Pergamum

20 May, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Pergamum

Openbaring 2:12-17

Johannes se boodskap aan Pergamum stuit jou teen die bors, want baie gou kom jy agter dat dit in daardie stad gegons het van Satansbedrywighede. Pergamum het oorgenoeg mooi dinge gehad om mee te kon spog, soos ‘n asemrowende biblioteek met 200’000 bronne, ‘n setel vir regspraak, opvoedings instellings, en natuurlik talle asemrowende tempels vir ‘n verskeidenheid van gode. Dit was die hoofstad van Klein-Asië. Maar dit was “die troon van Satan!” Dáár het dit behóórlik gekook en geborrel van sonde!

Wat het in Pergamum aangegaan wat haar die titel van die “troon van Satan” kon gee? Daar het allerhande soorte onheilighede in die pragtige stad aangegaan. Sy was pragtig van buite, maar binne was dit vrot!

Pergamum het gespog met die “genesingswonder” van die Asklepion, die tempel vir Asklepios, die god van gesondmaking. Mense het van heinde en verre gekom om deur hierdie afgod genees te word van alle soorte kwale. Hierdie grieselige tempel het gewemel van slange. Om genees te kon word, moes jy ‘n nag in hierdie tempel deurbring. As die slange aan jou sou raak, sou jy gesond word, so het hulle geglo. Die slang was simbool van Asklepios, maar terselfdertyd ook die simbool van Satan.

Daar was ook die tempel van Zeus. Hy was in die Griekse mitologie die oppergod, die heerser van die berg Olimpus en die god van die lug en donderweer. In hierdie tempel het die offerrook ter ere van Zeus heeldag lank opgeborrel van die reuse altaar af.

Pergamum was egter ook die hoofsetel van keiserverering in Asië. Daar was dan ook ‘n tempel opgerig wat spesiaal gewy was aan die staat Rome, en dáár is die keiser vereer as ‘n god. Die Christen-gelowiges van Pergamum was op Satanistiese wyse vervolg, en dit was direk die gevolg van keiseraanbidding.

In die middel van al hierdie Satansdinge staan daar ‘n Christen-gemeente, ‘n gemeente wat getrou gebly het aan die opgestane Jesus Christus. Wanneer die Here met hulle praat deur hierdie brief, sê Hy vir hulle hoe bly Hy is dat hulle steeds aan hulle geloof bly vashou, ten spyte van al die gruwel wat rondom hulle aangaan. Selfs toe medegelowiges rondom hulle doodgemaak is vir hulle geloof, het hulle steeds staande gebly en bly vashou aan die Here.

Alles is egter nie heeltemal pluis in die gemeente nie, en daar is sommige gemeentelede wat hulle skuldig maak aan die meedoen in die heidense offerandes en wat onsedelik leef. Johannes skryf van die gelowiges wat hulle daaraan skuldig gemaak het dat hulle afgodsoffervleis eet.

Nou moet ons versigtig wees om nie die baba met die badwater uit te gooi nie. As jy lees wat Paulus skryf in 1 Kor. 8 en 11 oor die eet van afgodsoffervleis, dan kom jy agter dat dit hier gladnie gaan oor die uiterlike nie, maar dat dit iets baie dieper raak. Paulus verduidelik baie mooi dat daar niks mee verkeerd is om die vleis van afgodsoffers te eet nie, want dit kan jou nie skade aandoen nie - nie fisies nie en ook nie geestelik nie. Ons moet mooi besef, dat om offervleis te eet, nie as sodanig sonde is nie, maar as jy jou daardeur laat assosieer met die offerpraktyk, dan heul jy met die duiwel! Maar daar is ook ’n ander aspek betrokke, want as jy by ongelowiges eet, en hulle is bewus daarvan dat dit ’n afgodsoffer is, dan kan jy dalk die boodskap aan hulle oordra dat afgodery maar reg is, as jy saam die offermaal geniet.

Wanneer ons in vers 14 lees van mense wat die leer van Bileam aanhang, dan moet ons dit simbolies verstaan. Bileam was ‘n Moabietiese profeet wat die heidense koning Balak beïnvloed het om sy volk se vroue te gebruik om die manne van Israel seksueel te verlei. Dit het gruwelike sedelike verval onder Israel tot gevolg gehad. En daar was gelowiges in hierdie gemeente wat hulle ook skuldig gemaak het aan soortgelyke praktyke!

Jesus roep hierdie mense op tot bekering. Dit is nog nie te laat nie. Enigiets wat te doene het met afgodery, moet hulle dadelik los!

Vir diegene wat staande bly te midde van al die goddeloosheid, en sodoende die oorwinning behaal, is daar die spierwit klippie, die “toegangskaartjie” tot die wonderlike bruilofsmaal. En op hierdie klippie is daar ’n splinternuwe naam gegraveer. Dit is waarskynlik die wonderlike Naam van die opgestane, verheerlikte Jesus Christus! Ek en jy, die gelowiges, is Jesus se “witklippiemense” in hierdie bose wêreld! Die klippie wat ons om die nek het, is die blydskap en liefde en vrede wat Jesus ons gee, wat uit ons gesigte straal.

Gebed:

Dankie Here, vir daardie “wit klippie” wat U ook vir my gegee het. Ek bid vir soveel mense, en veral jongmense, wat steeds vasgevang is in die duiwel se strikke van drank, dwelms en losbandigheid - duisende jongmense wat na ons strande stroom om hulle te kom oorgee aan hulle begeertes. Here, bring asseblief ‘n nuwe bewustheid van Jesus se reddingskrag, veral onder ons land se jongmense.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026