2 Timoteus 1-4
Paulus het een groot begeerte, om vir oulaas nog 'n brief te skryf aan sy geliefde “seun” Timoteus. Hy weet dat dit soms maar baie swaar gaan met die jong man wat in moeilike omstandighede die leraar moet wees in die gemeente in Efese.
Paulus pleit by die tronkbewaarder om hom asseblieftog toe te laat om iemand in te kry wat hom kan help om 'n brief te skryf. En wonder bo wonder stem die man in.
'n Paar dae later daag die sekretaris op met sy perkament, ink en skerpgemaakte gansveer, en hy neem stelling in langs Paulus. Hy skrik as hy sien hoe oud en vervalle Paulus geword het in hierdie kort tyd. Maar ten spyte daarvan is daar steeds die sprankel in Paulus se oë, en plooi die glimlag steeds om sy mondhoeke.
Hy begin skryf: “Aan Timoteus, my geliefde seun. Genade, barmhartigheid en vrede van God die Vader en Christus Jesus ons Here.”
Onwillekeurig dink Paulus aan die laaste keer toe hy vir Timoteus gesien het, daar toe hulle in Efese afskeid geneem het. Die trane het onbeskaamd oor Timoteus se wange gestroom. Het hy dalk toe al geweet dat dit die laaste keer sou wees wat hulle mekaar sou sien?
“Ek onthou jou afskeidstrane en wil jou baie graag weer sien. Dit sal vir my 'n groot vreugde wees,” skryf Paulus, al weet hy dat dit nie sal gebeur nie. “Ek dink ook aan jou opregte geloof wat al in jou ouma Loïs en jou ma Eunice was, en wat, daarvan is ek oortuig, ook in jou is.”
Die sekretaris kyk Paulus vraend aan, waar hy ingedagte staan en dink aan hoe hy dit vir Timoteus moet stel. Paulus se innige gebed is dat daardie vuur in Timoteus nooit sal blus nie. Ja, inderdaad moet 'n mens maar gedurigdeur die vuur aanblaas sodat die krag van die Heilige Gees ons kan vul met liefde en selfbeheersing.
“Jy moenie skaam wees om die boodskap van die Here te verkondig nie, en moet jou asseblief ook nooit vir my skaam omdat ek in die tronk is vir die Here nie.”
Paulus se gedagtes begin dwaal. “Hoe het ek hier in die tronk beland?” kom die gedagte skielik by hom op. En dan kry hy ‘n knop op die krop van sy maag as hy terugdink aan die talle gelowiges wat hy persoonlik tronk toe gesleep het in sy jong dae. Hoe moes daardie arme mense gevoel het? En almal van hulle was onskuldig! Al wat hulle wou doen, was om Jesus te volg! Is dit dalk God se straf vir daardie dade van hom, wat veroorsaak het dat hy nou hier vasgekluister sit en wag op sy dood? Hy skud baie gou die gedagte af – Jesus het hom mos gered en totaal vergewe!
Hy kry ‘n glimlag op sy gesig as hy weer terugdink aan daardie dag op pad na Damaskus, die dag toe Jesus uit die hemel aan hom verskyn het. Daardie dag het daar ‘n totale ommekeer in sy lewe plaasgevind. So ywerig soos hy was om die kerk wortel en tak uit te roei, so ywerig het hy skielik geword om júís daardie selfde kerk te laat lewe!
O ja, dit was nie maklik nie! Vir lank het almal hom verwerp en vermy. Was dit nie vir dierbare mense soos Barnabas wat die Here op sy pad gestuur het nie, dan was die saak vir hom verlore. Hoe wonderlik is die Here nie! Só groot Sy liefde en genade! Na al die verskriklike dinge wat hy teen die kerk gedoen het, oorlaai die Here hom met tonne liefde.
En toe kom daardie wonderlike dag in Antiogië, toe sy grootste droom waar geword het. Die gemeente stuur hom en sy goeie vriend Barnabas om die evangelie na die heidennasies uit te dra! Paulus was in die wolke! Van dorp na dorp en stad na stad gaan hulle en verkondig wyd en syd van God se groot liefde en genade.
Kyk, maanskyn en rose was dit beslis nie, want hulle is uitgejou, geslaan, weggejaag, in die tronk gestop en selfs gestenig! Maar deur dit alles het God se wonderbare liefde al groter en sterker in Paulus gegroei. En daardie selfde liefde het hy uitbasuin so ver as hy gegaan het.
Hy glimlag as hy dink aan daardie pynlike dag toe hy en dierbare ou Silas stukkend geslaan in kettings in die tronk in Filippi gelê het. Hy het van die ondraaglike pyn probeer vergeet, en toe begin hy maar te sing. En Silas val in saam met hom. Hoe later, hoe kwater, totdat hulle vrolike lofliedere deur die donker gange van die tronk weergalm het. Groot was sy vreugde toe die rowwe, heidense tronkbewaarder daardie selfde aand nog sy hart vir Jesus gegee het!
En ‘n paar jaar later, toe hy in die tronk in Rome sit, en alles finaal verlore lyk, toe kom die liefdevolle Vader en gee hom die wonderlike geleentheid om steeds die gemeentes te bedien deur vir hulle briewe te skryf. Hy móés net vir almal vertel van God se groot liefde. Maar ook hoe jy sélf daardie liefde weer kan en móét uitleef. “Al praat ek mense- en engeletale, maar ek het nie liefde nie, dan maak ek net geraas!” het hy eenmaal geskryf. Liefde! Dit is waaroor alles gaan!
“Die tyd van my dood is voor die deur,” skryf hy vir Timoteus, “maar ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou. Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God.”
Vir oulaas, voordat hy die brief afsluit, spreek hy die versugting uit dat Timoteus tog asseblief gou vir hom sal kom kuier.
“Paulus, jou tyd het gekom!” hoor hy die soldaat wat hom na sy verhoor moet neem.
“Dankie Here,” bid Paulus, “dankie vir U groot liefde en genade!”
Volgens oorlewering is Paulus onthoof onder die regering van die wrede keiser Nero in Mei van die jaar 68 nC. Skaars 'n maand later, op 9 Junie van dieselfde jaar pleeg Nero selfmoord.
Paulus het 'n vol lewe gehad en 'n ryk nalatenskap agtergelaat vir baie miljoene mense.
Gebed:
Here, dankie vir die wonderlike lewe van Paulus. Dankie vir die groot liefde wat hy so prakties uitgeleef en verkondig het, vir alles wat Hy ons geleer het en die wonderlike voorbeeld wat hy gestel het.