Handelinge 18:7-11; Galasiërs 1:1-3
Paulus en sy twee medewerkers se moraal is maar baie laag, want niks wat hulle doen lewer resultate nie. En dit is veral die feit dat die Jode hulle boodskap verwerp, wat hulle so hartseer maak.
Maar net wanneer hulle begin dink dat alles puur verniet was, kom 'n Griek met die naam Titius Justus na hulle, en hy bied aan dat hulle sy huis kan gebruik as bymekaarkomplek vir die gelowiges. Sy huis is egter reg langs die sinagoge. En nou ontstaan die interessante situasie dat die "kerk" en die sinagoge reg langs mekaar is! En spoedig is hier 'n lewenskragtige huiskerk.
Maar dis nie ál nie, die hoof van die sinagoge, Krispus kom tot geloof in Jesus, en sy hele huisgesin volg in sy spore. Jy kan jou natuurlik indink hoe woedend die Jode hieroor was! Wie sou óóit kon droom dat die hoof van die sinagoge 'n Christen sou word.
Dalk moet ons eers hier 'n netelige sakie regstel: as ons praat van die "kerk" langs die sinagoge, dan is dit eintlik 'n totale wanpersepsie. Die kerk is nie 'n gebou nie, die gelowiges is die kerk! Ons kan só maklik in die slaggat trap om groot geld te spandeer aan onderhoud en mooimaak van ons kerkgebou, en dan die éintlike kerk, die mense af te skeep. Ons durf ook nie die kerkgebou as “heilig” sien nie, dit is slegs 'n bymekaarkomplek vir die gelowiges.
Na Krispus se bekering, begin dinge gebeur, en talle mense in Korinte kom tot geloof. En skielik sit hierdie manne met hope werk op hulle hande. Die gemeente groei met rasse skrede, sodat Paulus-hulle besluit dat hulle nie maar net 'n week of twee hier sal kan bly nie. Terwyl die mense ontvanklik is vir die boodskap, moet hulle so lank moontlik hier vertoef. En uiteindelik word die weke maande, en die kerk groei en bars uit sy nate!
Een nag skrik Paulus wakker. Helder en duidelik hoor hy die Stem van die Here in 'n visioen: "Moenie bang wees nie, maar hou aan praat en moenie stilbly nie! Ek is immers met jou en niemand sal 'n vinger op jou lê om jou kwaad aan te doen nie, want in hierdie stad is daar baie mense wat aan My behoort."
Paulus is só opgewonde oor hierdie wonderlike visioen, dat hy nie kan wág om dit met sy vriende te deel nie. Uiteindelik, na baie angs en pyniging en selfs die tronk, is daar nou oorvloedige vrug op hulle arbeid. En boonop het die Here dit vir hom bevestig. "Ons bly nét hier totdat die Here ons elders heen stuur!" Uiteindelik bly Paulus ‘n volle 18 maande daar!
Vrugbare maande gaan verby, en Paulus begin wonder hoe dit gaan met die gemeentes wat hulle oor die jare gestig het. Dit is veral die gemeentes in Galasië wat hom bekommer. Kom hulle ooit die mas op? Hy het gerugte gehoor van mense wat daar dwaalleringe verkondig. Hy begin wonder of hy nie dalk 'n besoek moet bring aan die gemeentes nie? Maar dit sou maande se reis beteken, en die werk hou hom hier só vas dat hy gladnie 'n geleentheid vorentoe kan insien nie. Hy deel sy hunkering en sy kommer met die ander twee. En dan besluit hy: "As ek hulle nie kan besoek nie, dan skryf ek vir hulle 'n brief!" Almal stem saam.
Vir dae tob Paulus oor hierdie brief: “Hoe begin ek só ‘n brief? En wat skryf ek vir hulle?” Maar daar is ook 'n ander probleem: sy oë. Van daardie dag toe hy die ontmoeting met Jesus gehad het op pad na Damaskus, sukkel hy om behoorlik te kan sien, en dit maak dit vir hom baie moeilik om te skryf.
Die manne kom baie gou met 'n oplossing: "Ons kry 'n sekretaris om die skryfwerk te doen. Hier is sékerlik iemand in die gemeente wat maar té gewillig sal wees om vir jou 'n briefie te skryf!"
Nou het Paulus meer rustigheid oor die brief en hy begin beplan wat hy alles vir die gemeentes wil sê. Daar is só baie dinge wat hy met hulle wil deel! Dis egter nie so maklik nie want hy wil die brief stuur vir ál die gemeentes in Antiogië, Ikonium, Listre en Derbe en hierdie gemeentes is só uiteenlopend! Dalk moet hy vir hulle sê dat jy nie jou verlossing moet verdien, soos sommige dwaalleraars daar vir die mense probeer wysmaak nie. God gee dit gratis vir ons uit genade alleen, nét omdat Hy dit wíl gee!
Paulus glimlag: "Beteken dit dat jy dan maar kan doen wat jy wil? Dis mos wat sommige mense dink! Nee, beslis nie, ons hoef nou wel nie krampagtig goeie dinge te doen om by God se genade uit te kom nie, want God gee dit vir ons. Maar dan moet ons uit dankbaarheid lewe soos God dit wil hê. En die wonderlike is dat God die Heilige Gees gee aan elkeen wat glo, om hom hiermee te help. Ja, dít is die gedagte wat ek by hulle moet tuisbring!"
'n Paar dae later sit Paulus se sekretaris gereed met sy gansveer en ink. "Skryf,” begin hy dikteer. “Van Paulus, 'n apostel, en van al die broers wat by my is, aan die gemeentes in Galasië." Maar dan bedink Paulus hom: “Nee wag eers, ons moet iets daar invoeg. Ek moet mos sê waarom ek myself 'n apostel noem.........”
En só begin 'n totale nuwe bediening, die eerste van talle briewe, wat nie net gelees sal word deur die gemeentes aan wie dit geadresseer is nie, maar deur baie miljoene mense oor die volgende 2000 jaar!
Gebed:
Dankie vir die wonderlike brieweskat van Paulus, Here. Dankie dat hy deur die inspirasie van die Heilige Gees soveel miljoene mense se harte kon aanraak!