlogspad teen die Christene. Jakobus het so pas onder Herodus se swaard deurgeloop en met sy lewe betaal. Wie is volgende? Dalk nog ‘n Apostel? En dan daag die soldate op: dit is niemand anders nie as Petrus vir wie hulle soek. Die gelowiges is asvaal geskrik! Gaan dieselfde lot hulle charismatiese leier tref as vir Jakobus? Haastig word hy gegroet terwyl die soldate hom wegsleep. Nie minder nie as sestien soldate is opgekommandeer om Petrus te kom vang - Herodus het gehoor hoe Petrus die vorige keer wat hy gevang is vir die Hoëpriester se wagte ore aangesit het. Nee, dit sal nie met hom, Herodus gebeur nie! Hierdie keer sal hy sorg dat dit onmoontlik is vir die man om weer te ontsnap.

En so, terwyl Petrus weggelei word, begin die gelowiges vir hom bid. “Here, bewaar asseblief vir Petrus! Ons het hom so nodig, hy doen soveel vir die uitbreiding van U Koninkryk!” Van slaap is daar nie eers sprake nie, want hier is nou ‘n noodsituasie. Ernstige gebede styg daardie nag op tot die hemeltroon, vanaf ‘n baie bekommerde gemeente.

Intussen word Petrus hardhandig die tronk ingesleep. Die soldate word die Leviete voorgelees. Daar mag géén kanse gewaag word met hierdie “uiters gevaarlike” krimineel nie. “Ek het gehoor dat hy sommer nét só uit sy boeie kan glip!”

Nooit! Wel, hier gaan hy baie beslis nie uitkom nie!” Die man lag vulgêr as hy vir Petrus in twéé stelle kettings vasknoop. G’n mens kan ooit uit hierdie spinnerak van staal ontsnap nie! Net om dood, dóód seker te maak, besluit die soldate dat daar te alle tye twee van hulle by Petrus sal wees. As hy dit ooit gaan regkry om in hierdie kettings te slaap, dan slaap hy tussen twee soldate!

Daardie aand kry Petrus dit tóg reg om aan die slaap te raak, ten spyte van sy bittere ongemak. Weerskante van hom lê sy wagte rustig, want Petrus is mos veilig tussen hulle. Die tronksel is gegrendel en gesluit, en buite staan nog twee wagte, net vir ingeval. Skielik word Petrus wakker. Voor hom staan ‘n hemelse wese, ‘n engel. “Hoe salig!” dink Petrus. “Wat ‘n wonderlike droom!” In sy “droom” val die kraaines van kettings sommer vanself van hom af. Petrus trek saggies sy klere aan, sodat die soldate nie dalk wakker word nie. In ‘n waas swaai die swaar gegrendelde tronkdeur voor hom oop. Hy word deur die engel uitgelei na buite. Die deurwag se aandag is elders, en stilletjies sluip Petrus en sy engel verby hom sonder dat hy eers iets agterkom. Petrus skrik hom nugter-wakker as hy ‘n tweede wag sien. Skielik besef hy dat hierdie nie ‘n droom is nie, maar die harde werklikheid. Maar ook die tweede wag kom nie agter dat daar twee persone is wat by hom verbysluip nie. Dan is hulle buite in die straat, en Petrus kan asemhaal. Hy wil nog vir die engel dankie sê, maar skielik is hy net weg - verdwyn soos mis voor die son!

Eers nóú dring die werklikheid tot Petrus deur. Haastig draf hy na Maria se huis, dis nou Johannes Markus se ma. Dit is die plek waar die gelowiges gewoonlik bymekaar kom. Hy hamer aan die deur: “Maak oop, dis ekke!”

Wie’s daar?” wil Rodé, die diensmeisie weet.

Dis ek, Petrus! Maak oop!”

Maar dit kan mos nie wees nie!” dink sy, en sonder om oop te maak hardloop sy opgewonde na die biddende gemeente, terwyl die arme Petrus steeds buite staan en klop.

Petrus is vry!” babbel sy dit uit, “Petrus is by die deur!”

Stil, Rodé! Kan jy nie sien dat ons besig is om te bid nie? Dis Petrus se gees - sy engel.”

Nee, is nie!” hou sy vol. “Petrus is by die deur, kom kyk sélf!”

Die vreugde was groot om Petrus lewend en vry te sien! Nie almal het egter oorgeloop van blydskap nie. Herodus wou slange vang! Hy was woedend oor die “onbeholpenheid” van sy soldate, en hulle moes baie duur daarvoor betaal. Hulle het met hulle lewens geboet vir daardie onverskoonbare misstap. En Herodus? Selfvoldaan het hy op sy troon gesit en regeer met ‘n gebalde vuis. Sy bewonderaars het hom vereer as ‘n god, en Herodus Agrippa I het hierdie aanbidding ingedrink. Maar hy het nie met die ware God rekening gehou nie. ‘n Afgryslike einde het op hom gewag: hy is lewend deur wurms verteer …….

Ten spyte van Herodus se wrede vervolging, het die kerk geblom en uitgebrei.

God se liefde is oneindig groot, en nét so groot is Sy wonderlike genade. Hy maak bemoeienis met ‘n armsalige Petrus in die tronk. Selfs ook met my en jou! Een ding moet ons egter onthou, en dit is dat jy nie met God mors nie, soos Agrippa gedoen het. Al is Hy bereid om na ons vlak neer te daal, is en bly Hy steeds die Koning van alle konings, en die Almagtige, Heerser oor die heelal.

Gebed:

Dankie, Here, dat ek ‘n groot en almagtige God kan aanbid, die enigste ware God, vir Wie absoluut niks onmoontlik is nie!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026