Paasnaweek

23 April, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Paasnaweek

Lukas 23

"En hoe was jou Paasnaweek?" Die vraag laat my diep dink. Dit was nogal 'n naweek wat ek nie gou sal vergeet nie.

Alles het begin toe die swaar, swart wolke Donderdagmiddag begin saamkoek het. Daar ver oor die Glendale-hoogte het die weerligte aanhoudend gespeel. Ek besluit om 'n vleisie te braai vir aandete, en ek gooi 'n paar handevol houtskool op die braai. Weldra begin die koletjies gloei, maar ek hou die swaar wolke bekommerd dop. Bo my begin dit maal en kook, en ek begin wonder of die braai so 'n goeie idee was. Nogtans gooi ek die vleisie op die rooster en hoop dat die weer gaan hou.

As die vleisie so amper reg is, plof 'n paar groot druppels op my kop neer. Terwyl ek die gaar vleisie afhaal, maak die sluise van die hemel oop. Rats spring ek in die huis in en gooi die deur agter my toe.

Binne minute bars die storm los. Weerlig blits oral om ons en rukwinde pluk aan ons huisie, terwyl die reën genadeloos neerstort in emmersvol. Die volgende oomblik is ons in duister gehul. Die weerlig het die kragdrade iewers uitgeslaan. Met kloppende harte sit ons in die donker en luister na die verskriklike geweld van die storm.

Genadiglik het die storm deur die nag bedaar, maar die pikdonker het voortgeduur. Vrydagoggend, Goeie Vrydag staan ek met 'n beklemmende gevoel om my hart op. Die rit kerktoe van die plaas af is nie maklik nie. Oral lê takke oor die pad gewaai, en ons ry deur diep poele water. In Ballito aangekom sien ek sommer dadelik dat daar probleme is. Die robotte is almal buite werking. In Ballito het die storm verwoesting gesaai. Bome is ontwortel en baie geboue is erg beskadig.

Vol verwagting hou ons voor die kerkgebou stil. Maar weereens word ek dadelik getref deur ‘n andersheid. Dit is asof daar 'n somber, beklemmende atmosfeer heers. Ek word nie begroet deur die gewone musiek wat uit die gebou borrel die. Daar heers 'n doodse stilte. Dan sien ek dat die kerk gehul is in 'n neerdrukkende halfskemer. Die gewone opgewonde, vrolike groetery is nie daar nie. Almal staan rond met stroewe gesigte, asof hulle verwag dat daar iets verskriklik gaan gebeur.

Die vorige aand se verwoestende storm het ook ons kerkgebou sonder krag gelaat, sonder ligte, klankstelsel en video projektors. Ds. Alwyn is bekommerd, hy hoop sy stem gaan hou. Gaan almal hom ooit kan hoor? Een van die lidmate, Daleen vertel bekommerd in 'n heserige fluisterstem dat sy 'n voordrag moet doen, en haar stem is so sag dat niemand haar ooit gaan hoor nie.

Wanneer die Erediens begin, weerklink Ds. Alwyn se stem egter helder en duidelik tot in die agterste gestoeltes. En wanneer Daleen met haar sagte stem haar voordrag begin, is dit 'n sterk stem wat klokhelder deur die ganse kerkgebou weerklink. Sy vertel van Jesus se gemartelde tog teen die steiltes van die Via Dolorosa op. Dramaties skilder sy die optog, en diep aangeraak stroom die trane oor my wange.

Die nagmaal wat volg, is eweneens vir my 'n diep emosionele belewenis. Jesus se liggaam is vir mý gebreek. Ek sien Hom gepynig daar hang aan die kruis. Vir my! Bebloed. Verneder. Stukkend, sodat ek kan lewe! En Sy bloed het daar gevloei. Stukkend geslaan met die wrede gésel. Bloed het gestroom oor Sy gesig waar die giftige dorings van Sy spot-kroon diep in Sy vleis ingesteek het. Bloed uit die gate in Sy hande en voete, waar die swaar spykers in gevreet het. Sy bloed. Vir my!

In doodse stilte het ons uit die kerk gestap. Die Dominee het ons nie eers geseën nie! Leeg! Leeg was my gemoed.

Eers laat Vrydagmiddag het die krag weer aangekom. Dit was nie 'n lekker Vrydag nie!

En toe kom Sondag. Daar was 'n opgewondenheid in my toe ek Sondagoggend opstaan. By die kerk aangekom, is alles só anders, so skoon en nuut! Wit doeke versier die kruis voor in die kerk, en hemelse musiek vul die gebou. En ek weet: alles was die moeite werd, want my Jesus het waarlik opgestaan. Hy leef! Hy is nie meer in die graf nie. Hy is die opgestane Here!

Jy vra my: "Hoe was jou Paasnaweek?"

Ek sal dit vir niks op aarde wil verruil nie! My Paasnaweek was verrykend, en ek kyk weer met nuwe oë na die wêreld. Alles maak nou weer vir my soveel meer sin!

As ek terugdink, dan sien ek vandag die simboliek van alles wat gebeur het die naweek. Daardie verskriklike storm Donderdagaand voor die naweek, is vir my so simbolies van die verskriklike storm waardeur Jesus gegaan het daardie Donderdagaand.

Gebed:

Here, dankie vir Goeie Vrydag, dat U ten volle vir my skuld betaal het en my volledige vryspraak gegee het.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026